Hulle is anders, maar spesiaal, skryf Celia in Desember 2008: "Ek het voorheen nog net gehoor van en gelees oor outisme, en nou is hier drie outistiese seuntjies in my gr.1- en 2-klasse. Die outjie in gr.2 se naam is Tony. Sy pa is baie betrokke by die skool en ek sien hom gereeld by die skoolgesellighede. Met Kersfees het hy Kersliedere vir die leerders op sy kitaar gespeel. Soveel talent, die Kavalier en Trevor Nassar kan kom kers opsteek by hom. Ek moes myself bedwing om nie in ’n klipharde frommelgesig-tjank oor te gaan nie. Dit was immers my eerste Kersfees in ’n vreemde land en die kindertjies het “Kom herwaarts, getroues” (in Engels) gesing. Tony het óf sy pa se musiektalent geërf óf hy is geïnspireer deur sy pa se liefde vir musiek, want hy kan nie behoorlik lees of skryf nie, maar hy’s ’n tromslaner van formaat. Die skoolorkes, wat uit volwassenes en kinders bestaan, spog met saxofone, trompette, klarinette, en Tony het sy volledige stel tromme. Perfekte ritme ... en hy’s net in gr.2. In die klaskamer druk hy soms sy ore met albei hande toe as die lawaai te veel word. Soms slaan hy homself met die vuis en sy gesig vertrek van ingehoue (wat vir my lyk soos frustrasie). Maar as hy die tromme slaan, is sy gesig ernstig maar tevrede, want dis nie lawaai nie, dis ritme.  Peter, in gr.1, is ook outisties, maar briljant. Hy skryf en lees vlot en vra vrae wat te intelligent is vir ’n kind van sy ouderdom. Maar die geringste dingetjie kan hom laat ontplof. Hy sal opspring en huilend en skreeuend weghardloop. En om dan met hom te probeer redeneer of om hom te kalmeer is ’n verlore stryd. As hy ontplof, klim en klou woede en rou frustrasie op sy gesiggie vas. Daarom is almal maar versigtig en probeer om in sy goeie boekies te bly. Selfs in sy kalm oomblikke, is ek bang vir Peter, baie bang vir die volgende intelligente vraag wat hy gaan vra, wat my vir nog ’n nag gaan wakker hou, tastend in die donker na ’n intelligente antwoord! Dan is daar Dick, met ’n brilletjie en vet lyfie en 70% van die tyd in sy eie wêreld. Party dae kan hy byhou met die res van die klas. As daar ’n glimlag is, weet ons hy is hier. Maar net so skielik begin hy sy kop ronddraai en dan kan jy maar met hom praat, hy hoor jou nie, want hy is op planeet Dick. Een dag tydens een van sy helder oomblikke, maak die res van sy klas maskers, en moet hulle dit uitknip. Ek merk dat Dick in die lug sit en knip met albei sy hande. Ek vat sy pofferige vingertjies, druk hulle op die regte plekke in die skêr en wys vir hom hoe om dit oop en toe te maak, terwyl die klasonderwyseres aandag aan die res van die leerders gee. Ná groot inspanning en ’n lang gesukkel besef Dick hy het self geknip – sy glimlag is breed, en my blydskap is groot (veral omdat ons albei se vingers nog bloedvry was, want die skêr het kort-kort na my vingers gehap). “Wow Dick, you’ve cut this out yourself, now you can stick it.”“Dick, Dick!”... maar Dick staar al weer teen die dak vas, en ek plak maar self die papiertjie vas.      Sy is twaalf jaar oud en haar naam is Wing. Ek kan nie besluit of dit ’n engel se vlerk of ’n afvlerk-voëltjie is waaraan die naam my herinner nie.Goueraam-bril, twee jaar terug se mode. Growwer gebou en langer as die gemiddelde Chinese meisie van haar ouderdom. Die haarstyl en skoolskoene was ook ’n paar jaar gelede nog ín.Skewe voortande en uitstaan-onderkaak.  Sy is binne in mens se gesig wanneer sy met jou praat. Party dae met ’n baie breë glimlag wat nie wyk nie en sommige dae met net ’n direkte blik wat jou vasspyker, maar geen reaksie nie, net verwagting, en al wat ek kan wonder, is: ”Wat?!”Vasbeslote is die woord wat haar beskryf. Die kleintjies mag in kortpouse vrywillig na die Engelse klas kom vir stories, speletjies, DVD’s en musiek en sing (op Vrydae). Elke dag met kortpouse staan Wing eerste daar, afwagtend voor my en dit maak nie saak of die aktiwiteite vervelig is nie. Wing is vasbeslote om dit elke dag deur te voer. Haar Engels is van so ’n aard dat mens min of meer met haar kan kommunikeer, meer as wat jy van die meeste van die kinders kan sê. Wanneer Vrydag aanbreek, besef ek dis eintlik die rede waarom sy elke dag kom, net om seker te maak dat ons nie dalk op ’n ander dag ook sing en sy dit dan mis nie. Dis wat haar gelukkig maak – musiek. Sy’s een van die skool se sosiale uitgeworpenes, vandaar dat ek aan haar dink as die afvlerk-voëltjie. Maar gee sy ’n duiwel om dat niemand met haar wil speel of praat nie, of dat almal lag as sy kortpouse saam met die kleintjies na die Engelse klas kom? Nee, sy gee ’n skewetand-glimlag, sprei haar engelvlerk en sing saam."