En geen matriekafskeid, geen universiteit, geen troue nie.

Ek het nie waterproof maskara nodig nie. Ek is gestroop van alle voorregte van ma-wees vir my meisiekind, en dra nie eers meer grimering of juwele nie. My enigste meisiekind se naelstring is voortydig, wreed afgeknip en ’n groot rou ongeneeslike wond het agtergebly.

Ek sal nooit die voorreg hê om haar aan ’n man af te staan nie en nooit die voorreg hê om haar kinders in my arms te koester nie. My baba, my meisiekind, my maatjie, my toekoms is gesteel met ’n doodvonnis op 8 Desember 2009. Terwyl ander die opwinding van ’n Kersvakansie en die opwinding van 2010 geniet het, het ons elke dag met ’n valbyl oor ons koppe geleef, moes ons die onwillige getuies wees van ’n breinstamgewas (diffuse glioma), wat ons klein sonskyndogtertjie dag ná dag stukkie vir stukkie “vermoor” het. Die enigste geur wat ek van my kind oorhet, is die doodsgeur – die reuk van arnika-olie – waarmee ons haar lyfie verskeie kere elke dag ingesmeer het om bedsere te voorkom. Dit het bly kleef in my siel, aan haar nagkleertjies en aan die skaapwolvelletjie waarop sy op 15 Januarie 2010 dood is.

Ma’s, geniet elke oomblik saam met jul kinders en geniet hul vol programme, want ek beny julle. Kinders kom nie met ’n lewenslange waarborg soos ons almal hoop nie. Myne was inderdaad net aan my geleen vir 14 wonderlike jare. Ek weet sy sit nou met haar klein lyfie op Jesus se skoot en sy is Jesus se mooiste engel, soos ’n gr. 2-leerder in sy briefie geskryf het. Dit gee vertroosting, maar dit droog nie die trane af of vul nie die yslike leemte wat oorgebly het nie.

Anne Oosthuizen, Namibië

Ek wil verskriklik graag kommunikeer met ouers wat kinders op soortgelyke wyse verloor het. Ek het baie boeke oor die dood van ’n kind gekoop, maar dit gaan almal oor kinders wat skielik in ongelukke of deur selfmoord gesterf het.