Ek is ’n man van 51 jaar oud en was net vir 2 jaar in my lewe getroud. Ek het op 36 besluit ek is reg vir trou, maar die huwelik het op die rotse beland. Dalk was dit omdat die Hemelse Vader nie in die huwelik ter sprake was nie.

Ek het dertien jaar later by ’n aanlyn dating site gaan kers opsteek en ’n paar aangename geskeide vroue ontmoet. Maar dikwels het mense só seergekry in hul huwelike dat die arme swaap wat nóú opregte bedoelings met hulle het, dikwels met die intrapslag die volgende woorde moet hoor – “Julle mans!”

Glo my, dames, daar is net soveel mans daar buite wat deur die vroulike geslag verrinneweer is, én daar is net soveel Delila’s as wolwe.

Ek probeer dit net by vroue tuisbring dat as hulle op ’n dating site is, maar bevooroordeeld is, hul wantroue in mans nie op dié manier genees sal word nie. Die probleem is dieperliggend en jou wantroue in jou medemens kan net deur gebed en vergifnis verander. Die bevryding wat jy sal ervaar, is deur en deur die moeite werd.

Onthou, wanneer ons seergemaak is, vertel ons gewoonlik maar net óns kant van die storie. Doen selfondersoek en vergewe jouself eers en vind berusting. Daardeur kan jy jou kanse op geluk saam met ’n tweede of derde sielsmaat verbeter.

Ons soek almal liefde en vertroeteling, maar wees eerstens eerlik met jouself. Bewys dan dat julle niks met mekaar se verlede uit te waai het nie. Dan het julle goeie kans om saam ’n mooi toekoms tegemoet te gaan.

Alec Carte, Naboomspruit