Ek onthou die kleur van Alison se oë. So ’n groenblou-grys. Maar die emosie daarin ontgaan my. Eintlik kan ek dit nie in woorde beskryf nie. Die oggend van 23 November 2006 - 12 jaar ná daardie nag toe ek op haar afgekom het - kon ek help om Alison se tweede seun, Matthew, in die wêreld te bring, en in haar oë was ’n ander emosie: iets tussen vreugde en opwinding.

Oogkontak is belangrik. Dit kom van daardie nag toe ek vir Alison moes kalm hou terwyl ons vir ’n ambulans gewag het. Ek het heeltyd vir haar gesê hoe mooi haar oë is - al was dit bloedbelope nadat die mans haar gewurg het. Mense maak oogkontak as hulle praat, maar ek dink daar is iets wat ek en Alison in mekaar verstaan wat anders is. Ek is nie seker wat dit is nie. Sy is deur ’n erge traumatiese ervaring en ek was toevallig daar. Waardeur sy fisiek en emosioneel gegaan het, sal net sy weet. Ek was die eerste mens met wie sy kontak gehad het net ná die aanval. Vir my het dit baie beteken omdat ek daarna besluit het om te gaan medies swot.

Jy moet elke dag leef asof dit jou laaste is

Ek dink nie jy moet wonder of jy weer deur dieselfde situasie sal wil gaan nie. Die ervaring was wat ek nodig gehad het om regtig te luister. Dit was ’n reality shock - ek moes my lewe regruk. Ek glo dit het met ’n doel gebeur. Goeie en slegte dinge gebeur met jou. Jou pad is uitgelê. Jy moet elke dag leef asof dit jou laaste is. Ek sou nooit kon dink dat ek eendag sou bystaan wanneer Alison se seuntjie gebore word nie. Ek het eenkeer in ’n grap vir haar gesê dit sal nice wees as ek die keisersnee kan doen. Tienie, haar man, het gedink dis ’n baie goeie plan en het gereël dat ek George toe gaan vir die geboorte. En op 23 November was ek in die teater om haar ginekoloog te assisteer.

Dit was iets anders - en baie spesiaal, ons het ’n lang pad saamgekom. Almal in die teater was nogal emosioneel, veral Alison en Tienie, en ek was self ’n bietjie emosioneel ná die prosedure. Dit was vir my ’n voorreg. Dit het op die regte tyd gebeur, want ek was klaar geswot, en dié werklikheid het ingeskop. Dit was ’n besonderse dag, so asof ’n sirkel voltooi is. Ek het haar gehelp die aand toe sy aangeval is en ek kon haar weer help toe Matthew gebore is. Ek kan nie onthou wat ek gedink het toe die baba gebore is nie. Jy konsentreer op die prosedure self. In daardie stadium is jy baie bly die babatjie is uit en die ma is oukei. Jy kry elke keer die gevoel van verligting as ’n volmaakte baba daar lê.

Dit maak my gelukkig om ’n dokter te wees, want ek kry die geleentheid om mense te help. Ek is nou besig met my huisdokterjaar by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria.
Ek het ná die voorval my studies in veeartseny-tegnologie opgeskop, maar my skoolpunte was te swak om vir medies gekeur te word. Ek het toe paramedici-kursusse gevolg en
keuring by die weermag gekry om verpleegkunde te studeer. Ek het daarna kliniese tegnologie gedoen en is uiteindelik gekeur vir medies, met ’n beurs by Medunsa. Dit het my
uiteindelik 11 jaar geneem om my droom te verwesenlik!

Ek en Annette, ’n verpleegkundige, is ses jaar gelede getroud en het twee dogters, Charlize (5) en Sizelle (17 maande). Om iets óf voluit te doen óf dit liewer te los is ’n les wat ek vir my
kinders sal wil leer. Ook om op God te vertrou en om nooit iets alleen aan te pak nie. Familie is baie belangrik. Ek het ’n stewige gesinsbasis. Annette het my baie ondersteun. My skoonpa het ons ook geldelik ondersteun tot ek klaar gestudeer het. Ons het ’n ruk swaar getrek. Ek het baie ná diensure gewerk, laat in die aande gestudeer, want ek wou nie tyd met my vrou en kinders inboet nie. Op die ou end het ons geweet ons gaan almal voordeel daaruit trek.

As iets groots voor jou lê, moet jy dit net voluit pak

Hou moed
Die aand toe ek op Alison afgekom het, het my vasberadenheid geleer. Moenie moed opgee nie. As iets groots voor jou lê, moet jy dit net voluit pak. Op die ou end gaan jy daardie koppie uitstap. As jy krag van Bo kry, sal jy dit kan doen. Die feit dat Alison oorleef het word as ’n mediese wonderwerk beskou. Ek glo in wonderwerke. Ek dink dat jy elke oggend kan opstaan en asemhaal, is ’n wonderwerk op sigself. Jy het nóg ’n dag gekry om te lewe.

Ek het groot bewondering vir Alison en die manier hoe sy haar ervaring hanteer het. Sy het bekend geword as iemand wat verkrag is, sy het dit nie probeer wegsteek nie. Sy probeer ’n verskil maak. Sy het opgestaan en nie toegelaat dat twee boosaards haar lewe verwoes nie. Sy is sterk.

Ek sal graag ’n oor-, neus- en keelspesialis of chirurg wil wees, maar nie noodwendig in Suid-Afrika nie. Ek sien nie veel van ’n toekoms in Suid-Afrika nie - nie met die politieke omstandighede nie. Die aand toe Alison aangeval is, was die eerste keer dat ek so direk deur misdaad geraak is. Gelukkig was ek nog nie self ’n slagoffer van misdaad nie.

Ek het aansoek gedoen om in Australië te gaan werk. Maar ek sal eers op George gaan bly en kyk of dinge daar uitwerk. Daar is ’n rustige atmosfeer op George. Jy wil ook nie sommer net landuit gaan nie. Ek wil dit nog ’n laaste kans gee en kyk of dinge gaan verander en of die regering gaan besef dat misdaad hand uitruk. Vóór my kinders met skool begin, sal ons daaroor moet besluit. Ek wil nog saans saam met my kinders buite kan speel.

Toe ek Alison daardie nag gesien het, was haar beserings vir my skokkend, om te sien wat mense aan iemand kan doen. Dis barbaars en onmenslik. Jy wil glo elke mens het goed in hom, maar of dit werklik so is, weet ek nie. Party mense is regtig daarop uit om ander seer te maak, om stroom-op te wees en die lewe vir ander moeilik te maak.
Elke ou het sy eie gesonde verstand en maak sy eie keuses. As jy besluit hoe om jou lewe te leef, bly dit jou besluit.”


Alison oor Tiaan

Vir haar was die geboorte van haar tweede seun ’n spirituele ervaring. “Enige geboorte is opwindend, maar met Matthew was dit baie emosioneel omdat Tiaan daar was. Ons het ’n sterk band wat ek nie in woorde kan beskryf nie. Dis meer as vriendskap. Dis wonderlik.

“Tiaan het ’n chirurgiese masker opgehad, ek kon net sy oë sien. Hy was besig met die prosedure en ons het nie baie oogkontak gemaak nie. Maar daar was tye wat ek kon sien sy oë glimlag. Hy het sulke sagte oë. Jy kan sien hy is ’n goeie man deur net na sy oë te kyk. Hy is vreeslik stil en plaas nie sommer druk op homself nie. Hy is baie nederig en hy hou nie daarvan om lof te kry nie. Dis vir my soms frustrerend, want ek wil graag hê hy moet die eer kry wat hom toekom.”

Alison sê Tiaan het ’n ongelooflike respek vir vroue en hy sal nie dat enige struikelblok in sy pad staan om sy drome te verwesenlik nie. “Dít is eienskappe wat ek ook vir my twee seuns wil leer. Hy het ook ’n fantastiese sin vir humor! Hy kan soms heerlik sarkasties wees en hy is lief vir terg.”