Ons is terug in Suid-Afrika ná tien jaar in Engeland en sommige mense kan dit nie glo nie!

Natuurlik was dit nie ’n maklike besluit nie. Ek (42) en my man, Attie (47),’n tandarts, het lank daaroor gedink.Tien jaar gelede was ons wortels (en plooie) nie so diep nie en dit was maklik om ons hoede in Engeland neer te sit. En dié land was goed vir ons, die pond swaar in ons sak (ons is daar weg net vóór die groot ekonomiese insinking). Hoekom dan die onvergenoegdheid ná ’n dekade?

Destyds het ons – jonk, sorgeloos en reg vir ’n uitdaging – gehoor van werkgeleenthede vir tandartse.Ons het daar aangekom met net ’n werkpermit en ’n “soetkys” elk.

Ons het hegte bande gesmee met mense in dieselfde bootjie as ons.Later ons eerste moeë skakelhuisie gekoop, aangebou, geteël, geverf . . .Vrede gemaak met klein vertrekke en tuine, want ons moes self skoonmaak en bossies uittrek.

Ons het ons ingegrawe in ons nuwe land se kultuur, geskiedenis, politiek en ekonomie. Geleer ski en baie gereis.

Saam met twee SA vriendinne het ek ’n kommunikasie-maatskappy gestig en Afrikaanse boeke bekend gestel, skakelwerk gedoen en glansgeleenthede en musiekkonserte gereël. Ek het geskryf oor suksesvolle Suid-Afrikaners in die buiteland en my bors trots uitgestoot.

Tog was ons deeglik bewus van probleme by die huis. Die chaos in buurlande, misdaad, omgekeerde rassisme, skaars elektrisiteit . . .

Familie en vriende het ons ook op die hoogte gehou. Hulle het egter die goeie nuus in SA ontken – menseregte vir ’n ieder en ’n elk, regverdiger belasting, die rookwet,’n uitstekende bankstelsel, krag en water vir meer mense, ekonomiese groei.

Die gras is nie meer groener

"Weens die ekonomiese klimaat oorsee sien ons dat mense nou eerder praat van wanneer ons terugkom SA toe, pleks van as ons kom," sê Martine Schaffer, besturende direkteur van die Homecoming revolution, 'n organisasie wat opgeleide Suid-Afrikaners aanmoedig en help om terug te keer.

"Vanjaar het ons beslis meer navrae van Suid-Afrikaners wat wil terugkom. Baie mense is hul werk kwyt en dis nie maklik om  ander werk in Londen, of selfs Australië, kanada en Amerika te kry nie. Dis nou beter om 'n onderneming op 'n ontwikkelende vasteland te begin, en SA is die poort na die res van Afrika."

Martine het onlangs 'n werksessie in Londen aangebied om Suid-Afrikaners aan te moedig om hul eie sakeondernemings in SA te begin."Suid-Afrikaners oorsee is nou meer positief oor die land, omdat hulle kon stem in die buiteland. Die verkiesing was ook vreedsaam.

Mense besef die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie." *kry meer inligting by www.homecomingrevolution.co.za.

 

Ons het nie meer dieselfde verwysingsraamwerk as Suid-Afrikaners in SA gehad nie.Wat het ander geweet van ons frustrasies, emosies, ondervindings, en die gemis aan familie, vriende en die mense van Afrika – spontaan, vriendelik, aards en reguit? ’n Mens moet eers weggaan voor jy jou huis en mense werklik waardeer. Ek was tuis in Engeland,maar dit was nie huis nie.

Sou ek ’n gebore Brit wees, sou instellings soos die dole (lewenslange staatsonderhoud), koue Krismisse, sokker, oorbevolkte Ibiza-seevakansies en snobisme “natuurlik” gewees het. Ek sou nie Afrika se eerlikheid (soms dodelik) gemis het nie, want ek sou dit nie geken het nie.

Dus is ons nou bederf en weet hoe dit voel om suid én noord van die ewenaar te bly. Een planeet, twee wêrelde. In die noorde voel jy taamlik veilig om tienuur saans trein te ry. Alarms is nie algemeen nie. Daar is betroubare water, gas en elektrisiteit. Die politiek is stabiel en voorspelbaar. Die TV-keuses is ongeloofliken die Britse humor tops.

Opleiding vir volwassenes is puik enons het leer Frans praat, rekenaar-kursusse gevolg, leer saxofoon speel en tuinboukwalifikasiesbehaal.Daar's die internet-inkopies, kos-keuses in die supermarkte, die bedaarde Britse motorbestuurders.

Maar saam met al die soet ook die suur. Ons het in 'n oorbevolkte, Big Brotheragtige tronk gebly. Engeland is die land met die meeste kameras per stad ter wêreld. Jy word 36 keer per dag verfilm. Dit word gebruik om wetsgehoorsame burgers (sagte teikens) te beboet vir belaglike verkeers- en ander oortredings.Burokrasie, politieke korrektheid en menseregte het vloekwoorde geword vir belastingbetalers. Jy mag nie meer van Kersfees praat nie, want jy sal Moslems en minderhede beledig. Niemand mag 'n gloeilamp in 'n kantoor vervang sonder die korrekte "lêer-prosedure" en dokumente nie, en dit moet ná ure gedoen word.

'n Bakkery verkoop nie meer gemmerbrood-mannetjies nie, maar gemmerbrood-persone.Onderwysers weier om splinters uit kinders se vingers te trek en bel die ouers om dit self te doen. Kinders mag nie boomklim of papiervliegtuie gooi nie.'n Nuwe skool in Sheffield noem hulself 'n "Place of Learning" - want skool is 'n "negatiewe"woord.

Burokrasie is deels te blameer vir die Baba P-skande (hy is doodgemartel deur sy werklose ma en haar kêrel ná 60 besoeke van die welsyn en polisie), omdat werkers so oorlaai is met papierwerk dat hulle nie meer prakties hul plig kan nakom nie. Dis te duur om mense voor die hof te daag om hul mishandelde kinders weg te neem, daarom word die kinders by die ouers gelos.

Dan is daar die ongekende sedeloosheid en dronkenskap onder tieners. Naweke moet die polisie gevegte stopsit en beseerdes hospitaal toe neem, eerder as om misdaad te bekamp.Tieners wat saans rondhang by my plaaslike treinstasie (waar gebreekte bottels, gebruikte spuitnaalde en kondome rondlê), het my ontsenu.

Dis asof die Eerste Wêreld oorontwikkeld is. Die wiel word oor en oor ontdek en nuwe wette en reëls heeltyd geskep.Dit maak 'n mens se siel dood.Daarom het ons gevoel ons moet uit dié onsinnige wêreld breek en uitreik na ons mense in Afrika. Ons siele weer verkwik en ons tone in die grond kry, weg van die beton-oerwoud.

Ek voel nie soos 'n onderdaan van die koningin, haar prag, praal en protokol nie. Afrika pomp deur ons are, en ons Europese herkoms voel nou net veldiep. Êrens langs die pad het Afrika in ons bene en murg ingetrek en ons die onderdane van sy bekoring, en selfs van sy onrusbarende onvoorspelbaarheid, gemaak. Ek onderwerp my eerder aan sy son, saffier en vryheid. En selfs aan sy donkerheid.

Hiéroor het ons teruggekom

Charl (44) en Olivia Smedley (43) het ses jaar in Doebai gebly en byna twee jaar in Sydney, Australië. Hulle kom binnekort terug SA toe. Olivia vertel:

Ja, ons is in die land waarheen soveel Suid-Afrikaners wat emigreer, wil kom. Hoekom gee ons dié geleentheid prys? Ons het nie rasionele argumente nie. Ons rede is verbasend eenvoudig:Ons harte is in SA.

Ons hoofdoel destyds was om internasionale ervaring vir ons en ons kinders te kry. Die plan was nooit om SA permanent te verlaat nie. Doebai was 'n hemelse avontuur - die  verskeidenheid kulture, die hitte, luukses, die woestyn, die goeie vriende wat byna jou familie word in die vreemde.

Toe my man 'n pos in Sydney aangebied word, was dit 'n geleentheid om dié land eerstehands te ervaar. Ons het Australië beskou as 'n langtermynopsie vir ons kinders se toekoms. Maar ná Doebai was dit 'n kultuurskok.

Dis ver van almal en alles en dis moeiliker om met jou familie en vriende te kommunikeer  weens die groot tydsverskil. Die Aussies werkhard om 'n bestaan te maak en naweke is dit hul kinders en sport, so 'n mensmoet regtig moeite doen om uit te reik.

Ses maande nadat ons hier aangekom het,is my ma in SA oorlede.Dis reeds moeilik om in 'n vreemde land aan te pas.Om boonop hier te rou oor een van die belangrikste mense in jou lewe, waar niemand jou (of jou ma) ken nie, voel byna onmoontlik. Dit het die aanpassing erg gekompliseer.

Dis lekker om die vryheid hier te beleef, die gehalte van lewe te ervaar, maar as jy nie mense van jou eie het om dit mee te deel nie, voel dit erg leeg en sinloos.

Om terug te keer SA toe was een van ons moeilikste besluite nóg. Die meeste mense dink ons is die kluts kwyt - veral in die huidige ekonomiese klimaat. My man het uit sy gesogte pos in finansiële dienste bedank en ons kom terug huis toe sonder dat enigeen van ons 'n werk het.Tog is ons positief dat hy sy internasionale ervaring kan terugploeg in SA.

Bied Australië werklik meer geleenthede? Ná net twee jaar hier kan ons met oortuiging sê ja, ons glo Australië is 'n beter plek vir ons en ons kinders se toekoms. Maar sonder ons eie mense sal ons nooit regtig hier 'behoort'nie. Sommige mensekan die opoffering maak, ander (soosek) sukkel. Vir nou kies ek eerder sielsgelukkig (en bang) met mý mense om my om te help as die krisisse dreig.

Reeds ses jaar terug in SA uit Engeland

Daan (39) en Liza Zeeman (38) van Pretoria het ses jaar inEngeland gebly en is reedsses jaar terug in SA. Ondanks'n traumatiese misdaadervaring is hulle steedspositief. Liza, wat nou 'n suksesvolle tuinontwerponderneming besit, vertel:

ons het teruggetrek vir 'n meer aktiewe buitelug-lewe engeborgenheid. Suid-Afrikaners verskil nie veel van ander nasies nie. Almal het uiteindelik dieselfde behoeftes, prioriteite en drome. Vir arm Suid-Afrikaners is dit anders. Hoe kan jy dink aan selfverwesenliking en persoonlike doelwitte as jy nie eers weet waar die volgende stukkie broodvandaan kom nie?

Nadat ons teruggekom het, is my ma, wat soveel deernis vir haar medemens gehad het, in 2007 wreed op ons familieplaas vermoor deur 'n werker wat reeds 'n vonnis vir moord en Verkragting uitgedien het. Dis swaar om te verwerk.

Maar ons moenie broei oor ons omstandighede nie, want almal loop deur, ongeag jou kleur of finansiële status. Ons kan 'n verskil maak deur betrokke te raak by alle vorme van misdaadvoorkoming.

Ek leef voluit in SA en is positief oor baie dinge. Ons is 'n mengelmoes van kleure,  diversiteit, kreatiwiteit en entrepreneurskap. Dis lekker om te sien hoe ál meer gemengde groepe vriende om tafels kuier en ewe hard juig en kla oor ons lewe hier.

Ná 15 jaar oorsee weer terug in die Kaap

Julie Gibson (40) het 15 jaar in die buiteland gebly, onder meer in Taiwan en Hongkong. Sy het agt jaar gelede Londen toe getrek waar haar kêrel (nou haar man) gewoon het. Hulle het einde verlede jaar teruggekeer na Kaapstad.

Ons het toe reeds verwag Jacob Zuma gaan president word. Dit het nie ons besluit beïnvloed nie. Aspekte soos familie en die SA leefwyse het ons teruggelok. Die gevoel dat jy hier hoort, die warm mense, die wye hemelruim.

Tog was ek meer lugtig as my man om terug te trek. Ek is bekommerd oor die stabiliteit van die politiek en die ekonomie. Die feit dat Suid-Afrikaners in hul duisende emigreer, laat my wonder of ons die regte ding gedoen het. Jy moet gedurig op jou hoede wees en kan mense nie vertrou nie. Dis teen my grein. Die armoede om ons is erg. En die stadige pas en die swak administrasie.

In die proses het ek geleer jy word meer verdraagsaam teenoor mense soos jy aanpas op plekke. As jy buite jou gemaksone is, ontwikkel jy meer as mens. SA is 'n gesonde opsie met sy buitelewe en sport, ook vir kinders. Maar ek is nie seker oor veiligheid, opvoeding en die toekoms nie. Dit lyk nie asof ons standaarde meer van wêreldgehalte is nie . . .

'Mense praat nou eerder van wanneer ons terugkom SA toe. Pleks van as ons kom'. Martine Schaffer besturende direkteur, Homecoming Revolution

Ons het teruggekom omdat my man, Martin (34), sy pa se tandarts-praktyk oorgeneem het, en om nader te wees aan ons familie. Die misdaad en ons kinders se toekoms bekommer my. Maar die buitelewe is wonderlik en ek waardeer familie ook meer.

Martin sê: Ek wou stem in die verkiesing en 'n verskil maak. Ek is verlig die ANC het dié keer minder stemme gekry. Dit bewys hulle moet hul sokkies optrek en meer doen om die armes en die land te verhef. Ons moenie in negatiwiteit verval nie.Ons moet saamwerk en almal self 'n verskil probeer maak. Daar is ook meer stemme in die land omdat 'n paar van ons teruggekeer het van die buiteland, en elke stem tel.