My Manlief,

Dat die liefde ons onverwags bekruip het, kan ek nie teen stry. Ek het nooit verwag dat ek so kan voel nie. Dis ’n gevoel van "ek hoort hier!" Die eerste keer, toe ek perfek in jou armholte gelê het, het ek geweet dat dit MY plekkie is. Verlief met skoenlappers in my maag en my binnegoed wat bewe soos ’n bak halfgestolde jellie! Liefhê dat dit seermaak wanneer ek nie by jou is nie, my laat huil van bly wees en my laat glimlag tot die kinders en die honde my snaaks aankyk!

Ek kan nie wag om my lewe saam met jou te begin nie. Saam gaan ons nog baie sakke sout opeet, maar ek sien kans vir enigiets met jou aan my sy – van familiewaardes leer en al vier kindertjies grootmaak tot in die grootmenswêreld, siek wees, gesond wees, troos, bly wees, pyne en skete, winter, somer ... ek sien vir alles kans saam met jou.

Dat ek soms eiewys kan wees, is deel van my menswees. Ek het vir baie lank geglo om net my eie kop te volg. Ek het jou nodig in my lewe om soms raad te gee, leiding te gee of selfs beheer te neem. Ek glo ons sal mekaar aanvul. Jy inspireer my reeds – ek kan nie onthou wanneer laas ek so geskryf het nie! Jy laat my spesiaal voel, fisiek & emosioneel, begeerlik. Jy laat my glo dat drome waar word. Alles om my is beeldskoon, selfs die winterkoue, ek sien weer klein goggatjies raak en hoor die voëltjies sing. Doudruppels en kappertjieblare is weer ’n feetjie-towerwêreld! Die lewe is ’n lied.

Daar is nog baie wat jy van my gaan ontdek, soos dat ek van ’n vars, warm plaasbroodjie met appelkooskonfyt hou, dat jy enigiets met my kan regkry as jy dit met donker sjokolade kombineer, dat ek my kan inleef in ’n fliek en vreeslik kan snik! Dat ek soos ’n klein kindjie uit my maag kan skaterlag! Ek huil wanneer ek kwaad word. Ek kan met ’n lekker boek bly sit totdat hy deurgelees is en buite op die gras lê en prente van die wolke maak. En ek kook kos net wanneer ek daarvoor lus het.

Humor sien ek in byna elke situasie raak (soms nodig om bietjie ligsinnig te wees) en ek drink enigiets wat pienk is! Die belangrikste wat jy nodig het om van my te weet, is dat ek dankbaar is dat jy deel is van my. Ek sal elke oomblik saam met jou koester en nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons albei weet hoe kosbaar tyd is. Ek is lief vir jou.