Op 20 Maart is dit presies vyf jaar. Die dag toe 'n fratsongelukmet 'n gasstofie in hul houthut naby Kleinmond die wêreld van een gesin onherroeplik verander het.

Vir Erica Neser, haar man, Paul Nieuwenhuis, en hul kinders Roald (toe 11), Aniek (9) en Mila (20 maande) sou dinge daarna nooit weer dieselfde wees nie. In haar boek, Een voet voor die ander, wat verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn het, beskryf Erica die oomblik toe alles verander het: "Paul buk af om iets te doen met die gasbottel. Skielik is daar 'n vlam reg op hom. Hy slaan tevergeefs na die vlam met 'n vadoek. Binne sekondes besef ons dit kan nie geblus word nie. Dis gas wat uitspuit en vlamgevat het. Ek begin skree. 'Kry die kinders! Kry die kinders!' Soos 'n dier. Nie my stem nie. Oor en oor."

Aniek is uiteindelik met 95% brandwonde in die Rooikruiskinderhospitaal in Rondebosch, Kaapstad, opgeneem met haar kans sowat 20% op oorlewing. Paul, wat hul dogter uit die brandende hut gered het, het 30 - 40% brandwonde opgedoen en by die randjie van die dood omgedraai. Roald het oppervlakkige brandwonde op sy gesig gehad, maar Erica en Mila was ongedeerd.

Vir die gesin het 'n lang pad voorgelê,'n pad vol pyn, onsekerheid, worsteling, operasies, terapie, hospitale, sielkundiges, krisis op krisis, maar ook baie liefde, wonderlike dokters, matelose ondersteuning en gebede - ligpunte midde-in die donkerste donkertes.

Erica, wat moes staande bly - die spil waarom almal nou gedraai het - het "gedoen watnodig is": Net aanhou stap.

"As mense sê ons was so dapper, dan skud ek net my kop. Aniek het dit so mooi gestel: 'Mamma, ek is nie dapper nie, ek skreeu dan heeltyd.' Maar dalk is dit maar hoe jy deur so iets kom: Jy skreeu en huil, maar dan droog jy jou trane af, jy staan weer op en beweeg vorentoe. Maak nie saak wat nie."

En midde-in alles was daar die hoogtepunte:

"Soos toe ons ná ses weke hoor Aniek se lewe is nie meer in gevaar nie. Ook haar eerste dag terug by die skool, tien maande ná die ongeluk. En vir my was dit 'n sirkel wat voltooi is toe ons byna twee jaar later terug is na ons vakansieplekkie en Aniek weer in die rivier kon swem, soos tevore."

 

Niks kan jou voorberei nie op die prentjie van jou fyn feetjiekind toegedraai in verbande op 'n hospitaalbed . . . so weerloos.

Aniek is gebore met 'n baie sterk wil. Sy het presies geweet wat sy wil hê en dit gewys. Later het sy ontwikkel in 'n skaam, stil dogtertjie, so 'n ou fyn mensie. Maar met die ongeluk het sy ons almal verbaas met hierdie geweldige ysterwil wat na vore kom, daardie wil wat ons by haar as kleuter gesien het.

Mense praat baie oor haar veggees en haar vermoë om te oorleef. Niemand in Rooikruis het al haar erge graad van brandwonde oorleef nie - dit het ek eers later gehoor. Haar reaksie hierop was: 'Mamma, dis nie veggees nie, ek het net daar gelê en probeer doodgaan.'

Sy het 'n aweregse sin vir humor wat ons gereeld laat glimlag. Ek dink sy sal eers as volwassene besef hoe 'goed' sy dit eintlik hanteer het.



 

Jy het altyd 'n keuse, jy kan altyd kies wat jou houding gaan wees.''

Natuurlik was daar ook verskriklik baie trane - ek moes baie troos, baie bemoedig, haar emosioneel vashou, al kon ek haar aanvanklik nie fisiek vashou nie. Dit was eintlik ironies, want as babamasseer-instrukteur is ek juis so op velkontak tussen ouer en kind ingestel.

Ek moes tot 'n groot mate die kraantjie in my eie hart toedraai. Ek kon nie saam met haar huil oor die goed wat sy moes deurgaan nie, want dit het haar geweldig ontstel. Ek het dit op ander tye en plekke gedoen.

In daardie eerste maande het ek soggens 45 minute vir myself gehad in die motor op pad hospitaal toe, en dan saans weer 45 minute op pad terug Stellenbosch toe, huis toe. Dan kon ek huil sonder dat iemand my probeer troos. Ek het musiek geluister, baie trane gestort en baie vrae gevra waarvoor daar nie antwoorde was nie.

Aanvanklik wil jy eintlik maar net hê dit moenie so wees nie - alles in jou skreeu: 'Nee!' In so 'n skoktoestand is dit net adrenalien wat jou aan die gang hou. Slaap en huil en jaag tussen twee hospitale - Paul was in die Tygerberghospitaal, baie swak en gedisoriënteer.

Van dag een af het ons familie van ver gekom om ons by te staan.

Daar was baie ondersteuning uit alle oorde.

Dan begin jy mettertyd soort van aanpas by die gedagte dat jou kind in die hospitaal is en dit lyk nie asof daar 'n einde in sig is nie. (Sy was vyf maande daar.) Geleidelik kom jy in'n ritme - sy is elke tweede dag na die teater waar haar verbande onder narkose vervang is - dan wou sy net vir my hê, die pyn ondraaglik.Tussenin moes ek by Paul aangaan en kon ek eers saans by my ander twee uitkom - Roald op 11 so kwesbaar en Mila soma-vas, asof sy aan my ge-velcro is.

Albei het my nét so nodig gehad. Baie mense het vir my ingestaan, maar dit was nie ek nie . . . Ek het nie probeer dink wat voorlê nie. Mense sou vra: 'Wat gaan jy maak as Aniek 'n tiener is?' Ek het nie geweet nie. Ek het net gefokus op wat ek op daardie oomblik moet doen. Op 'n manier beskerm jou brein jou, jy dink eenvoudig nie aan te veel langtermyndinge voor dit regtig nodig is nie.

Ek moes myself dwing om saaklik en staande te bly.

Ek het net een keer sleg gevou toe ek hoor Aniek sou benewens drukverbande vir haar hele lyf ook twee jaar lank 'n gesigmasker moet dra - net haar mond, neus en oë sou uitsteek. Toe wou ek in 'n bondeltjie inmekaarsak. Gelukkig kon ons 'n ander plan maak, en sy het buitendien geweier om die masker te dra.

Toe die boek met ons storie verlede jaar verskyn, het Aniek gehuil. 'Mamma laat dit so erg klink.'Toe sê ek: 'Maar dit wás so erg.' Want ek dink sy het toe nog nie regtig gehuil oor wat gebeur het nie - oor pyn of frustrasie dat sy nie kon speel nie, ja, maar sy't nog nooit getreur oor wat gebeur het nie.

Ek sal seker nooit heeltemal daardie verlies verwerk nie.

Dis ingewikkeld. Jou kind is nog hier, en sy is nog sy, maar sy is nie meer dieselfde nie. Ek treur oor iets wat ek verloor het, en tog het ek haar nie verloor nie. As mense vir my gesê het jy is seker so dankbaar sy lewe nog, dan wou ek sê: 'Nee, ek wil nie nou dankbaar voel nie, ek wil kwaad en hartseer en histeries voel.'

Eers heelwat later was ek regtig  dankbaar en bly sy het oorleef, maar vir 'n ruk was dit net 'n nagmerrie. Ek het eendag vir haar gesê ek sal enigiets doen om met haar plekke te ruil. Sy kon dit nie verstaan nie, maar dis iets wat sy sal verstaan as sy self eendag 'n ma is.

 

Jy is al erger dinge in jou lewe deur, ek weet jy kan dit doen en dit gaan oukei wees.

Meestal was al uitweg om eerlik met haar te wees en vir haar die feite te gee. Ná vier maande in die hospital het sy nog glad nie haar gesig gesien nie, ons moes haar voorberei. Ons was verbaal vir haar 'n spieël: Hier is dit rou, daar is oorgeplante vel, merke vansteke . . . Later het hulle haar eers in 'n tandarts-spieëltjie laat kyk, en later in 'n geleidelik groter spieël . . . en toe is ons ook daardie hekkie oor.

Aniek is vanjaar vir die eerste keer hoërskool toe.

In die afgelope vyf jaar was daar baie eerstes vir haar. Sy is uit die hospitaal ontslaan in 'n rolstoel met verbande van haar nek af ondertoe, en spalke waarmee sy snags moes slaap. Sy moes weer die wêreld indie oë kyk, vir die eerste keer. Winkel toe. Restaurant toe. Kuiermense. En maande later, skool toe.

Sy't elke keer vasgeskop, want wát gaan die mense dink, gaan hulle vir my kyk? Dan moes ons ferm wees: 'Jy is al erger dinge in jou lewe deur, ek weet jy kan dit doen en dit gaan oukei wees.'

En dan was dit oukei.

Ons het baie gepraat oor wat regtig belangrik is: Is dit hoe jy lyk of wat binne jou is? En ook gepraat oor wat sy nie kan doen nie as gevolg van die ongeluk. Goed, sy sal dalk nie 'n sportster word nie (maar sy ry baie graag perd) en dalk is model-wees uit (soos vir die meeste van ons).

Dis wonderlik hoe aanpasbaar kinders is. Sy is deur baie rehabilitasie en terapie, en die herinneringe van hoe sy gelyk het, raak vaer. Sy kan vir nog plastiese chirurgie gaan, maar sy wil nie. Dis nie nou vir haar belangrik nie. Dit pla haar nie.

Verlede jaar het sy 'n modelkursus saam met haar maats gedoen. Sy is deur die hele storie, van hare en grimering tot naels, en uiteindelik was sy selfs op die verhoog om haar sertifikaat te gaan haal. Haar maats by die skool het haar so goed aanvaar. Veral een goeie maat wat van kleuterskool saam met haar kom, het elke Sondag in die hospitaalvir haar kom kuier. Dit het baie gehelp om haar maklik te laat inskakel in die skool. Ek dink haar maats sien dit nie eers meer raak nie.

Maar baie keer as ek na haar kyk, wonder ek nog: Hoekom het dit gebeur? Mense sê so maklik alles het 'n doel. Maar daar is nie 'n rede hiervoor nie. Al wat jy kan sê, is ongelukke gebeur.

Ek het wel baie dinge op die moeilike manier geleer en baie van myself geleer. Ek het myself nooit as 'n sterk mens beskou nie. Ek was nie een van daardie raakvatters nie. As iemand my skeef aankyk, wou ek sommer huil.

Ek moes skielik ontwikkel van hierdie softy na die sterk mens wat in beheer is.

Ek weet nou 'n mens kan baie meer hanteer as wat jy gedink het. Jy het altyd 'n keuse, jy kan altyd kies wat jou houding gaan wees.

Spirituele worsteling

Ek het spiritueel deur geweldige worsteling gegaan. Geloof was nog nooit vir my 'n eenvoudige saak nie. Duisende mense het vir ons gebid, en al weet ek nie of dit Aniek en Paul se genesing aangehelp het nie, weet ek dit het my gehelp om te weet mense bid vir ons. Mense was net wonderlik, hulle het ons so vasgehou.

 

Paul was ongelooflik swak toe hy ná vier maande ontslaan is, hy kon nie eens 'n glas water vashou nie, wat nog te sê werk. Maar die druk van finansiële kwellinge is heeltemal van ons afgeneem - daar is 'n trust gestig en mense het vrygewig gegee.

In Rooikruis beland daar elke jaar duisende kinders met brandwonde, baie van hulle van townships wat nie toegang tot hierdie soort ondersteuning het nie. Daar's kinders in die brandwondsaal wie se ouers nie kan bekostig om hulle elke dag te besoek nie. Dan besef jy ons is eintlik die gelukkiges, nie net omdat Aniek leef nie, maar al die ondersteuning. Daarsonder sou ons nie hierdeur kon kom nie. Vandag kan ek met eerlikheid sê: Nou kyk ons vorentoe.

*Besoek ook www.aniek.co.za en www.pbp.org.za.