Dit het alles in April 2006 begin, op die dag toe Zélda Snyman van Pretoria gehoor het haar suster, Caren Fourie, het ’n nier nodig. Dit was ’n uitmergelende ervaring wat haar lewe vir meer as twee jaar oorheers het, tot en met die operasie in 2008 toe sy een van haar niere aan Caren kon skenk. Vandag is sy verlig dat alles verby is: “Nóóit weer nie.” Maar terselfdertyd glo Zélda dat elke vertakking van jou lewe uitgewerk is om jou by ’n bestemming te bring. As sy nou terugkyk, sien sy hoe afsonderlike gebeure in háár lewe aan mekaar verbind was om op die ou end ’n doel te bereik. Ook die feit dat sy en haar suster, Caren, albei aangenome kinders is . . . Zélda Jy leef nie net vir jouself nie. Jy leef ook vir ander Dis ’n warm, bedompige middag in November, sowat ’n maand vóór die operasie, geskeduleer vir 9 Desember 2008. Zélda (42) is vreesbevange, by tye na aan trane en vol vertwyfeling, maar terselfdertyd weet sy met haar hele hart: “Ek moet dit doen.” “Ek onthou nou nog die dag toe ons my nuwe sussie gaan kry het. Ek het haar saam met my ma in Port Elizabeth gaan haal. Ek was ses jaar oud en Caren net nege dae. Dit was in Junie en baie koud. My ma het die kombersie van my sussie afgehaal en gesê: ‘Kyk hoe klein is sy.’ Sy was my baba-sussie, en sy is steeds my baba-sussie . . . Ek sien die oorplanting as deel van my doel. My lewe is so uitgelê. My ma het my in April 2006 gebel om te sê Caren het nierversaking en moet ’n nieroorplanting kry. Nie een van ons het gedink ek sal een van my niere vir haar kon gee nie: My bloedgroep is O-positief en die skenker se bloedgroep moes O-negatief wees. Caren is op die nierskenkerlys gesit. Dit het soms beter met haar gesondheid gegaan, maar vier maande ná sy gediagnoseer is, het sy nie meer krag gehad om aan te gaan nie. Ek het vir haar gaan kuier op Graaff-Reinet. Toe ek by haar kamer instap, was sy aan ’n dialise-masjien gekoppel. Ek was geskok. Ek wou haar so graag help. ’n Maand daarna het sy ’n terugslag gehad en is sy na ’n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Die nieroorplantingskoördineerder, Anne Kemlo, het gesê enigiemand in die O-bloedgroep kan ’n nier skenk en ek het besluit om te kyk of ek ’n gepaste skenker is. Ek was. Ek kon dit nie glo nie! As aangenome kinders was die kans dat ek my nier vir haar sou kon gee baie skraal. Dit was ’n bestiering van Bo. Die operasie is dikwels uitgestel en geskuif omdat haar gesondheid by tye verbeter het en sy nie ‘siek genoeg’ was om ’n oorplanting te kry nie. In 2007, toe die operasie vir die eerste keer geskeduleer is, was ek en Caren sielkundig voorbereid, maar haar kreatinien-vlakke was te laag (hoë kreatinien-vlakke wys dat jou liggaam nie van gifstowwe ontslae raak nie, soos as jy nierversaking het). Dit was ’n ongelooflike teleurstelling. Ek het probeer aangaan met my lewe. Die operasie is toe geskeduleer vir laat in 2008. In Februarie het Anne gebel om te sê dit gaan sleg met Caren. Die oorplanting moet dalk gou gebeur. Ek het my álles weggeskrik. My stem was weg. Ek het in daardie stadium nie meer op die operasie gekonsentreer nie. Anne kon hoor ek twyfel en het gesê sy sal my tyd gee om daaroor te dink. Ek het eers drie maande daarna weer van haar gehoor. Intussen het Caren se kreatinien-vlakke op- en afgegaan. ‘Die werklikheid het by my begin insink en soms het ek nie geweet of ek dit nog moet doen nie’ – Zélda Die operasie is uiteindelik vir 6 Januarie 2009 geskeduleer, maar dis weens Caren se gesondheid vervroeg na Desember 2008. Die werklikheid het by my begin insink en soms het ek nie geweet of ek dit nog moet doen nie. Ek is nie spyt ek gaan dit doen nie, maar ek twyfel. Ek het nie in my wildste drome gedink ek gaan ’n gepaste skenker wees nie. My terapeut sê dis normaal om bang en deurmekaar te wees (as skenker moes Zélda vir sielkundige evaluering gaan). Dit voel of ek net slaap en wakker word en as ek wakker word, besef ek dis ’n nuwe dag, ’n dag nader aan die operasie. Ek dink ek doen dit meer vir Caren se twee dogters, Carla (9) en Anneke (13). Ek het self ’n dogter en weet hoe belangrik dit is om ’n ma te hê. Die ervaring is geestelik, emosioneel en fisiek uitmergelend. Dis of dit net nie verby wil kom nie. Ek’s ’n moeilike pasiënt. Ek sukkel om pille te sluk en dis of my are platval die oomblik as ek ’n naald sien. Toe ek een keer by my dokter kom, het ek begin huil. Ek het gedink: ‘Caren, weet jy waardeur ek gaan?’ Ek moet mal wees om dit te doen. Een van my grootste vrese is dat iets met die operasie sal skeefloop en ek nie meer daar sal kan wees vir Trucélle nie. (Zélda is ’n enkelma.) Ek het aan die begin vir Trucélle gevra: ‘Is jy oukei, want jy sê vir Mamma niks nie?’ Sy het bly sê sy is oukei. Eendag het sy gesê ek het vir haar geleer elke mens het ’n doel op aarde en sy is bang my doel is om my nier vir my sussie te gee en dan vat die Here my weg. Dit was die eerste keer dat sy met my gepraat het. Ek het nie geweet dis hoe sy daaroor voel nie. Sy het ook op ’n dag vir my gesê: ‘Mamma, as dit nie vir Carla en Anneke was nie, sou ek nie toegelaat het dat jy dit doen nie.’ Dis vir haar baie, baie moeilik. Sy is ’n ongelooflike steunpilaar. Sommige dae weet ek nie of ek die regte ding doen nie, veral omdat ek en Caren nie ’n hegte verhouding het nie – ons verskil ses jaar. Maar sy bly vir altyd my klein sussie. Ek wens net die operasie kan verbykom. Dit voel of my lewe vir twee jaar stilgestaan het. Soms is ek so moeg dat ek net wil huil. Ek huil baie. Ek huil in my kamer as Trucélle by die huis is, maar as sy nie daar is nie, huil ek histeries. Dan huil ek om klaar te huil en knap my grimering op sodat sy nie agterkom nie. Dit het al gevoel of ek nie meer kan aangaan nie, maar ek moet. Hoekom moet ek my nier vir myself hou as ek vir Caren ’n tweede kans in die lewe kan gee?” *** Dis 2 Maart 2009, byna drie maande ná die operasie. Alles het goed verloop. Die lang sny aan die regterkant van Zélda se laerug is reeds gesond, en Caren het ’n nuwe lewe. Zélda vertel verder: *** Ek het nog die aand voor die operasie gewonder of ek nie moet weghardloop nie. Die suster wou tienuur die aand ’n drup in my arm kom sit. Ek het myself in die badkamer gaan toesluit. Ek het geweet as ek die drup in het, is daar nie meer omdraaikans nie. Maar ek het die moed bymekaargeskraap om op die bed te gaan lê. Die volgende oggend het ek wakker geword en Tafelberg – asemrowend mooi – deur die hospitaalvenster gesien en geweet alles gaan reg wees. Ná die operasie was Caren se man, Eugene, se eerste woorde aan my: ‘Jy gaan dit nie glo nie, maar sy het vir die eerste keer in drie jaar ’n blos op haar wange.’ Carla en Anneke het ook na my toe gekom en gesê: ‘Tannie Zélda, dankie dat jy vir Mamma ’n nier gegee het.’ Elke dag ná die operasie dat Carla en Anneke my gesien het, het hulle dankie gesê. Dit vergoed vir alles. Ná drie weke terug by die huis, in Centurion, het ek vir die eerste keer werklik besef wat ek gedoen het. Ek het gewonder wat my besiel het. Ek het nie vir een oomblik 100% besef wat ek doen nie. Dis groot . . . om een van jou organe net so weg te gee. Wie sê ek gaan dit nie in die toekoms nodig kry nie? Tog is ek nie spyt nie, veral omdat ek my nier geskenk het terwyl ek nog leef. Want nou het ek deel aan die vreugde. Dis ongelooflik om die blydskap op Caren se kinders se gesigte en Eugene se dankbaarheid te sien. Ook om my sussie so vol lewe te hoor. Ek hoop my nier, wat nou háár nier is, gaan 100% werk en dat sy voluit sal kan leef. Ek het ook hieruit geleer: Jy leef nie net vir jouself nie. Jy leef ook vir ander. Ek het al die jare gewonder hoekom ek opgegee is vir aanneming. Dít was die rede: Om vir Caren te kon help. Dit was nie net omdat my biologiese ma nie na my kon omsien omdat sy swaargekry het nie. Die Here het ’n plan met jou, of jy dit nou wil glo of nie. Om ’n nier te gee is soos om ’n ma te wees. Dis ’n groot voorreg. Tog voel ek ek het myself ’n bietjie deur die hele proses verloor. Ek wil graag weer vir Zélda terugkry. Ek wil nou aandag aan myself gee.” Caren ‘Ek waardeer elke dag’ Nes haar suster glo Caren Fourie (36) dat niks in die lewe sonder rede gebeur nie. Die hele proses was ook vir háár uitmergelend. Sy het nie voor die operasie kans gesien vir ’n onderhoud met SARIE nie en het per e-pos laat weet haar dogters gaan deur ’n moeilike tyd en sy en haar man is albei baie moeg. Drie maande ná die operasie voel sy soos ’n nuwe mens en die tye dat sy nie uit die bed kon opstaan nie, wil sy nie meer onthou nie. Sy vertel uit Oudtshoorn, waar sy deesdae woon: “Daar was tye dat ek wou opgee. Veral toe ek só siek was dat ek nie krag gehad het om enigiets te doen of kos in my lyf kon hou nie. Ek het gewonder hoekom ek hierdeur moet gaan en my man en my dogters so swaar moet kry. Ek het gedink dit sal beter wees as alles net kan eindig, maar ek het bly vasklou. As ek dialise gekry het, was dit soos veerpyltjies wat in my arms gesteek is en ek was altyd doodmoeg ná die tyd. Aan die een kant kon ek nie glo Zélda se nier is geskik nie, maar ek het ook geweet dat ek nou uiteindelik gesond sou kon word. Die gewag vir die operasie het my soms ondergekry, maar ek het dit ook aanvaar en geweet alles gebeur soos dit moet gebeur. Toe ek deur die teaterdeure gestoot is, was ek kalm. Ek het geweet ek kan nou gesond word. Ek was skaars uit die operasiesaal toe ek vir die eerste keer in ’n lang tyd weer ‘lewendig’ gevoel het. Toe die dokter vir my sê: ‘Jy is ’n gesonde mens’ kon ek dit skaars glo. Dit voel soos ’n wonderwerk. ‘Die vraag wat ek al so baie gevra het – hoekom? – se antwoord het ek nou gekry’ – Caren Sommige dae weet ek nie wat om met my energie te doen nie! My dogters moes altyd los werkies in die huis doen omdat ek nie krag gehad het daarvoor nie. Hulle is weer die kinders wat hulle was vóór ek siek geword het, lewendig en spontaan. My siening oor die lewe het verander. Ons is geneig om dinge as vanselfsprekend te aanvaar. Ek waardeer elke dag wat ek opstaan. Ek sal nou kan sien hoe my kinders grootword. Ek wil ook weer begin werk as rekenmeester. Ná die oorplanting voel ek nader aan Zélda. Vóór ek siek geword het, het ons gestry en ’n ruk lank nie met mekaar gepraat nie. Nou het ons vrede gemaak. As ek nie aangeneem was nie, sou Zélda nie in my lewe gewees het nie en sou ek dalk nie ’n tweede kans gekry het nie. Die vraag wat ek al so baie gevra het – hoekom? – se antwoord het ek nou gekry. Alles het in plek geval.”