Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier’s haar derde inskrywing:

’n Lewe vol avontuur is ’n keuse. Maar met verskonings soos "ek is te moeg" of "daar's nie tyd nie" laat ons dikwels ’n geleentheid verbygaan. Ek geniet ’n uitdaging en pak maklik ’n nuwe avontuur aan – dit is op die ou end die klein vonkies wat tot die grootste vuur kan lei!

Verlede naweek was weer eens een van daai onverwagte avonture waaruit ek soveel kon leer. Ek was so bevoorreg om deel te wees van Explore4Knowledge en Mej. Aarde Organisasie se opvoedkundige kamp oor omgewingsetiek. Die kamp was in die asemrowende Cederberg. Kyk, dit vat nie veel om my te oortuig om iets in die natuur te gaan doen nie. Nie dat ek jou tipiese kampeerder is nie!

Maar die kamp het my net weer laat besef hoe belangrik dit is om te connect. In my geval is dit met die natuur. Die naweek by die kamp kon mense tyd in die natuur spandeer en dinge oor hulself ontdek. Connection, dis van toepassing op ons almal se lewe. Nie alles is vir almal ewe belangrik nie. Maar deur te connect gee jy jou oor aan die avontuur en dis dan dat mens besef in watter interessante tye ons leef!

Terug by die naweek. Om te braai as jy kamp is so Suid-Afrikaans soos melktert. Ons is bederf deur die talentvolle John Stewart Grundlingh van Ultimate Braai Master. Die man het ’n slag met enigiets op die kole. Dit was nie net ’n voorreg nie, maar ook ’n fees toe ek kon inspring en help om braaibroodjies en slaai te maak. Jy kry nie aldag kans om vir so ’n bobaas-braaier iets te doen nie!

Hier's ’n top-kampeerwenk wat die stigter van Explore4Knowledge, John Lucas, met ons gedeel het:

Só maak jy filterkoffie, sonder ’n dompelpot, op die kole 

  1. Gebruik ’n koffiekan wat op die vuur geplaas kan word. Kook water in die kan en gooi gemaalde koffie net so by.
  2. Hoe gemaak met die koffiemoer? Gooi drie vuurwarm kole in die kan.
  3. ’n Minuut later en die koffiemoer sit vas aan die kole. Siedaar, jy het heerlike koffie.

Nou maar toe, laat ek hardloop. Die interessante tye waarin ons leef, lewer dalk net nog ’n wenk of twee op en ek deel dit dan graag!

Tot volgende week ... wees bevonk!

Ilzé

#InspiredLiving