My lewensmaat het in Januarie selfmoord gepleeg. Hy was lank werkloos en ons het moedeloos en depressief geraak, ten spyte van gebede en geloof.

As jy iemand skielik verloor, voel dit of ’n stuk van jou liggaam afgeruk word en ’n deel van jou siel ook saamgaan. Hulle sê wel tyd bring genesing, maar dis net ’n rofie wat ná ’n lang tyd oor die wond groei.

Daar is altyd goed wat jou aan daardie persoon herinner – dalk iets wat jy hoor, ’n artikel in ’n tydskrif, iets op TV, die reuk van naskeermiddel of iets lekkers wat jy eet. Vir daardie oomblik skeur jou hart weer uitmekaar. Dis bittersoet herinneringe.

Wat ek wel uit my hartseer geleer het, is dat ’n mens nie ’n probleem moet los en dink dit gaan vanself opgelos word nie. As daar enigsins ’n meningsverskil is tussen jou en wie ook al, sorteer dit so gou moontlik uit. Die lewe is baie korter as wat ons dink. As daardie persoon skielik uit jou lewe geruk word deur die dood, sit mens met al die selfverwyt en vrae.

Dis waar wat mense sê: “Leef elke dag voluit asof dit jou laaste dag is, want daar is dalk nie ’n môre nie.”

Adele van Klerksdorp