Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.   Hier’s haar sesde inskrywing:

Ek is in my element in enige groente-en-vrugtemark en koop soms te veel! Ek is seker die meeste van julle ken daai gevoel as jy by die huis kom en wonder hoe op aarde jy alles gaan opgebruik voor dit sleg raak.

Wel, deesdae maak ek op een slag heerlike smoothies, verpak en vries dit. So is daar altyd ’n smoothie gereed as ek op ’n drafstap is! Ek smul daagliks aan ’n smoothie en dit dien vir my as natuurlike medisyne.

Ek is altyd oop vir vars maniere van doen en soek natuurlike produkte om my leefstyl gesond te hou. Ek deel graag vandag twee smoothie-resepte wat jou immuunsisteem versterk en jou die hupstoot gee wat jy benodig om aan die gang te bly.

2 smoothies vir die winter

Beet-en-pynappel-smoothie

Ja, ek weet, dit klink soos ’n onwaarskynlike kombinasie, maar ek sal nie verbaas wees as dit gou jou nuwe gunsteling word nie! Beet speel die hoofrol in die smoothie. Dit gee nie net die pragtige dieprooi kleur en lieflike geur aan die smoothie nie, maar hou ook die bloeddruk laag, beveg inflammasie en sit woema in jou stap. Dit is ’n gesonde detoks en natuurlik ryk aan vesel. En vir die tropiese element, sit pynappel en klapperwater by!

Hier is die bestanddele: 

  • 1/2 k beet (rou en vars uit die grond)
  • 1/2 k vars pynappel
  • 1/2 k baba-spinasieblare 
  • 1/2 k suiwer klapperwater
  • 10 ml vars gemmer, gerasper
  • 1 k ys

Meng net alles saam en geniet.

Bessie-en-gemmer-smoothie

Hier is nou ’n smoothie vol antioksidante. Bessies laat jou vel gloei en help jou fokus. Die gemmer reguleer jou spysvertering en beveg inflammasie. Laastens bevat die chiasaad gesonde vette en ander voedingstowwe. 

Hier is die bestanddele: 

  • 1 1/2 k bevrore gemengde bessies
  • 1 k baba-spinasieblare
  • 15 ml chiasaad
  • 10 ml vars gemmer
  • 1 k water

Meng en geniet.

Dit is geen geheim dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves nie. Voed jou liggaam slim en jy kan nie anders as om goed te voel oor jouself nie. Wees bevonk!

Ilzé Saunders