’n Mens het twee keuses as jy jonk is en jy word getref deur iets soos Tipe 1-diabetes. Jy kan jou terugtrek en in ’n hoek gaan sit. Of jy kan soos Mark Hewlett besluit om jou lewe vol nuwe uitdagings te verf. Mark is ’n model by ICE Models en die algehele wenner van die Amerikaanse NBC-realiteitsreeks Fear Factor van 2003. Hy woon deesdae in Nieu-Seeland, maar hy is oorspronklik van Zimbabwe en meer onlangs van Durban. Nee, hy’t nie aan Fear Factor deelgeneem met die oog op die lekker dollars nie, vertel hy op ’n onlangse besoek aan Suid-Afrika. Hy wou pret hê, sy siektetoestand ten spyt.

’n Lewe met diabetes
“Ek was verpletter toe diabetes drie en 'n half jaar gelede by my gediagnoseer is, maar dit het my nederig en empaties gemaak, en my aangespoor om voortdurend uitdagings aan myself te stel.” Sy vier daaglikse inspuitings insulien is in ’n drasak om sy maag vasgegord. “’n Mens leer om daarmee saam te leef.” Hy het dadelik ná die diagnose opgehou rook, hy besoek die gimnasium getrou en sorg dat hy gereeld die regte kos eet. “Ek het ’n pakkie sigarette per dag gerook en dit was nie maklik om op te hou nie, maar ek moes leer om die regte gesondheidskeuses te maak. Ek drink ook die minimum alkohol.

"Ek dink mens moet veral die jeug inlig oor diabetes en daarom ondersteun ek die Diabetes Research Foundation in Los Angeles se insulien-navorsingsprojekte en ek probeer mense in Suid-Afrika en Nieu-Seeland daaroor inlig. Dis veral belangrik dat die jeug weet waaroor dit gaan.”

 

Vir iemand wat lyk asof hy alles het, lyk hy tog ’n bietjie aan die skaam kant.

 

“Ek is ’n boykie van Durban”
Hy is sonder aanstellery. Sy blou oë is stout, sy gesig lyk soos daardie mooimens-advertensies met die wit glimlagte, perfekte simmetrie. Hy is kleiner as wat ek verwag het en het ’n stewige handdruk. En vir iemand wat lyk asof hy alles het, lyk hy tog ’n bietjie aan die skaam kant. “Lyk ek oukei?” vra hy terwyl hy sy blonde hare, wat onder ’n blou pet was, ’n bietjie deurmekaar vryf en begin poseer vir die kamera. Hy dra jeans, ’n T-hemp en plakkies. Geen ontwerpersdrag vir hom nie, dankie. “Ek is ’n boykie van Durban wat hou van kuier saam met my gesin en vriende.” Hy kon net sowel in sy woonkamer TV kyk, so gemaklik is hy voor die lens. Mark het as top-model al saam met groot fotograwe soos Herb Ritts en David La Chapelle gewerk vir onder andere Giorgio Armani en ’n reukwater-advertensie vir Jean Paul Gaultier. “Ek kan maar nie stil sit nie en het ook my eie modereeks, 3, in Nieu-Seeland.” Dié sexy pants, wat op surf-drag trek, pryk aan die lyf van sterre soos Sting, Alyssa Milano en Carmen Electra.

“Ek het besluit diabetes gaan my nie onderkry nie. Ek doen soveel moontlik. Om aan Fear Factor deel te neem was ook ’n persoonlike doelwit - iets wat ek aan myself wou bewys. Dit was ’n geestelike en fisieke stryd en dikwels baie moeilik. Noudat ek gewen het, het ek opnuut besef niks is onmoontlik nie. Dikwels moet ’n mens jou vrees kaalhand takel en eenvoudig daardeur breek.” Mark blink nie verniet uit in adrenalien-sporte soos ski, branderry, reksprong en driekamp nie. Een van die ergste Fear Factor-toertjies het behels dat sy arms met boeie om sy heupe vasgemaak is terwyl hy in ’n perspeks-kis uit ’n helikopter hoog in die lug, met die see 80 m onder hom, soos ’n woer-woer getol is. Hy het ’n sleutel gekry om die boeie oop te sluit en kon dán eers uit die kis bevry word. Hy trek nou nog sy gesig in afgryse as hy daaraan dink. “Dit was ’n nagmerrie-ondervinding, maar ek het kalm gebly en gefokus op die probleem. Ek kry my vreesloosheid van my ma, Pattie. Sy sien vir enigiets kans. Haar energie is ongelooflik.”

 

'As jy vrees reg aanwend, kan dit op sukses uitloop.'

 

Sy ouers het ’n paar jaar gelede uit Zimbabwe na Nieu-Seeland getrek. Mark woon daar sedert die begin van 2004, waar hy as platejoggie vir die ZM-radiostasie werk. “My pa, Neil, is nou ’n suksesvolle sakeman. Hy is een van my grootste inspirasies. Ek het met ’n deel van die prysgeld vir hom ’n motor gekoop. Hy was altyd daar vir my. Die Zim-lewe op die wildplase naby die Victoriaval, wat drie geslagte lank aan ons familie behoort het, is sy eintlike passie. Maar wat kan ’n mens nou doen? My ouers het letterlik alles agtergelaat. My pa se tandeborsel is seker nou nog waar hy dit die laaste keer gelaat het.”

“As Afrika eers in jou DNS is, kry jy dit nie uit nie”
“Afrika het so baie gesinne versplinter. Dis ’n jammerte, maar as dié kontinent eers in jou DNS is, kry jy dit nie uit nie. Dis nog steeds my ‘huis’ ná al die jare in die buiteland. Ek mis die ruimte en die bekendheid. Miskien, nadat ek dit ‘gemaak’ het in die Eerste Wêreld, keer ek eendag weer terug na die Derde Wêreld. Ek mis Suid-Afrika.” Hy vertel dat geregte soos sadza wzadwe sy mond laat water en ver laat terugdink aan die dae toe hy Shona op die Zim-plaas gepraat het. “Dié potjiekos is vol rissies, neute en grondboontjiebotter - die wonderlikste Shona-dis van Zimbabwe. Hou jy van kosmaak? Jy moet dit ’n bietjie eet.” Dan demonstreer hy hoe mens dié vleisdis ook in ’n koolblaar kan toerol.

Jare gelede, onthou hy, was die bos hul “agterplaas”. “Ek het toe al graag die vinnigste perd opgesaal en die wêreld met ’n motorfiets platgery. Miskien is dit omdat ek ses weke te vroeg gebore is! Dit was dalk die begin van my onversadigbare lus om nuwe dinge te beleef. Vandag weet ek: Vrees veroorsaak nie net mislukking nie. As jy dit reg aanwend, kan dit uitloop op sukses.” Hy het baie lesse in die natuur geleer en vertel: “’n Gewonde buffel is die gevaarlikste, vreesloosste dier in die natuur. Jy kan tussen leeus instap en hulle goed uitkyk, en die kans is goed dat hulle jou sal uitlos, maar moenie met ’n gewonde buffel lol nie.”

’n Mens wonder hoekom hy so suksesvol is in alles wat hy aanpak? “Miskien omdat ek so aanpasbaar is.” Hy is in Zimbabwe gebore, het ’n hele paar jaar saam met sy ouers in Houston, Texas, gewoon; toe is die gesin terug na Zimbabwe en van daar is hy na Durban. En toe speel hy model in die res van die wêreld - Engeland, Frankryk, Amerika, Duitsland. Hy is ook as akteur by die American Academy of Dramatic Arts opgelei. Die fliek Changing Ghosts, wat onlangs in Los Angeles verfilm is, word in 2005 uitgereik. “Dit maak my sommer baie opgewonde. Ek het darem ook al baie geleer uit die musiekvideo’s van mense soos Mike T, Bosson en Toni Braxton waarin ek al opgetree het,” vertel hy.

 

'Gewoonlik is niks so erg dat ’n mens dit nie kan oplos nie.'

 

'n Mense-mens
Nie ’n bang haar op sy kop nie, maar darem ook menslik. Marietjie Neethling, ’n Afrikaanse vriendin wat naby hom in Nieu-Seeland woon, laat hoor per e-pos: “Mense dink Mark is ’n vreeslose macho ou, maar eintlik is hy baie sensitief. Hy is mal oor sy ma en eintlik ’n bietjie van ’n mamma-se-seuntjie. Jy moet hulle saam sien om dit te verstaan. Hul oë is ewe ondeund.” Sy vertel van die slag toe hy by haar gekuier het en van haar mossels in kokosneutmelk, ’n sop, huis toe wou neem. “Ek was bang dit gaan uitmors as hy op die motorfiets ry. Whatever you do, don’t fall, sê ek toe vir die Fear Factor-wenner!” Sowat ’n halfuur later bel hy en vertel dat hy vir ’n vrou se hond in die pad uitgeswaai en op die sypaadjie beland het. Mosselsop in sy baadjiesak. Die vrou was baie beïndruk deur sy goeie maniere en toe sy besef dis die ZM-DJ, het sy die radiostasie dadelik gebel. Die volgende dag het die hele land van Mark se “mosselsop-insident” geweet. “Hy raak nie eintlik kwaad vir ander nie, maar wel vir homself. Hy het die gewoonte om sy badwater in te tap en dan iemand te bel. Toe sy woonstel die eerste keer oorstroom het, was dit ’n grap. Die tweede keer was hy moedeloos, maar gelukkig neem hy homself of die lewe nooit te ernstig op nie,” vertel Marietjie.

Mark glo ’n mens moet jouself altyd uit elke situasie kan verwyder en terugkyk en vra: Wat is die ergste wat kan gebeur? “Gewoonlik is niks so erg dat ’n mens dit nie kan oplos nie. Dis dan dat jy besef hoe ’n ou klein spikkeltjie elke mens op aarde is. En dan vra jy jouself af of ál die vrees en bekommernis werklik die moeite werd is.” Daarom benader Mark elke dag soos ’n kunstenaar ’n leë doek. Dan sit hy kleur by.