Ek sit hier en lees jul voorblad-artikel oor aktrise Corine du Toit (Mei 2009) en die trane wel op in my “gedagtes”. Die seer van onthou lê nog rou. Waar begin ek sodat julle kan verstaan hoekom ek so voel? Corine se storie oor haar ongeluk drie jaar gelede en die rekonstruksie aan haar gesig, klink byna soos my eie verhaal. Ek was tien jaar gelede in 'n ernstige motorongeluk betrokke waarin ek feitlik my gesig verloor het.

Ek was 22, vol lewe en lag, en het op Sodwana gewerk as ’n duikbeplanner. Die lewe was vol sonskyn en see. Elke dag was ongelooflik. Ek was vir ’n naweek op pad na my ouers op Leandra toe die ongeluk net buitekant Pongola plaasgevind het. Min het ek geweet as (met die klem op ás) ek weer my oë sou oopmaak, ek nooit weer dieselfde sou lyk of wees nie. My gesig was van my oë af ondertoe vergruis. Nadat daar baie lank gesukkel was om my uit die wrak te bevry, het die nooddienste met my na die Pongola-hospitaal gejaag. Hulle kon egter niks vir my doen nie. Die ambulansdienste het my toe na The Bay Hospitaal in Richardsbaai gebring terwyl hulle gespook het om my aan die lewe te hou. Hoe gee jy vir iemand suurstof as daar nie lippe of ’n mond is nie? Waar is alles tussen die bloed?

Gelukkig of ongelukkig onthou ek tot vandag toe niks van die ongeluk nie.  Ek onthou gebeure tot voor die impak en waar ek ná ’n week of so in die hospitaal wakker geword het en nie geweet het waar ek was nie. Ek het ongelooflike dokters gehad wat my behandel het. Van ’n plastiese chirurg tot ’n kaakchirurg wat my gesig soos ’n legkaart aanmekaar probeer sit het. Tyd was 'n belangrike faktor omdat mens se liggaam ná 'n sekere tydperk self begin heg. Die dokters wou geen tyd verspil nie en het aan my gesig begin werk, sonder enige foto van my as 'n riglyn.

Hoe het ek gevoel toe ek vir die eerste keer ná die ongeluk in die spieël gekyk het? My ma was by my en sy het gevrees vir my reaksie. Toe ek in die badkamer kom, het ek gesien sy hou haar asem in. My eerste woorde in die spieël was: “Ek lyk soos E.T.My nek was in ’n allervreeslike nekstut.  Een wat om my kop en borste vasgetrek het. Ek het ’n trageotomie (insnyding in die lugpyp) in my keel gehad, want ek was aan ’n ventilator gekoppel. My kake was aanmekaar geheg, daar was nie ’n neus nie en my lippe was die een steek op die ander. En ek was tandloos!

Terwyl ek nou die woorde tik, voel ek weer die trane, dié keer agter my oë, opwel. Dit voel soos gister!  My ma moet ’n medalje kry, eintlik my hele familie ... Maar laat ek terugkeer na my storie.

Ek kan verstaan dat dit moeilik was vir Corine om haar geskende gesig te sien, Sy’s immers ’n aktrise en ’n model. Glo my, ’n vrou bly ’n vrou en jy wil altyd mooi lyk, maak nie saak wie of wat jy is nie. Ja, jy het dalk al die dokters wat jou behandel, en jy bid en huil en bid en huil, en hoop dat jy aan die anderkant gaan uitstap en vir jouself kan kyk en weet jy’s okei. Maar dis nie maklik nie. Tyd genees ... dis so waar. Ek het baie dae gewonder of ek ooit deur hierdie ongelooflike situasie sal kom. Ek het!

My herstelpad was lank, met baie operasies – sowat 6 jaar om alles weer "in plek" te kry. 'n Titanium-kaakstel wat in my gesig ingebou is, is van Durban af gekoerier. Die dokters het vir my ’n pragtige neus opgebou van been wat hulle uit my skedel gesny het. Hulle het ’n veloorplanting gedoen. My lippe is ook opgebou, en die tandarts het vir my tande gemaak. My verhemelte het effens skeef geheg en hy moes dus mooi meet en pas. Nou kan ek darem weer glimlag.

Ek lyk nie baie anders as voor die operasie nie, behalwe dat my wipneus nou reguit is! Die regterkant van my gesig is bietjie ronder as gevolg van die bindweefsel, en die veloorplanting-letseltjie regs van my neus is sigbaar.

Die Here is ongelooflik goed vir my. Ek kan nog sien, my nuwe neus kan ruik, my tande blink as ek lag terwyl ek die lewe geniet. Deur die hele proses het ek geleer om nooit te vra waarom dit met my moes gebeur nie. Ek bly dieselfde mens, hoewel innerlik veel sterker as voorheen, danksy so baie ondersteuning van familie en vriende, maar veral van my man, wat deur al die moeilike operasies aan my sy was.

Tersia Drotsky, Bethal, Mpumalanga