Buite beheer, gefrustreerd, senuweeagtig. Én ongeduldig, eintlik byna histeries by tye en glad nie gemaklik met wat om my aan die gebeur is nie.

Ons TREK! (Alweer ...)

Wat van ’n ekstra lagie bubble wrap? Ek weet nie waar om te kyk of wat om te doen nie. Dit voel of ek oral gelyk moet wees. Ek wonder of my man se versameling kieries heel anderkant gaan uitkom. Die knop van een van die kieries lyk soos ’n olifant – met tande en al (uit Zambië). En wat van my groot houtraamspieël? Die breë donker raam is enig in sy soort en sal nie vervang kan word nie. Dit was ’n trougeskenk van my kleinboet – handgemaak. Moes ek nie liewer self alles gepak het nie?

Die sitkamer lê vol bokse, bubble wrap en tape. My sitkamer wat nou skielik nie meer soos myne voel nie. My roomkleurige kussings se binnegoed peul nou by die agterkante van die slope uit. Die sitkamerbanke wat ek en my man laasjaar met my bonus gekoop het, is nou styf toegemaak in kartonne en bubble wrap. Ons was in al die winkels op die dorp voor ons hierdie stel gekry het. Dit lyk nogal asof dit heel anderkant gaan uitkom – die verpakking is so goed gedoen dat die bank se vorm presies lyk soos voordat dit toegemaak is.

’n Landskaptoneel, ligtoring en nog ’n paar ander skilderye word ook een-een toegedraai. Dan volg die eetkamertafel en houtkis. Die houtkis is erg spesiaal – ek het dit by ouma geërf. My ouma het hierdie een gebruik om haar handgemaakte seep in te bêre. Ons het dit net ná ons troue mooi afgeskuur en vernis.

“Sorry,” sê een van die vreemdelinge en stap verby met ’n lessenaar. Die vier laaie wip oop en toe soos die lessenaar getilt word. Ek wou nog iets sê, maar my emosies kry die oorhand. Die herinneringe wat elke meubelstuk by my laat opkom, is meer as wat ek kan tel. Ek weet ek moenie so emosioneel wees nie – dis tog net aardse goed en het nie ewigheidswaarde nie.

Ek besluit om my vir ’n rukkie uit die voete te maak – so moeilik soos dit is. Miskien moet ek vir hierdie vreemdelinge gaan koeldrank koop – vir energie en sodat hulle nie my kosbaarhede per ongeluk van moegheid laat val nie. Dalk sommer ’n toebroodjie of twee – net sodat hulle kan sien ek is baie dankbaar en om seker te maak hulle doen die ekstra moeite vir my. Dit moet net nie vetterig wees nie, want dan gaan hulle my meubels vuil vat, dink ek toe ek in die winkelrak afloop na die bakkery se kant toe.

Terug by die huis deel ek die proviand soos ’n wafferse heldin uit. Ek kom braaf en dankbaar voor – asof ek geen bekommernis in die wêreld het nie.

Dan vat ek die pad lorrie toe. Ek is aangenaam verras – al my kosbare goedjies is netjies in komberse toegemaak en word soos ’n legkaart in die lorrie gepak om seker te maak niks skuif rond of val nie. Elke stukkie van die legkaart is ’n stukkie van my. Elkeen vertel iets van waar ek vandaan kom en wat ek al beleef het.

Buite op die gras staan nog net ’n laaikassie. Eensaam op die kaal stuk gras. Darem nie vergete nie, sien ek later. Nog later hardloop ek rond en neem foto’s: van my huis wat leeg raak, van die bokse wat rondstaan (ek wonder in watter een is die donkerbruin koffiebekers wat ek Kersfees present gekry het?) en van die tuin waaraan ek so lank gewerk het. Ek staan ’n bietjie stil by die tuin – dis moeilik om die helderkleurige gesiggies daar te los – hulle is van die min goed wat oorleef het ná Buddy (ons hond) se koms. Ek hoop die nuwe intrekkers gee hulle genoeg water.

Terug in die sitkamer onthou ek toe ons ingetrek het: daar was 38 gate in die huis se mure. Die een sitkamermuur het soos ’n sif gelyk. ’n Vorige eienaar het glo gereeld haar meubels én skilderye verskuif. Nadat al die gaatjies netjies toegepleister is, het ons die skaars gelerige kleur verf gaan soek. Ons moes dit uiteindelik laat meng omdat dit onbekend was. Die gaatjies is so mooi reggemaak en toegeverf dat ek nou daarvoor moet soek. Die blikkie verf staan reg vir die volgende eienaars ...

Elbie Els, Stellenbosch