Brief Nr.1 (op SARIE-forum)

Hoe begin mens so ’n storie? Ek het hierdie storie al so baie gebieg – en tog bly dit deel van my en dit sal seker vir die res van my lewe in my gene verweef wees. Dalk nie so ’n slegte ding nie, want tog, ten spyte van alles wat gebeur het, kan ek terugstaan en sê: “Dit het gebeur en ek het so ongelooflik baie daaruit geleer.”

Ek raap gewoonlik die boeke op en lees vinnig as daar oor affairs geskryf word. Soos nou weer in die nuutste uitgawe van SARIE, “SA mans en affairs ... die storie lees net anders, eintlik heel anders in my geval. Kom ons noem dit “’n SA vrou en haar affair.” O ja, vir soveel mans wat affairs aanknoop, moet daar tog net soveel vroue wees, nie waar nie? Die meeste inligting en artikels wat ek egter daaroor raakloop, is altyd die verhaal van die man wat rondloop en die arme vrou wat die slagoffer daarvan is.

Vir lank het hierdie weergawe my ook om koffietafels, teetafels, bidure, skoolkonserte agter my hand laat geskinder saam met mede-vroue. Dinge soos die duiwel, kan jy glo ... hy loop rond, het sy vrou met sy sekretaresse verneuk, is met beste vriendin betrap, weggeloop saam met ’n jong blaar ... bla-bla-bla. Tot ek ook tot ’n groot mate stadig maar seker binne die konteks van hierdie lewe van buite-egtelikheid ingelaat is en met soveel meer begrip daar uitgestap het as wat ek in my wildste drome sou kon droom.

Ek’s getroud (ja, steeds) met ’n ongelooflike nice man. ’n Varsity-liefde uit die boonste gestoeltes. Die hofmaak-tydperk was uit die boeke, die verhoudings met die skoonfamilie was perfek, die verlowingstydperk was ’n diepe besinning oor die groot stap wat ons sou neem en die voorbereiding getrou. Ek kan nou terugkyk en sien hoekom dinge só vir ons gebeur het, en tog weet ek niks sou ooit anders gewees het nie. Ek sal heel waarskynlik dinge wéér so doen. Die enigste verskil sou wees, die invloed en voorskrifte van die lewe daarbuite sou nie nou so ’n groot invloed op my gehad het nie (en die redes waarom ek wou trou, sou deurdag gewees het). Maar ek weet ook ek sou die druk van buite steeds nie op 23 kon hanteer nie. Ek sou weer geswig het voor alles soos wat ek toe reeds gedoen het. Ons lewe – hoe lyk dit?

Twee kinders, ’n man wat goed is, ons kan lekker baklei, mekaar verkriklik slegsê en weer opmaak met wonderlike passie en goeie seks. Ons beplan saam, maak saam groot aan ons kinders en dink na oor ons oudag. Ons is al deur diep waters in terme van finansies, werk en geloof – alles in die normale beloop van ’n volwasse lewe. Ware surbuban bliss, ’n doodgewone week van Maandag tot Maandag, dans, gaan kerk toe, werk, begroot, beplan, leef, kyk TV, gaan kamp, doen die Kersfees-ding saam met familie, doen die verjaardag-ding, doen die kuier-saam-met-pelle. Wat kan die probleem tog wees?

Ons het elkeen ons eie lewe begin lei. Hy kyk naweek ná naweek, vir ure aaneen rugby, krieket, gholf. Sy wêreld draai om sy werk. Hy is gek oor kamp en die buitelewe, lees dikke boeke deur en geniet kuiers om ’n vuur.  Ek daarenteen word eensaam sonder mense om my. Ek hou nie werklik van sport nie en sukkel om vatplek aan die kampeerdery te kry (maar ek doen dit in elk geval). Ek moet erken, êrens op hierdie reis het ek my eie identiteit verloor – iets soos die runaway bride wat nie eers geweet het hoe sy haar eiers eet nie. Ek het die konneksie met my man verloor. Ek is steeds lief vir hom, miskien ’n gewoonte-liefde. Die passie was nie meer daar nie. Die stomende verliefdheid het plek gemaak vir gemak en gerief, als wat gewoond en bekend is.

Maar ek verstaan dit is mos veronderstel om so te wees. Wie is nou so stuitig verlief op 40? Wie druk, soen en vry in die openbaar? Ek het baie die behoefte gehad om dit te doen, my man tot wilde, stomende seks in ’n hyser te verlei of op die strand liefde te maak soos toe ons studente was. Om weg te loop en te gaan dans regdeur die nag. Sy antwoord dan altyd: “Genade, ons is mos nie meer kinders nie. Hoekom jou so loop stuitig hou?” My vriendinne se reaksie: “Ag, nee wat, dis bog! Liefde is diep en ge-settle op ons ouderdom.”

Ek het nie so gevoel nie. Ek was gereeld besig om planne te maak vir avontuur en verliefdheid met wegbreeknaweke in eksotiese hotelle, passievolle seks en wonderlike intieme oomblikke. En my man? Hy het altyd eerste vasgestel of daar ’n DStv-skottel is, hoe ver die gholfbaan was en of daar ’n nice braaiplek onder by die parkeerarea van die hotel was. Dit was ’n doodsteek en my alleenheid het bly groei.

Êrens het ek gewonder oor die lewe. Genade, het ek gedink, is dit die lewe? Vir altyd? Nie dat dit sleg was nie, maar die eentonigheid, die voorspelbaarheid en die saai gemak het tog in my onbewuste lê en prut.

Een oggend, ná 15 jaar van getroude lewe, het daar ’n man by my kantoor ingestap en met sy skamerige glimlag vir ’n splitsekonde met my oogkontak gemaak. Dit het iets in my wakker gemaak wat dinge vir altyd sou verander. Ek kan argumenteer dat ek kwesbaar, eensaam en alleen was, midde-in ’n identiteitskrisis. Ja, alles is waar, maar ook nie. Hy het met my ge-connect, en op daardie oomblik was daar, sonder dat ek dit wou hê, ’n fladdering in my maag. Hy was getroud, ek was getroud en ons het geen grense vir twee jaar oorskry nie. Ons het net lekker gesels, baie lag en stadig maar seker meer drome, ideale, gedagtes, gebeure, versugtings en frustrasies begin deel.

Dinge waarvoor my man nie lus was of nie tyd voor gehad het nie, hiervoor het die kollega tyd en begrip gehad. Nog nooit het ’n verhouding my gedagtes vertroebel nie – ek het nie gedink aan seks met my kollega nie. Hy was net ’n nice pêl. Eintlik, as ek nou terugkyk, het dit stadig maar seker in ’n emosionele verhouding verander. Ek was te skaam om aan my kollega enigiets te erken, ek’t dit net in my kop gedink. Ek’t gedink dis dalk net ek wat so voel en ek sal nie die vernedering staan as ek so iets aan hom laat blyk en dan voel hy nie dieselfde nie. 

Toe word my kollega verplaas na ’n ander provinsie, weg uit my lewe. Aanvanklik was dit sleg, ek het sy companionship gemis, maar gebid dat dit moet weggaan. Dit het nie. Hoe langer hy weg was, hoe meer het ek na hom begin verlang. Ek het in die nag oor hom gedroom. Ek het via die grapevine gehoor dat hy en sy vrou geskei is. Ek het hom ge-SMS om vir hom te sê ek dink aan hom. En toe? Toe is die poorte oop. Die intensiteit van ons vriendskapsverhouding het toegeneem. Dit het in ’n emosionele verbintenis en ’n verhouding ontaard.

Ons het gesorg dat ons tyd saam begin spandeer, al het ons duisende kilometers van mekaar gebly. Die avontuur, die opwinding, die nagte van gesels en drome droom het begin. Ons het op strande geloop, ure aanmekaar soos verliefde tieners gaan dans in vreemde stede waar niemand ons geken het nie. Ons het kaalvoet in die reën gehardloop, hy het my onophoudelik en aanmekaar gesoen. Hy het vir my gesing, gedigte geskryf, dinge onthou wat my man gedink het simpel is. Hy het oogkontak gemaak, my hare gestreel, my rug gekielie en my voete masseer. Ek weet hy het die grond aanbid waarop ek loop, ek kon dit in sy oë sien.

Die realiteit van hierdie buite-egtelike verhouding was ongelooflik. Ek het geweet dat dit net een ding beteken – baie pyn en lyding vir my man en kinders, ons familie en vriende. Hy het dit beëindig. 

Hy was (en is steeds) ’n wonderlike man. Die verhouding het vir vier maande aangegaan. Hoekom dan nou uitklim daaruit? Bloot omdat ek nie vir hom kon sê dat ek bereid sou wees om my man vir hom te los nie. Die realiteit wat ons gedeel het, was nie die volle realiteit van my lewe nie. Ek was stééds lief vir my man, en malverlief op hierdie ander man. Hy het ’n iets vervul wat my man nie gedoen het nie. Hy’t uiteindelik gesê dat hy my man se vuilwerk doen en dat hy nie bereid is om dit vir die res van sy lewe te doen nie. Hy was sterk genoeg om uit te klim. 

My brood was aan albei kante gebotter. Die einde was seer en bitter, bitter alleen, maar ek dank die Here daarvoor. Ek het besef dat ek die reguit pad met my man moes loop, hoe seer, hartseer en pynlik-vernietigend dit ookal mag wees. Ek het hom nie vertel van die verhouding nie, maar wel begin om hom van my te vertel. Ek’t my identiteit, die ware ek vir hom gewys. Dit was baie pynlik en hy voel dat ek vir 20 jaar ’n leuen geleef het. Ek luister wat my man oor my te sê het, hoe hy my ervaar. Dan vertel ek hom wat ek beleef, soms tot sy groot skok. Hy sien nou ’n deel van my wat hy nie geweet het bestaan nie. Ons is in ’n krisis, oor ons verbintenis en oor hoe ons dit bestuur, nie oor die buite-egtelike verhouding wat daar was nie.

Dit is nou drie maande ná die verhouding verbreek is. In my kop is ek op ’n goeie plek. Ek werk bitter hard aan my huwelik, ek het moed en ek sien uit na die pad vorentoe. Of ek op ’n punt vir my man daarvan sal vertel? Heel waarskynlik wanneer die tyd reg is en ons verhouding op ’n plek is waar dit die situasie binne konteks kan hanteer.

Wat ek hieruit geleer het:

  • Ek sal geen mens ooit weer veroordeel wat deur so ’n situasie gaan nie – nie ’n man of ’n vrou nie. 
  • ’n Mens word nie een in ’n huwelik nie, dis bog! ’n Mens is dalk ’n eenheid, maar daar is ’n ongelooflike groot verskil tussen eenword en eenheid.
  • Twee mense moet connect, nie fuse nie.
  • Geen mens kan al jou realiteite vir jou vervul nie, daar moet ruimte in ’n verhouding wees om jou identiteit ten alle kostes te behou.

Dit moes met my gebeur anders het ek ’n vals lewe gelei en heel waarskynlik in ’n verbitterde, neurotiese middeljare vrou verander met duisende hang-ups en klagtes.

Ek is baie gelukkig dat my storie in hierdie stadium so uitgedraai het. Dit is die grootste lewensles wat ek tot dusver in my 41-jarige bestaan geleer het. Die beste deel is dat ek in die lig loop, ek het gekies om nou myself te wees en ek hoop my man en almal rondom my sal hou van wie ek werklik is.

SARIE-forumgebruiker


Brief Nr. 2

As Amor steeds in Joost se onskuld glo, is sy selfs meer goedgelowig as ek. Ek twyfel geen oomblik daaraan dat Joost skuldig is nie, want ek weet hoe dit voel om verraai te word deur die persoon vir wie jy die liefste is, deur die persoon vir wie jy vertrou het met jou diepste vreugde, vrese, hoop en drome. Vir 6 ½ jaar was ek onder die indruk dat ek dol gelukkig getroud is.  Dit het egter sowat 8 maande terug verander nadat my man een aand gebieg het - omdat die Here hom tot inkeer gebring het. 

Hy het my vertel van al sy buite-egtelike verhoudings, voor en tydens ons huwelik.  Sy laaste (en op daardie stadium huidige verhouding) het begin terwyl ek hoog swanger was met ons jongste. Toe was dit al vir 2 jaar aan die gang. Slegs iemand wat al hierdeur is, sal die skok en ontnugtering verstaan. En die allesoorheersende, allesvernietigende pyn! My hart was een bloederige massa.  Ek was op 'n plek waar alle vertroue, hoop, drome, liefde en my selfbeeld vernietig was deur die koue lem van verraad.

Ek kon en wou dit nie glo nie, en sou dit ook nóóit geglo het as ek dit nie uit sy eie mond gehoor het nie. Wanneer jy iemand met alles in jou liefhet en 200 % vertrou, kom dit as 'n skok wat jou hele lewe tot stilstand bring. Ek het besef dat alles wat ek omtrent my man geglo het, 'n leuen was. Hy was 'n vreemdeling wat ek nie geken het nie.

Ek het nooit enigiets vermoed nie, en daar was geen, maar géén tekens van ontrou nie. Inteendeel, ek het die Here elke dag gedank vir al die seën in my lewe, vir my wonderlike man en pragtige kinders. Ons was dan só gelukkig? Ek het vir hom briefies geskryf waarin ek hom bedank het dat ek nooit hoef te wonder oor waar hy is nie, en dat hy elke aand huis toe kom na my toe. Op sy beurt het hy my gereeld bederf met geskenke, en ook vir my die mooiste briefies geskryf oor hoe gelukkig ek hom maak, en hoe ek sy beste maatjie en minnares is. 

Vandag weet ek dat daar geen waarborg vir 'n gelukkige huwelik is nie. Selfs al doen jy alles wat die slim mense voorskryf: Versorg jouself, beoefen gereelde seks, komplimenteer hom, wees sy beste maat... dit waarborg niks. My man erken self dat niks wat ek gedoen het dit veroorsaak het nie, en dat ek niks kon doen om sy ontrou te keer nie.

Ek reken mans wat hul vrouens verkul, dit almal om verskillende redes doen. Een voel afgeskeep, 'n ander worstel met wellus, 'n derde een het 'n swak selfbeeld en soek die bevestiging dat hulle 'n man is in seks, 'n vierde een is verslaaf aan seks, ens. 

Dis 8 maande later en ek huil steeds byna elke dag. Ek worstel met dinge soos vergifnis en hoe om die stukke van my lewe op te tel en aan te gaan. Die een ding wat my staande hou, is God wat my dra wanneer ek self nie kan loop nie. Vir diegene wat in 'n buite-egtelike verhouding betrokke is, of dit oorweeg, dink twee keer. Die pyn wat jy jou eggenoot aandoen is een van die seerste dinge ooit en ek weet nie of mens ooit heeltemal van so iets herstel nie.

Iemand wat weet, Vrystaat