Barend Pienaar (19) van Parow-Noord naby Kaapstad is verlede jaar deur die WKOD vereer nadat hy in sy matriek-eindeksamen die hoogste punte behaal het vir ’n leerder met leerprobleme. Hy verwesenlik nou sy droom om meer van landbou te ?leer by Elsenburg, die Universiteit Stellenbosch se landbou-?kollege. Barend was dux-leerder én onderhoofseun op skool.

“Al was ek jonk, kan ek dit nog goed onthou ... my graad 2-jaar ... Dit was nie vir my lekker nie. Dit was ’n moeilike jaar. Ek het nie geweet wat met my fout was nie. Ek onthou nog hoe ek vir my ma, Annatjie, gesê het ek voel dom. Sy vertel ook ek het skamer begin raak tussen my vriende.

Ek was goed gemanierd in die klas, maar kon nie stilsit en die takies doen soos die ander kinders nie. As Juffrou gepraat het, het ek weggekyk; as die klas iets doen, wou ek iets anders doen. Ek kon net nie fokus nie.

My ma, wat self ?’n arbeidsterapeut is, het reeds vroeg vermoed iets is fout en met die skool gepraat. Sy het my by verskillende mense laat toets en ek is as ADHD gediagnoseer, maar ons weet ek is eintlik sterk aandagafleibaar.

Gelukkig was ek nog jonk en het nie altyd geweet waarvoor die pilletjies is nie. Ek het nietemin vinnig agtergekom dit help, want as die Ritalin begin uitwerk, kon ek dit voel.

Ek is in graad 3 na die Jan Kriel-skool [’n skool vir kinders met leerprobleme] in Kuilsrivier. Dit was baie lekkerder as by die ander skool. Daar was minder kinders in die klas en hulle kon na my spesifieke leerprobleme omsien. My skoolwerk het verbeter en ek het nie meer dom gevoel nie.

Omdat ek sukkel met lees en skryf, het hulle my ook daarmee gehelp. Hulle lees vir my die vrae en ek antwoord dit mondeling. Dit was net alles makliker. Van graad 7 tot matriek was ek selfs die beste leerder in my graad.  

My onderwysers het vir my ouers gesê ek kan dalk na ’n hoofstroom-hoërskool toe gaan. Hulle het die keuse aan my oorgelaat. Maar ek wou in Jan Kriel bly. Dit is die beste ding wat ek kon doen. Ons het presies dieselfde werk gedoen en dieselfde uitslae gekry as die ander skole. Hulle help ons net op ’n ander manier. My ouers het my ondersteun en baie gehelp met my tuiswerk. Hulle het my geleer om hard te werk en altyd my bes te doen.

As ek die dag oefen, kan ek beter fokus. Ek voel verfris en spring dan agter die boeke in. In die laerskool het ons toutrekspan ’n goue medalje by die SA junior kompetisie gewen. Ek het in die afdeling vir Elsen-skole [Education for Learners with Special Educational Needs] SA atletiek-kleure gekry en het vir die Elsen-WP-rugbyspan gespeel.

Ek het maar nog altyd baie energie en as ek die dag nie kan oefen nie, doen ek sommer push-ups of iets.  

Ek is nou op universiteit en ek is ’n bietjie bekommerd – veral oor die baie lees- en skryfwerk. Dit is ook rustiger by die huis as in die koshuis wanneer ek moet studeer. Maar ek gaan alles insit. My aandagafleibaarheid het my dít geleer: Jy moet altyd hard werk. Maak nie saak wat jy doen nie. En ek weet nou al omdat ek vinnig fokus verloor, moet ek in die klas die belangrikste goed neerskryf.

Ek het gelukkig nie slegte newe-effekte van Ritalin soos ander mense nie, dis net my eetlus wat ’n bietjie minder is. Ek het al vir my kamermaat en nuwe vriende daarvan vertel en verduidelik hoe dit my help. Hul konsentrasie is op ’n sekere vlak, myne nie. Maar as ek die pille drink, is ek ook op daardie vlak.

Dit is ook wat ek wil hê mense moet weet. En dit was vir my belangrik om by die toekenning van my prys [van die WKOD] vir mense te sê jy kan steeds jouself uitleef – al is jy aandagafleibaar.”

* In die Maart-uitgawe van SARIE is 'n 10 bladsye-in diepte artikel oor ADHD. Maak seker jy kry jou uitgawe vanaf Maandag 18 Februarie 2013.