Hy het by Hennie en Doré* aangekom "as ’n gebedsverhoring, ’n geskenk uit die hemel toegedraai in ’n heuningbruin velletjie,met ’n oopbekglimlag wat jou hart laat smelt”.

Vandag is klein Johan al ’n stewige eenjarige peuter,maar Hennie en Doré onthou steeds daardie eerste oomblikke en insigte, asof dit gister was.

Doré vertel

Daar was baie oomblikke op ons drie se pad . . . verrassend, leersaam, aangrypend. Maar die heel snaaksste was toe die babainkopies gedoen word. En ek vra die verkoopsdame of die relaxing laventelsjampoe bedoel is om ’n babatjie se hare te relax, want sien, verduidelik ek, ek en my man gaan oor ’n paar dae ’n 10 weke oue bruin babaseuntjie aanneem.
‘Nee,mevrou,’ het sy met deernis maar ’n definitiewe vonkel in die oog geantwoord: ‘Daai is om mevrou se bybietjie te relax.’

Só het ’n pad begin van baie meer vrae as antwoorde, en nie net wat die mannetjie se hare betref nie!

Die aandoenlikste oomblik was toe twee bejaarde vroue my man met die kleinding op die arm sien, in hul spore stop om te kloek en een ’n spontane opmerking oor sy bruin velletjie maak.

 

‘Ons is net ’n doodgewone pappa en mamma met harte wat swel oor ’n doodgewone

klein laaitie’ - Doré

 

Toe ons van sy aanneming verduidelik, skiet haar oë vol trane en sy gryp my man om die nek en gee hom ’n lang, stywe druk, want ‘I am also an adopted child and you are doing something amazing!’

En so loop die twee vroue ingehaak bymekaar, voortkloekend verder.

Ons baba is deel van ’n gemeenskap van aangenome kinders, en wat ’n positiewe verteenwoordiger het ons nie raakgeloop nie!

Die verrassendste oomblik was in ’n winkelhysbak waar ’n vrou, ná die eerste versigtige vrae, vertel van haar broer wat ’n swart dogtertjie aangeneem het en so swaarkry oor die oupas en oumas se reaksie.

Ek het byna nie ’n woord gehoor nie – dit was vir my net te vreemd dat hierdie vrou sommer so praat van ’n anderskleurige kind in haar familie. Sy lyk net te normaal, te onpretensieus, te Afrikaans. Dit was soos ’n buitedie-liggaam-ervaring. Sy lyk dan so gewoon soos . . . wel, ja, soos ek – ek met die bruin seuntjie in die arms. Vir ons is hy nie ’n statement nie en ons is nie twee volksvreemde hardekoejawels met iets om te bewys nie.

Ons is net ’n doodgewone pappa en mamma met harte wat swel oor ’n doodgewone klein laaitie . . . My ma,’n plattelandse oud-onderwyseres, VLV-lid en dekade lange SARIE-intekenaar, het met haar wonderlike nugterheid gewaarsku dat ons nie iets ‘revolusionêrs’ kan doen en dan voorskriftelik kan wees oor mense se reaksie nie.

Wat ons doen, is nie hoofstroom nie en ons moet daarom ruimte laat vir ’n wye spektrum van reaksies. Ons gaan ons humorsin nodig hê en sal hierdie saak oopkop moet benader. Dit was baie, baie goeie raad. Ons moes leer dat ons Afrikaanse mense dikwels ons goeie gesindheid deur grappies oordra, en met genoeg platjies in ons familie en vriendekring word ons nie gespaar nie.

Daar is niks swaarmoedigs of besonder ernstigs aan dit wat ons aangepak het nie en daarom geen rede om katvoet rond te loop nie. Ons beskou dit as ons verantwoordelikheid om goedige grappies, al is hulle soms onbeholpe, reg te interpreteer, die goeie bedoeling daaragter raak te lees en met ’n ligte gemoed daarop te reageer.

Ons moes ook leer dat mense gedurig na jou kyk. Ek kyk immers self na bont gesinne en my kykery was nog altyd positief en, ja, miskien nuuskierig.

 

Ek kyk immers self na bont gesinne en my kykery was nog altyd positief en, ja, miskien nuuskierig." - Doré

 

Daarom kan ek aanvaar sommige mense se kyke is positief, ander s’n nuuskierig, party s’n dalk neutraal.

En sommige negatief.

Party wonder sekerlik of die ander ouer dalk ’n swart persoon is. Die feit dat iemand kyk, beteken bloot dit – hy of sy kyk.

Ons moes voorts leer om mense se dom oomblikke te hanteer.

’n Vrou in ’n dokter se wagkamer het eenkeer opgemerk dat ’n mens seker maar moet vat wat jy kan kry as jy nie jou eie kinders kan hê nie. Sy het sonder skroom aanvaar dat ’n anderskleurige baba ’n tweede beste opsie is. Dis allermins die geval!

Baie mense het ’n spesifieke voorkeur vir so ’n baba, hetsy vanweë godsdienstige, morele of menslike redes. Vir ander is kleur nie so belangrik nie.

Ek en my man het altyd net gebid dat ons pad moet kruis met dié van daardie babatjie wat Hy reeds in 1994 belowe het – ons het geen ander voorwaardes gestel nie. Ons het Hom vertrou om die legkaart te laat pas en is daarvan oortuig dat hierdie spesifieke seuntjie van altyd af bedoel is om die derde lid van ons driemanskap te wees.

Daar is niks tweederangs aan ons situasie nie. As ons tot dusver 1 000 spontaan positiewe reaksies gekry het, het ons dalk een hand vol negatiewe reaksies gesien.

Dis meestal net vinnige oogkontak, ’n gefluister agter die hand en ’n afkeurende trek om die mond. Ek sê op sulke tye vir myself dat daardie persoon waarskynlik ’n probleem het met die konsep van transkulturele aanneming en dis hulle goeie reg.

Hulle kan onmoontlik ’n probleem met ons en ons babatjie hê – hulle ken ons dan nie eens nie!

Almal wat vir ons saak maak, gun hierdie kindjie vir ons. As daardie persoon die geleentheid sou kry om ons storie te ken, sal hul knieë lam raak oor die wonderwerk. Dis hul verlies dat dit by hulle verbygaan. Ek kan so ’n persoon egter nie verkwalik nie – hoeveel keer het ek nie al my neus opgetrek oor dinge waarvan ek absoluut niks weet nie!

Op wie is ons die trotsste?

Beslis die 65-plussers in ons familie, beginnende by die vier oupas en oumas wat moontlik in ’n posisie geplaas is waar hulle sekere basiskonsepte moes heroorweeg, en dalk nuwe keuses moes maak.

Ons weet dit kon nie vir almal ewe maklik gewees het nie.

Wat ons egter nou van hulle en die ander lede van albei families ervaar, is nie net louwarm ordentlikheid nie, maar opregte betrokkenheid, aktiewe belangstelling en onvoorwaardelike liefde.

Type or paste here.

Ons kindjie het, net soos sy niggies en nefies, ’n plekkie in die spogboek, pryk op die peanut gallery teen die slaapkamermuur en daar word vir hom gebid deur die vroue in sy ouma se Bybelstudiegroep.

En ons twee word deur die mense wat ons liefhet, die ongekompliseerde en unplugged vreugde van ouerskap gegun. Die mees algemene ding wat ons hoor, is hoe gelukkig hy is om ons as ouers te hê. Feit is egter dat ons die dankbares is. Ons het die aanneming geïnisieer en ons knieë deurgebid. Ons seuntjie

 

Dis ons volwassenes wat die laventelsjampoe nodig het om te relax!" - Doré

 is ’n onbewuste spelertjie in hierdie hele sage.

Ons kan hom net leer dat God bedoel het hy moet deel van ons gesinnetjie wees, soos ons belowe het tydens sy doop. As enigeen van ons drie dankbaarheid ervaar, kan dit net wees teenoor ons liefdevolle en alwyse Vader. Op die ou end bevind ek en sy pa onsself in presies dieselfde bootjie as die meeste nuwe ouers – onnosel en onervare, met ’n baba wat presies weet hoe om ’n baba te wees!

Hy is so ’n onskuldige en ontspanne ou kindjie, onaangeraak deur die stereotipes, vooroordele en onverdraagsaamheid van die grootmenswêreld. Dit lyk my dis ons volwassenes wat die laventelsjampoe nodig het om te relax!”

*Hennie, Doré en Johan se van word verswyg om hul privaatheid te beskerm.