Ek gebruik krag en lig haar naweektassie uit die sleepwa van die bussie waarmee sy vir die naweek huis toe gekom het. Die kierie klots-klots teen die teer terwyl sy op eie stoom voortwaggel om self in my motor te klim. Kiertsregop sit sy voor langs my. Ons roei en stoei deur die erge Vrydagmiddag-verkeer terug huis toe, Strand toe. Sy sê nie ’n woord nie. Nie omdat sy nie wil nie – sy kannie. Net so afen toe rol sy haar bruin oë na my kant toe oor die verkeer waardeur ons voortstu-stoot! By die huis gekom, probeer sy dapper help met ligte pakkies aflaai. Swaarder pakkies gooi haar van balans af. Ek, naweektas in die hand, my handsak, nog pakkies en haar aan my arm ingehaak, moet nog eers deur die veiligheidsdeure met discs. Dan wag ons vir die hysbak. Nou eers kyk ek haar gesig deeglik en besluit in my hart hoe die naweek vir haar hier by my gaan wees. Is haar gesig lig en oop? Of staan daar onweerswolke op? Praat kan sy nie en ek moet haar lees ... op haar gesig. Dís my boek. Onweerswolke spel dat iewers in haar dowe woonplekkie iets verkeerd geloop het. Iets wat sy nie net vanuit haar dowe verstand kon hanteer en verwerk nie. Sonskyn uit haar oë wys die afgelope paar weke was fine. By die huis vat daai kierietjiehand die pan en sy maak haar eie eiers gaar. Sy’s lief vir my tafel-almanak. Daar staan sy ure en kyk. Daarop het ek belangrike gebeurtenisse en my programme vir weke vooruit ingevul. Dit gee haar ’n idee van my lewe. Vrae vra sy met haar oë en met haar hande. Beduie-beduie ons vir mekaar tot sy verstaan. Hoe gaan dit regtig diep binne met haar? Hoe voel sy as sy soggens in haar koshuiskamer wakker skrik? Inderhaas haar bed moet netjies maak?Met waslap en tandeborsel die koue koshuisgang na die badkamer moet trotseer? Ek weet nie. Tien jaar al doen sy dit. Op haar eie stoom. Bloot haar lyftaal en eie binnemens weet. Hoe mens sonder taal deur al die dinge kom, sal sy alleen weet, want sy is Carmen, my dapper kind. My afvlerk-kind bring ’n dankie-sê in my hart dat sy vir drie-en-dertig jaar met God se hulp kon leef en oorleef in ’n lewe wat so gekompliseerd kan raak. Maar jy, my kind, solank jy jou kierie en jou dik wolbaadjie by jou het, is jy gereed vir die koue wêreld daar buite. As jul naweekbussie Sondagmiddag wegtrek en sy neus na jul bestemming draai, sien ek jou hand vir my waai. En ek saluut jou, my kind. Hoe jy die lewe regkry, weet ek nie! Pauline Scholtz, Strand