Maandag 5 Januarie
Dis my eerste afspraak sodat ons met in vitro-bevrugting kan begin. En hier is ek, aan die huil soos 'n groot baba. Dis ook Roxy se eerste skooldag en my emosies is 'n warboel. Dis eintlik gepas dat ek dr. Johan van Rensburg by die Medfem-kliniek (in Sandton) juis vandag besoek, want ek en Roxy begin albei 'n nuwe reis. Vuyelwa Booi (Alice in 7de Laan) is saam met my, en Regi (my man) verras my by die kliniek, so ek het baie ondersteuning. Alles lyk goed, ook die sonars. Die dokter sê ons kan op die 21ste begin. Die waarskuwingsklokkies lui, want verlede keer het ons misluk toe ons hierdie siklus gebruik het (om te begin op die 21ste pleks van die tweede dag van my siklus). Maar ons besluit om voort te gaan en bly positief.

Woensdag 21 Januarie
Tyd vlieg. Die dag het aangebreek. Ons doen die sonar en begin met die inspuitings. Sjoe, ek is bang.Die inspuitings bevat hormone wat my eiersakkies help groei en hulle langer "lewend" hou. Eers net een inspuiting per dag, 'n week lank, en dan twee per dag vir twee weke. Ons ontdek dat ek en Regi antibiotika moet drink om infeksies op te klaar. Ek is bekommerd, dit kan die eiertjies doodmaak.

Maandag 9 Februarie
Die inspuitings het goed verloop. Jo da Silva (Gita in 7de Laan) en Vuyelwa het my elke dag (in die maag) ingespuit - ek is maar 'n ou bangbroek. Ek voel vanoggend baie angstig, want dis hiér waar ons verlede keer misluk het. Dis vyfuur in die oggend en ek wag reeds buite die kliniek. Ek kon nie slaap nie. Sewe-uur sien ek uiteindelik vir dr. Van Rensburg. Hy meet die eiersakkies. Dit lyk asof hulle goed groei. Al ses lyk gesond! Ek is so verlig, ek wil net huil. Ek hou Regi se hand so styf moontlik vas en hy verstaan. Ons is albei opgewonde om hier verby te kom.Dit lyk asof die oes-datum rondom die 11de, 12de of 13de gaan wees. Dan word die sakkies uitgehaal en met sy sperm bevrug. Ek sal dadelik daarna moet werk toe gaan, want ek is deel van 'n storielyn ... al probleem is die narkose tas jou geheue aan, maar dr. Van Rensburg kan my iets gee wat my gouer normaal laat onthou. Ek hoop so!

Woensdag 11 Februarie
Die uitslag is hier, ons doen dit Vrydag die 13de. Dis mos 'n goeie teken, of hoe?

Vrydag 13 Februarie
Dis agtuur en ons is op pad na Medfem. Die verkeer is erg. Ek's 'n bol senuwees. Ek en Regi praat skaars; ek dink ons is ewe angstig. Halftien word ek by die teater ingestoot. Die verpleegster sukkel om die naald in te kry vir my drup. Een van my arms is later vol bloed. Ek begin bewe, die ene senuwees. Dr. Van Rensburg gee my narkose. Die volgende ding wat ek onthou, is hy en Regi aan my sy met die nuus: Hulle kon sewe eiers uithaal! Ek is regtig seer en kry medikasie, maar ek moet terug werk toe.

Saterdag 14 Februarie
Vanoggend moet ek bel en hoor hoeveel eiers die bevrugting oorleef het. Die slaap het my weer ontwyk en ek voel permanent gespanne. Ek weet ek moet kalm bly. Presies halftien bel ek: vier het oorleef, en hulle verdeel al! Wat 'n verligting! Ek huil al weer. Roxy wil weet wie dan haar Mamma seergemaak het? Dis só moeilik om aan haar te verduidelik wat nou gebeur, so ek verseker haar maar net dat Mamma oukei is.

Sondag 15 Februarie
Die laboratorium bel. Ek staan snaarstyf terwyl Regi praat. Hoekom bel hulle nou? Goeie nuus! Een van die embrio's het in twee verdeel - nou het ons vyf embrio's. Regi, Roxy en ek doen 'n vreugdedans! Woensdag word hulle in die baarmoeder teruggesit. Sjoe!

* Lees in die Julie-uitgawe (8 Junie op straat) oor die inplanting en afwagting...