Hoekom Kaboel toe?
My kinders is groot en onafhanklik en ek het 'n wonderlike geleentheid gekry om my horisonne en kennis te verbreed. Dis 'n oorloggeteisterde land ja, maar dis 'n kans wat ek nie deur my vingers kon laat glip nie. Augustus 2006 beland ek toe hier.


Waar woon jy?

In Kaboel self, in 'n groot woning wat gedeel word met die werknemers van 'n sekerheidsmaatskappy. Ons is so veertig mense wat in vier huise woon. Die eetkamer sorg vir heelwat vermaak, want hier woon Amerikaners, Kanadese, Libanese, Dene, Grieke, Hollanders en Oezbeke, en elk het maar sy eie maniertjies. Die erf is omring deur hoë mure, soliede staalhekke en gewapende wagte.

Is jy bewus van die oorlog?

'n Mens is heeltyd bewus van die gevaar om jou, want daar is gereeld selfmoord-bomaanvalle wat kraters in die paaie ruk of geboue in 'n oogwink in 'n bouval verander. Soldate, militêre voertuie en wapens vorm deel van jou normale dag en is oral te sien. Heelparty Afgane het een of meer ledemate verloor en oral is jong weeskinders wat in armoede oorleef. Hier is armoede wat Suid-Afrika nie ken nie. Ons beweeg in gepantserde voertuie rond vir beskerming.

Jou grootste aanpassing?
My vryheid van beweging wat ontneem is, en die graad van armoede, kinderarbeid en dieremishandeling, en natuurlik om my lapdoek om my kop te hou!

Vertel van die kos en leefwyse?
Alles is geredelik beskikbaar, maar duur. Vars produkte is van 'n goeie gehalte, maar die vleis is baie taai. Die taal is Dari, ook bekend as Persies, en Pasjtoe in die suide. Hoewel kommunikasie frustrerend is, praat heelparty Afgane Engels.

Waar werk jy?
Ek was die operasionele bestuurder vir die Peace Divident Trust (www.pdtglobal.org), 'n NGO wat wettige plaaslike sakeondernemings se dienste en goedere op die internet (www.buildingmarkets.org) registreer. Internasionale en nasionale sakeondernemings en organisasies het gratis toegang tot dié lys. Die trust stel tenderdokumente beskikbaar aan die Afgane en verskaf opleiding vir militêre instellings. Plaaslike ondernemings word nou meer gebruik, pleks daarvan om op invoer te steun. Ek is steeds betrokke by die trust, maar werk nou vir 'n sekerheidsmaatskappy.

Reis jy baie, en is dit maklik om daar te reis?
Taamlik, ja. Ek vlieg saam met van ons groter donateurs wat op militêre basisse mag land. Dis heelwat veiliger.

Is dit 'n mooi land?
Dis 'n groot land met ongetemde bergreekse en met vlaktes in die noorde en suidweste. Kaboel is stowwerig en vuil, maar die ander dorpe is mooi met baie atmosfeer. Jalalabad met sy duisende lemoenbome is pragtig in die lente. Dit ruik fantasties wanneer die bome oortrek is van bloeisels. Ek was onlangs na die Panjshir-vallei, 150 km noord van Kaboel - dit laat my verlang na Nelspruit se wêreld waar ek vandaan kom. Die reis het drie uur soontoe en drie uur terug geduur op paaie met meer slaggate as teer.

Hoe is die mense?
Die meerderheid is gasvry, gelowig en vasgevang in tradisie, maar gebore entrepreneurs. Die land het 'n ryk geskiedenis en dis soms asof jy terugtree na Genghis Khan of Alexander die Grote se tyd. Met tye voel dit asof jy deur die Kinderbybel blaai met die prentjies wat voor jou afspeel.

Wat mis jy?
Familie en vriende, 'n lekker stuk steak en ribbetjie op die kole, 'n yskoue bier, die skoon, vars lug met die glinsterende sterre wat soos 'n sambreel om jou vou. Die kwêvoël se kwê en die gebrul van 'n leeu doer ver - my Afrika!