Soms gaan dit so woes in ons lewens as gevolg van vele dinge, dat ons vergeet om die mooi in die lewe te sien. Vanoggend weer is alles bietjie deurmekaar. Daardie tien minute wat jy later lê maak ’n groot verskil. Het nie opgestaan toe die alarm op my selfoon afgaan nie. Die ding kraai soos ’n hoenderhaan, net sodat ek my kan verbeel ek woon op ’n plaas. Ek druk dit dood en staan nie soos gewoonlik onmiddellik op nie.
O my aarde, hier kraai die haan weer! Moes toe al geweet het dis soos Judas se verraad. Die haan het gekraai en ek was nog in die bed, dus het ek myself verraai met die tyd. Opgespring, tande geborsel, kinders wakker gemaak op my pad na die kombuis. Koffie en daai eerste lekker sigaret van die oggend. Net betyds om die weer te kyk en te wonder of dit weer soos vele ander kere eintlik vandag so koud/warm gaan wees soos voorspel, of dit gaan storm of sonskyn. Jy weet mos die weervoorspelling is eintlik maar ’n raaiskoot, met respek gesê.
Nou ja, hier is dit toe al byna 6h55 en ek besef ek moet oor vyf minute die kinders by die skool gaan aflaai. My hare lyk soos ’n kokketiel se stertvere nadat iemand hom dwarsdeur die sparre van sy hokkie gesleep het. Nie nou tyd vir hare was, ek en kroos is laat. Trek sweetpak aan, crocs aan voete en daar gaat ons. Storm uit, in motor, warm nie eens die enjin op nie, ons gaan laat wees. Ek is op spoed, maar hoor van agter: “Ma, kyk hoe mooi is daai rooi blommetjie”. Ek het nie eens gestop om te kyk nie. Met die terugtog onthou ek egter die rooi en stop net langs die papawer - bloedrooi geklee in haar mooiste somersrok staan sy ewe parmantig regop langs ons oprit. Net so blommetjie alleen en ek besef die genade van God.
Hy is so groot en het die natuur so mooi vir ons geskep, maar tog kom ons dit dikwels nie meer agter nie. Ek het byna 10 minute net gesit en kyk na die delikate blom wat heen en weer deur die wind gewaai word en tog staande bly. Weer eens herinner dit my aan my eie lewe. Die wind waai, die son skyn, dit reën, dit sneeu in my siel. Maar hoewel al dié dinge soms te veel is, bly ek staande deur die Here se genade. Net soos die rooi papawer is ek ook mooi in Sy oë. Net so delikaat is ek as mens ook. Kom ons stop soms net om te besef hoe ongelooflik elke oomblik, geur, kleur en aanraking in die lewe is. Die lewe is kosbaar, moet dit nooit vergeet nie. Gaan stap buite en kyk om jou. Kyk na die kleure, ruik die geure, voel die wind. Stap rond en kyk of jy ’n mier kan sien of dalk ’n voël in die lug. Wat van wolke? Wat jy ookal daar buite doen, doen dit met oorgawe. En ek hoop vir jou onthalwe dat jy ook ’n rooi papawer sal sien... Magda Pepler, Montagu