Baie aande, wanneer die dag reeds verby is, gaan kyk Hanri Gerischer hoe haar dogtertjie slaap. Dan raak sy net stil daar in die donker langs haar kind se bedjie en sê dankie. Net dankie.

Die aansteekbord in die kinderkamer in hul huis op Stellenbosch vertel so iets van die pad wat Hanri en Anton gestap het met hul eersteling: briewe van gelukwensinge en bemoediging, sonars, kaartjies, ’n stringetjie papierhartjies, foto’tjies, aandenkings, en tussen dit alles – die geel hospitaalkaart met die afdruk van twee voetjies, onmoontlik klein – geneem op dag twee in die Panorama-Mediclinic se neonatale intensiewe eenheid in Bellville, toe Leah Elizabeth Gerischer 975 g geweeg het.

Klein Leah

Dis moeilik om dit te glo as jy vandag na die lewendige blondekoppie kyk wat so behendig met ma se iPad by haar voete speel terwyl ons gesels. Op 3 Maart word sy twee jaar oud – ’n gelukkige kind met ’n besonderse karakter, ’n vegtertjie, beskryf Hanri haar. “Sy is ’n wonderwerk, dis so eenvoudig soos dit.”

Want nadat Leah op 26 weke gebore is – op die agtersitplek van oupa Johan Gerber se motor iewers op die N2 naby Kaapstad, het ’n intense vier maande in die hospitaal gevolg waarin byna alles wat met ’n vroeggebore baba kon verkeerd loop, met haar gebeur het: respiratoriese noodsindroom wat gelei het tot dae lank op asemhalingsmasjiene, breinbloeding wat vererger het tot graad 4 (die hoogste), en geperforeerde dermpies wat ’n groot kolostomieoperasie op dag 12 beteken het. Plus infeksie, geelsug en bloedarmoede waarvoor sy heelparty bloedoortappings gekry het.

Maar Hanri glo alles het gebeur soos dit moes.

“Ek wou nog altyd met alles in my ’n baba hê, en toe kry ek ’n baie spesiale een, wat nie kon wag om hierdie lewe van ons aan te pak nie. As ek terugdink, sal ek alles weer net so doen as ek moet. Ek het dit nog nooit beskou as ’n straf nie, maar ’n pad wat ons moes stap. Dit was ’n moeilike reis, maar dit het ons lewens verryk en net weer die rigting aangewys. Dit was miskien nie die tipiese sprokiesverhaal nie, maar ’n besonderse een van hoop, geloof, vriendskap en liefde ...

En die grootste geskenk is Leah.

“Partykeer as sy baie moeg is, en ek by haar sit voor sy gaan slaap, sit sy haar voorkoppie teen myne. Dan sê ek saggies vir haar: ‘Mamma is so lief vir jou’. En dan glimlag sy en sit haar koppie op my skouer...Wat kan nou beter wees as dit?”

“Leah was elf dae oud toe ek haar die eerste keer kon vashou. Voor dit kon ons net na haar kyk in haar oop broeikas in die neonatale intensiewe sorgeenheid [NICU] en versigtig om haar handjie of voetjie vat. Maar op daardie dag, toe ek die brose lyfie die eerste keer teen myne gevoel het, het ek hierdie ongelooflike gevoel van liefde ervaar. Ek het regtig soos haar ma gevoel.

As ek haar so vasgehou het, het ek net gedink: dit is mos nie moontlik dat sy dit nie gaan maak nie...

Eintlik het ek van die begin af eenvoudig geglo dat Leah oukei sal wees. Dis seker verkeerd om so te dink, want hoe kan ek glo niks gaan met mý kind gebeur nie? Maar ek dink dit was my beskermingsmeganisme en manier van oorleef. Want die alternatief was net te ondenkbaar en seer.

Leah

Daar was soveel seëninge op ons pad. Soos dat ek by my ouers [ Johan en Amanda] in hul motor was toe Leah gebore is. Dit was my afdag om ’n bietjie te rus en gepamperlang te word. Ons was op pad terug van ’n winkelsentrum toe my water skielik breek, soos ’n damwal wat bars. Die volgende oomblik het Leah net gekom...my pa het in die ry sy T-hemp uitgetrek en my ma het haar toegedraai en vasgehou, nog met die naelstring aan my vas. My ma moes agtertoe draai en het haar heelpad so vasgehou, haar arms potblou vasgedruk tussen die twee sitplekke. Alles was soos in ’n waas, asof dit met iemand anders gebeur. Ek onthou ek het net geskree: ‘Pappa, ry versigtig!’ Die motors wou nie padgee nie, toe jaag hy op die middelmannetjie na die Vergelegen-Mediclinic op Somerset-Wes, 20 minute verder.

My pa het kaal bolyf by Ongevalle ingehardloop en uitgeroep: ‘Vroeë kraam, vroeë kraam!’ Ek glimlag nou as ek dink hoe die twee ambulansmanne rustig aangestap kom ...en hul gesigte toe hulle gekonfronteer word met die prentjie in die motor. Toe gebeur dinge vinnig!

Aanvanklik het alles effens onwerklik gevoel. Jy word immers groot met die rooskleurige prentjie van trou, swanger raak, ’n baba kry en drie dae later huis toe om te bond. Jy oorweeg nie eers dat daar ’n ander manier is waarop dit kan gebeur nie.

Dit is dus moeilik vir my. Ek kan nou nog nie regtig my emosies in daardie eerste dae verwoord nie, dalk was ek in ’n skoktoestand. Kans vir bond met Leah was daar nie. Ek het toe nog nie eens haar gesiggie gesien nie. Ek en Anton, wat intussen daar aangejaag gekom het, kon net vinnig na Leah in haar broeikassie kyk voor die helikopter haar na Panorama geneem het, sonder ons. Sy is daar na die gespesialiseerde neonatale intensiewe sorgeenheid.

Hulle sê die eerste 24 uur is die wittebroodstyd vir ’n prem-baba (vroeggebore baba), alles gaan dan so goed soos dit kan. Daarna begin dinge gebeur. In ons eerste week in Panorama het ek besef hoe waar dit is.

Ons dokter was baie reguit oor wat alles verkeerd kan gaan. Dis nie wat ons in daardie stadium wou hoor nie. Dit het ons eers ontstel, maar later het ons besef hy is om ons onthalwe realisties. Sy was baie, baie siek, baie kritiek. Hy het dit duidelik gemaak dat daar vorentoe baie probleme kan wees.

Die eerste aand het Anton gou gaan inloer terwyl ek geslaap het, maar hulle het hom dadelik weggewys – vier susters en ’n dokter was om haar bedjie, besig om haar by te bring nadat sy ophou asemhaal het. Die een suster het later gesê hulle het haar by die poorte van die hemel gaan haal.

Ons het vinnig geleer met prem-babas is dit een stappie vorentoe, en drie stappies terug. Twee stappies vorentoe, vier stappies terug. Dit was ’n groot uitdaging. Jy moet veg om sterk te bly as sy haar soveelste terugslag beleef. En dan weer die verligting as dit beter gaan. Op en af.

Ons grootste en mees konstante kwelling was haar breinbloeding. Eintlik weet ons nou nog nie watter invloed dit moontlik op haar lewe kan hê nie. Maar sy het tot dusver nog elke keer die dokter verkeerd bewys.

Een van my ander vrese was dat sy sou ophou asemhaal. Jy kan nie help om heeltyd die monitor dop te hou nie. Maar al hierdie uitdagings kon ons hanteer met die engele om ons: die susters van die neonatale eenheid. Hulle het my regop gehou. Jou kind word soos hul eie. Ek het soveel by hulle geleer. Ek het besef ek moet opgewonde wees oor haar, maar hoe kon ek as hulle môre vir ons kan sê sy is nie meer daar nie? Maar suster Maria het gesê ons moet dit vier en bubbly drink ...want sy lewe! En of dit nou twee dae of honderd jaar is, a life is worth celebrating. En ons het.

Ek was ook dikwels gefrustreerd omdat sy so siek was en ek niks vir haar kon doen nie. Maar op hul aandrang het ek bly fokus daarop om my uit te melk, waardevolle kos wat niemand anders haar kon gee nie. Ek en Anton het ook gereeld deur die kangaroe-metode vel-op-vel-kontak met haar gehad.

Ons was baie toegewyd, ons wou net by haar wees. Ons het elke aand, vir net meer as 3 maande, by haar gekuier tot laat, behalwe twee keer toe die susters ons gedwing het om uit te gaan vir ’n bietjie alleentyd. Ons het ure sit en ompraat met hulle. So iets kan jou en jou man nader aanmekaar bring, of jou uitmekaar dryf. Maar ek en Anton is sterker hierdeur.

Ek dink soms die hele wêreld het vir Leah gebid. Ek het nie geweet daar is soveel mense wat omgee nie. Dit was soos een konstante gebed wat ons gedra het. Ons het letterlik duisende briewe, e-posse en oproepe ontvang. Ons vriende en familie was ongelooflik.

Ek vermoed soms dit was vir my ouers erger as vir my. Ek twyfel of ek ooit regtig vir hulle sal kan sê hoe dankbaar ek is en wat hulle vir my beteken het. Vir my ma was Leah van daardie eerste asemteugie af perfek, en sy sal altyd wees.

Ek het gou geleer dit help nie jy vra ‘hoekom’ nie, want jy sal nooit die antwoord kry nie. Fokus eerder op die ‘waarheen’, want daar is altyd ’n pad vorentoe. Maak nie saak hoe donker daai gat is nie. En daar wás baie moeilike tye, emosionele oomblikke, op en dan weer af. Stadig maar seker het Leah begin vorder en gewig aangesit, die groot maatstaf vir huis toe gaan. Ek het gehoop ons sou haar op 9 Junie, haar volterm-datum, kon huis toe neem. Ek het al hoe meer ongeduldig geraak. Ek wou nou net ma wees vir my baba. Maar uiteindelik is ons drie eers op 17 Junie terug huis toe, Stellenbosch toe.

Anton, Leah en Hanri

Ek was verskriklik opgewonde.

Maar toe begin dinge blur. Iets was fout ...

Die eerste ding wat my laat besef het iets skort, is toe ek nie wou toelaat dat Anton êrens heen gaan nie. Ek wou nie alleen saam met haar wees nie, maar ek wou ook nie sonder haar wees nie. Ek het fisieke simptome gehad: ek was naar, ek wou nie eet nie, kon nie slaap nie. Ons moes haar vir eers weghou van mense. Dit was winter en dit was net ek en sy, saam ingehok. Ek moes my elke twee uur uitmelk. Ek was gewoond aan iemand anders wat na my baba kyk, en skielik was sy my verantwoordelikheid, boonop met die intimiderende kolostomie-sakkie waarmee selfs die susters soms gesukkel het. Ek was so bang sy kom iets oor en ek kan niks doen om haar te help nie.

My ma was my redder. As sy nie elke dag in haar kar geklim het en na my toe gery het nie, het ek gesink en nie weer opgekom nie. Saans het ek sommer in trane uitgebars as die sakkie gebreek het en ons alles moes skoonmaak ... Party mense het gesê ek moet net positief wees, maar ek het besef dis meer as dit. Ek moenie so voel oor die kind wat ek nog altyd wou hê nie, die baba vir wie ons ’n jaar en ’n half gewag het. Ek wou vlug. Ek kon nie connect nie. My dokter het uiteindelik vir my ’n voorskrif vir antidepressante gegee. Dit was soos handomkeer. Binne twee weke het ek begin beter voel.

Anton het my ongelooflik bygestaan. Hy is ’n ontsettende goeie pa. Ons was (en is steeds) ’n span. Ons het beurte gemaak om haar te voed, en as die sakkie skoongemaak moes word, was hy daar. Ek is so bevoorreg, want alleen kan jy nie deur so iets nie!

Leah is toe sy 3 kg geweeg het terug hospitaal toe sodat die sakkie verwyder kon word. Ek het geweet as ons nou huis toe gaan, het ek my baba. Die een waarvan ek gedroom het. En so het ons liefdesverhouding begin. Sy het begin glimlag, eet, soet geslaap en was ’n konstante vreugde vir ons. Ons het haar uitgeneem en begin deel met die magdom mense wat deur die maande daar was vir haar en ons.

Leah is elke dag omring deur liefde. Sy is ’n spesiale, inspirerende dogtertjie. Sy het soveel ander lewens geraak. Ek is so bevoorreg dat ek my ma het wat na Leah kyk as ek bedags by SARIE werk. Sy kry baie stimulasie en liefde van albei haar oumas en oupas.

Prem-babas soos Leah het baie lae spiertonus by geboorte en sy kry steeds fisioterapie om te help met die ontwikkeling en koördinasie van haar spiere. Ek weet ek moet haar nie vergelyk met ander nie, sy doen dinge op haar eie tyd. Maar haar geboorte en die maande in die hospitaal het my geleer om oor te gee. Ek stres nie elke dag oor haar en wonder of sy oukei is nie, ek glo sy is. Waar baie mammas oorbeskermend is, is ek rustig oor Leah se pad vorentoe, dit is vir haar uitgelê. En daar is niks wat ek kan doen nie, behalwe om haar lief te hê.

Ek sal nooit genoeg kan dankie sê vir almal wat geveg het om haar lewe nie, en almal wat nou nog help met haar ontwikkeling nie. Wat ’n blessing om mense te ontmoet wat regtig ’n verskil maak in ander mense se lewens ...

*Leah het intussen haar eerste treë gegee.

[box:full:red:both]

Wat ek geleer het

• Praat die heeltyd met jou vriendinne en mense wat omgee. Moenie voel jy’s swak of minderwaardig nie. As alles uit is, kan ander jou ondersteun.

• Jy is sterker as wat jy dink. Ek kan nie glo waardeur ons is nie, maar hier is ons nou. Ek is ’n sterker en beter mens. My verhoudings met my man en ouers is op ’n dieper vlak. My geloof is baie sterker en my dogtertjie se lewe is ’n bewys, elke dag, van hoe groot en goed die Here is.

• ’n Kind is ’n wonderwerk. Dit was vir my skokkend om te sien hoe baie siek babatjies gebore word. Daar is baie ouers wat saans gaan slaap sonder hul kinders.

• Jy vergeet gelukkig die moeilike tye, veral as alles goed uitdraai natuurlik. Maar dalk ook ongelukkig, want jy verval dan weer in jou alledaagse gejaag na wind, en jy vergeet hoe gefokus jy was op dit wat regtig tel.

• Jou lewe kan in ’n oogwink verander. Besluit wat regtig belangrik is en fokus daarop. En die meeste van die tyd is dit die mense in jou lewe, want hulle is nie vervangbaar nie.

• Skenk bloed en red ’n lewe! Dit het Leah se lewe gered.

[/box]