Saterdagmiddag

Op die grasperke en by die tafeltjies sit mense met hulle piekniekmandjies en kuier. 'n Lieflike dag. Ek en my man stap soekend tussen die mense deur. Dan sien ons hom waar hy by 'n tafel sit en kaart speel met twee ander jongmense: in sy bekende groen T-hemp wat al vaal gewas is, sy donker hare staan (soos altyd) half orent en sy skraal vingers hou die kaarte vas. 'n Warm brandpyn kom lê in my bors.

"Hoe gaan dit, Seun?" wil ons albei natuurlik weet. Ons probeer "cool" klink, want oorywerigheid gaan mos nie goed af by die jongklomp nie. Hy vee met sy een hand deur sy hare, sodat dit nog regopper staan. Hy kyk half weg en sug. "Ag, orraait. Net moeg."

"Voel dit asof die medikasie begin werk?" Stupid, wil ek vir myself sê, dis 'n stupid vraag! Hoe moet die arme kind nou weet! Maar hoe harder ek probeer om hierdie situasie te "hanteer", hoe meer maak ek 'n gemors daarvan.

"Aaag..." Hy kyk weg. Sy deurskynende blou oë, die skraal, moeë gesig, skuif vir 'n oomblik weg... bo-oor kom 'n ander prentjie: 'n foto van hom as graad 1-outjie in sy splinternuwe grys hemp. Ek het die foto op my kas se deur geplak sodat ek sy glimlag, die stralende oë, al die selfvertroue, elke dag kan sien wanneer ek die vrese wat by my opkom nie meer kan besweer nie. En so skuif die twee prentjies vir 'n paar sekondes heen en weer oor mekaar. Later moet ek my oë knip om te kan konsentreer op die Johan wat werklik voor my staan...

Vir 'n hele paar jaar al is my kind depressief. Aanvanklik, as 'n tiener, was hy moeilik, en beslis moeiliker as wat 'n mens normaalweg van 'n tiener sou verwag. Toe het sy skoolwerk agteruit begin gaan. Hy het homself al hoe meer onttrek. Later het ons hom so ver gekry om vir 'n evaluasie te gaan en bipolere versteuring is by hom gediagnoseer. Nog later is hy vir die eerste keer in 'n psigiatriese inrigting opgeneem. Ons het geglo dat hy daarna begin het om te stabiliseer, maar die moegheid, ongemotiveerdheid en afsydigheid het mettertyd weer vererger en onlangs het hy na ons toe gekom met die woorde: "Pa, Ma, dit gaan sleg met my."

Hoe voel 'n mens as jy keer op keer met hierdie realiteit gekonfronteer word? Dis hoekom ek hier skryf. Ek probeer vir myself uitwerk hoe ek regtig voel, maar ek skaats bo-oor my eie emosies. Daar is werk wat gedoen moet word, 'n huishouding wat moet aangaan en baie belangriker as dit alles, daar is 'n kind wat ondersteun moet word. Dis 'n voorreg om daar by my kind te kan gaan kuier, soms net ek en hy, en om dan te kan praat oor wat werklik in sy hart aangaan. Om te hoor hoe hy deur sekere krisisse in sy lewe geraak is, hoe moeilik dit vir hom is om daaruit los te breek. En as ek daar uitstap (nadat ek sy skraal lyf te lank vasgehou het), wil iets in my breek.

Wanneer ek my kop in die aande neersit, bly sy oë by my. Dis asof hulle versluier is. Die oop, blou, blink van sy kleinseuntjie-jare is weg. As ek my oë saans toemaak, voel ek sy benerige bolyf in my arms, sy bors teen my wang. Voordat ek aan die slaap raak, vra ek vir die Vader om asseblief my kind gesond te maak.

Dus: hoe voel ek? Seer. Stukkend. Te seer om met iemand daaroor te praat. Selfs by my vriendinne sal ek nie 'n traan stort nie. By hulle sal ek nie eens my grootste vrese in soveel woorde uitspreek nie: Sê nou net ek staan hom nie genoeg by nie? Sê nou net my kind maak dit nie? Sê nou net hy gee moed op? Daar was al selfmoorde in ons familie. Om daardie nuus te kry is onbeskryflik. Iets gaan binne-in 'n mens dood.

Op hierdie stadium kan ek net aan die hoop bly vashou dat my kind (en ons) so iets gespaar sal bly.

Toe ons vanmiddag daar wegstap en hy lig sy hand op 'n manier wat so eie aan hom is, kon ek weer eens net vra: "Here, dis my kind daardie. Help ons almal asseblief."

Menja