My fiets het sommer vanself uit die kattebak begin klim met my aankoms by die wegspringpunt vir 2009 se Argus. Dit het gelyk soos 'n slagveld - plakkate, vlae en blou opslaan-toilette het die wêreld vol gelê, almal slagoffers van die suidooster.

Wegspringtye was met meer as 'n uur vertraag, en ons moes noodgewonge te voet begin. Soos die koerante se voorblaaie bewys het, het diegene wat op hul fiets probeer bly het, 'n duur en pynlike prys betaal.

'n Ent verder kon ons uiteindelik begin "fietsry"! Ek het vasgeklou aan my handvatsels, myself so aerodinamies moontlik gemaak, en net gebid niemand waai in my vas nie. Om my het fietsryers mekaar, hooibale en die teer getref. Waterbottels, piesangs, gesmelte sjokolade en fiets-parte het die pad vol gelê. Nog nie eers 2 km van die Argus voltooi nie, het mense begin omdraai.

Ek het probeer om agter (veral die groter) fietsryers te skuil sodat hulle die wind bietjie kon breek, maar dit het net mooi niks gehelp nie. Die stormsterk suidooster van tot 65 km/h het ons van voor, regs van voor en links van voor getref. Nie regtig van agter soos wat ek gehoop het nie. Bultop, gelykpaaie en selfs afdraand moes ons trap en baklei teen die wind. Dit wou net nie ophou waai nie.

Die frons op my gesig het dieper en dieper gekeep soos die ure verby gegaan het. My 2009-Argus was 'n 109 km lange martel-sessie. Die seesand het in ons oë gewaai en ons lywe ge-exfoliate, ambulanse het verbygejaag, en fietsryers het begin tou opgooi en huil.

Ek het gehoop ek sien vir Matt Damon - dit sou my sekerlik ekstra woema gegee het - maar helaas nie. Net nóg blou opslaan-toilette wat omgewaai het, piesangs, gesmelte sjokolade en gewonde fietsryers.

Ure later het ek myself uiteindelik op die kruin van Suikerbossie bevind. My padkos was verslind, my bene wou afval en ek wou nou net by die huis kom. Die volgende oomblik spring beamptes met 'n lang tou voor ons in. "Die Argus is gestop, te veel mense waai van hul fiets af en verongeluk, 'n fiets het nou-net van die berg afgewaai het." Ja, afgewaai! Die moeë fietsryers het begin brom en kla, ons was kwaad, BAIE KWAAD. Dis die ergste Argus nog, ons is 18 km van die eindpunt af en hulle wil die Argus stop?!

Gelukkig lig hulle toe die tou ná 15 minute - "diegene wat braaf genoeg is, doen dit op eie risiko". Ek klim toe op my fietsie, en toe baie weer vinnig af. Die wind was net te sterk, ons moes stoot. Sesuur die aand kom ek uiteindelik by die wenstreep aan, bedek met swart olie, stof, sand en wie weet wat nog. Niemand glimlag of lyk juis bly nie (dalk was hulle net te moeg), net verlig hulle het die moeilikste Argus tot dusver oorleef.

http://www.capetowndailyphoto.com