Noem die naam David Banda en die meeste kinders sal vir jou kan sê dis Madonna se “nuwe Malawiese babatjie” oor wie almal so gaande is. Want aanneming oor die kleurgrens heen het so alledaags soos sepies geword. Slaan maar die skindertydskrifte oop en jy sal iets oor die Brangelinas se kruiskulturele gesinne of Madonna s’n te lese kry. Angelina Jolie en Brad Pitt en hul immer ontluikende gesin van Zahara (uit Ethiopië), Maddox (uit Kambodja) en hul eie bloedkind, Shiloh, wat in Namibië gebore is, word trouens deur skoolkinders bespreek gedurende eerste pouse, so asof dit hul beste pêlle is. En Angelina maak reeds weer geluide van nog ’n kind aanneem. Dis ook iets wat algemeen in Suid-Afrika gebeur.

Katinka Pieterse, uitvoerende hoof van Abba Aannemings van die Apostoliese Geloofsending se Welsynsraad in Pretoria, een van die grootstes in die land, meen die belangrikste redes is dat daar min wit babas beskikbaar is vir aanneming, moontlik vanweë ons aborsiewetgewing. “Baie mense sukkel deesdae met onvrugbaarheid en kies aanneming bo moeisame, duur in vitro-behandeling. Ons samelewing raak meer ontvanklik vir dié soort aannemings. Die werklikheid van vigs moet ook nie onderskat word nie. Daar is minder moontlikhede vir gesinsorg binne dié uitgebreide gesinne en meer kinders van ander rasse is dus aangewese op aanneming.”

Statistieke vir 2005 lyk só: 2 581 aannemingsbevele is uitgereik, waarvan 477 aannemings van ander rasse insluit. Dit klink dalk nie so baie nie, maar Katinka verduidelik:
“Die wêreld raak al kleiner. In Europa en Skandinawië is daar bykans geen kinders vir aanneming in hul eie lande beskikbaar nie. Dit beteken mense moet kinders van ander lande en kulture aanneem. Volgens die Den Haagse Konvensie rakende internasionale aannemings is dit makliker om binne ’n veilige struktuur kinders van oor die wêreld te laat aanneem. Daar is trouens vandag omtrent 30 000 kinders wat in sowat 100 lande vir aanneming geplaas word.”

Party, soos Lucky, het ’n wonderlike huis gevind. Marikie du Plessis, ’n beroepsfotograaf van Florida aan die Wesrand, en Erik, ’n sakeman, en hul kinders Philip (29), Lenadri (27), Erika (24) en Charl (20) is dol oor dié broer van hulle, wat nou ’n drie-jaar-graadkursus in bemarking en advertensiewese in Sandton volg. “My man sê altyd ons het Lucky nie aangeneem nie, hy het óns aangeneem.” Hoe het dit gebeur?

Charl het in 1993 aan die Laerskool Florida begin skoolgaan. Gou het hy en Lucky maats geword en elke middag is Lucky saam huis toe. Marikie het vasgestel Lucky woon in ’n bouval, sonder basiese geriewe, saam met ’n hoop werklose mense. Sy kon ook nie bewyse van Lucky se geboorte opspoor nie. Die vrou wat haar as sy ma voorgestel het, kon kwalik met hom kommunikeer en het lang rukke verdwyn en hom sonder kos of water agtergelaat. Hy kon geen taal behoorlik praat nie. Hulle het van sy familie in Kimberley probeer opspoor, maar dit was onsuksesvol. Toe neem hulle hom in hul huis in en kort daarna het sy “ma” verdwyn.

My naam is Lucky du Plessis. Ek is darem Lucky om my ma, pa, broers en susters te hê

“Op 12 het ons hom uiteindelik aangeneem. Die regter het gesê: ‘Hy is nou julle s’n, asof uit julle gebore.’ Dit was slegs ’n formaliteit. Hy was reeds ses jaar ons kind waarvoor ons ons eie drome gehad het. Ons was besig om vyf kinders groot te maak met hul eie dinge en vreugdes,” sê Marikie. Lucky het baie vir haar ander kinders beteken. “Kinders sien nie kleur nie. Ouers skep daardie gewaarwording by hulle. Lucky het hulle geleer om nie bevooroordeeld te wees nie. Hy en Charl is beste vriende. Erika het ’n paar jaar gelede ’n pragtige duvet van sy lewe gemaak as taak vir haar graad. My man het ’n boekie oor sy grootword-ervarings geskryf.”

Lucky is in graad 7 tot een van die hoofleiers van die Laerskool Florida verkies. “Langs die skoolhoof, op die verhoog, het hy gesê: ‘My naam is Lucky du Plessis. Ek wil net vanaand vir julle sê ek is darem Lucky om in hierdie skool te wees. Ek is Lucky om wonderlike onderwysers en maats te hê en Lucky om my ma, pa, broers en susters te hê. Ek is Lucky om ek te wees.’ Baie ma’s het saam met my trane weggevee,” vertel Marikie.

Ná sy sukses op die rugbyveld het hy ’n beurs by die befaamde private skool St. Stithians in Randburg losgeslaan. Dit was een van die hoogtepunte van sy lewe. Hy was onderkaptein van die roeiklub en rasieleier. Marikie-hulle het deur die jare net sowat drie, vier negatiewe ervarings gehad. “Lucky was in ’n stadium baie ongelukkig omdat iemand by die skool vir hom gesê het hy is ’n Oreo (bruin buite en wit binne). Gelukkig is hy deel van ’n groot gesin en kon ons uit sy broers en susters se grootword-ervarings leer dat ons maar almal partykeer onder iemand se tong moes deurloop. ’n Mens kan situasies met deernis, humor en saampraat oplos.

“Lucky het ons lewe verryk. Elke aangenome kind wonder oor sy biologiese ouers. Ons praat wanneer daar ’n behoefte is, maar hoe jonger die kind is wanneer hy aangeneem word, hoe minder ken en verstaan hy van ’n vorige kultuur,” sê Marikie. Lucky sê: “My pa is my held. Sy boek, The Advertised Mind, het ’n boekprys in Amerika gewen. Hy word wêreldwyd gerespekteer vir sy kennis en is my mentor. My susters en broers is my familie. Ek kan nie my ander familie mis nie, ek ken hulle nie. Ek is ’n Du Plessis. Ek en my ma het ’n baie close verhouding.”

Daar is ook die verhaal van klein Michael Edwin Sebogodi, van die St. Laurence Anglikaanse Kerk se kinderhawe. Sewe dae oud, op 21 April 2006, het hy in die arms van Shawn, ’n ouditeur, en Samantha van der Merwe van Roodepoort aan die Wesrand beland. Die tienjarige Sheldon kon nie wag om die babakamer te help regmaak en klere vir sy nuwe boetie te koop nie. “Sheldon het elke aand gebid vir ’n nuwe boetie en voorverlede jaar het hy gesê hy gaan ophou bid, want die Here luister nie. Hy wou niks van aanneming weet nie. In die begin van 2006 het hy ingestem dat ons ’n boetie kan aanneem en dat die Here ons só sou help,” vertel Shawn.

As jy 'n verskil in iemand se lewe kan maak, moet jy dit doen

Oor die Tswana-bondeltjie kan hulle nie uitgepraat raak nie. “As hy glimlag, smelt jy.” Hulle wil hê Michael moet in voeling met sy wortels bly en wil hom aanmoedig om ’n Afrika-taal aan te leer. “Die belangrikste is dat hy altyd geborge voel,” sê sy ouers. ’n Praktiese probleem van kruiskulturele aannemings, sê Shawn, is om te leer om etniese hare te versorg. “Dis ook soms moeilik om negatiewe houdings te hanteer. Mense vind dit soms vreemd en Samantha sukkel om dit te verwerk. Maar ons beveel dit aan. As jy ’n verskil in iemand se lewe kan maak, moet jy dit doen. Die seëninge is baie. Hy het óns lewe wonderlik aangeraak. Neem’n kind aan omdat jy ’n ouer wil wees en omgee,” reken Shawn.

Die gay-paar Nicci Venter, mede-eienaar van ’n eiendomsagentskap in Melkbosstrand, en Deirdre Marshall, eiendomsverhuurder, het twéé kruiskulturele kinders waarop hulle baie trots is. Deirdré het ook ’n 25-jarige biologiese dogter, Monique. Sy en Nicci is al twintig jaar saam. Hul jongste is Tallulah Thembeka Isabella Marshall-Venter (Lulu). Sy het op Jeugdag (16 Junie) verlede jaar twee geword. Hulle het albei kinders as babas by die Princess Alice-tehuis in Johannesburg aangeneem. Hul tweede “telgie”, soos sy liefderik na hom verwys, is Joshua David Mpho Marshall-Venter (Josh) en het op 18 Oktober verlede jaar vier geword.

“Ons het aansoek gedoen by Kaapstad Kinderwelsyn om spesifiek kruiskultureel aan te neem. Dit was ’n lang proses en daar was vele huisbesoeke. Die welsyn was ondersteunend en ons het baie Rainbow-vergaderings bygewoon waar ’n mens met ander aanneemouers kon gesels.” Die welsynswerker besluit gewoonlik watter baba na watter ouerpaar gaan en partykeer kies die biologiese ma die aanneemouers. “Joshua is Sotho. Die dag toe ons hom gaan haal het, sal ek nooit vergeet nie. Toe hy in my arms geplaas word, was dit presies dieselfde as toe ek my biologiese dogter gekry het. Ons seuntjie is in ons harte gebore,” vertel Deirdre.

“Lulu is Zoeloe en ons glo sy gaan eendag president wees! Ons sal ons kinders met ons lewens beskerm en elke keer as iemand hulle bewonder, blom ons. Die kere dat ons met negatiewe opmerkings te doen kry, huil ons en bid dinge moet verander.”

Aanpassingsprobleme?
“Min slaap en die versorging van etniese hare. Nadat ’n Xhosa-vrou my gewys het hoe om hul hare te rol, is die probleem opgelos. Almal dink dit was kultureel moeilik, maar as jy ’n ma is, is daar nie tyd om met doeke, bottel en doekuitslag daaroor bekommerd te wees nie. Ek wou al vyftien jaar gelede ’n kind aanneem, maar die welsyn het toe botweg geweier vir homoseksuele mense. Toe die wet kort voor Josh se aanneming verander het, was dit vir ons die normale stap. Ons is ’n gewone gesin met gewone behoeftes. Ons eet by die Spur, hou van troeteldiere, die kinders is nou ook al oud genoeg vir Sondagskool.

“Die lekkerste is om hulle gelukkig te sien. Ons is soms doodmoeg aan die einde van die dag, dán kyk ons verwonderd na daardie engelgesiggies. My pa,’n stoere boer, het dit - soos die gay-kwessie - aanvanklik vreemd gevind, maar hy is nou die kinders se oupa. My twee sussies is hul peetma’s. Monique het in die laerskool gesukkel met die gay-ding en ons is vir gesinsterapie. Deesdae word daar op skool allerlei gelowe en familievorme verduidelik en kinders is meer blootgestel aan lewenstyle. Ons sal ons kinders help met sulke kwessies. Solank ons ’n goeie voorbeeld stel waar respek en liefde betrokke is. Die mense wat ons as ’n euwel beskou, verander niks aan ons as gesin nie. Ek plaas my gesin met vertroue in Jesus se beskerming,” sê Deirdre. “Wanneer die kinders ouer word, gaan hulle vrae vra oor hul herkoms, geboorte en kultuur en dit sal vir ons almal ’n leerproses wees. Ons sal hulle aanmoedig om ’n Afrika-taal op skool te neem. Hulle het reeds vriende in alle kultuurgroepe.”

Dit kán ’n verskil maak
Mense trek graag die neus sinies op oor die Madonnas of Brangelinas en hul kruiskulturele kinders, maar Marikie, Lucky se ma, sê: “In Afrika is miljoene kinders wat swaarkry en sterf. Sterre neem dié kindertjies aan en gee vir hulle ’n lewe waarvan hulle andersins nooit sou kon droom nie. Hulle maak mense oor die wêreld bewus van die verskriklike hartseer en swaarkry en nood. Hulle kan miskien nie die lot van die massas verander nie, maar hulle plaas dalk ’n saadjie in ’n paar mense se harte. Al maak iemand net ’n verskil aan die lewe van tien of twintig kinders wat as gevolg van hul reklame aangeneem word, dan was dit die moeite werd.”

ONDERSTEUNING
Kry hulp by die Rainbow-ondersteuningsgroep van Kaapstad Kinderwelsyn. Vind by maatskaplike werkers uit oor soortgelyke groepe in jou omgewing. Aanvanklik het net kruiskulturele aanneemouers vergader, maar deesdae deel enige aanneemouers hul ervarings.
* Navrae: Anne Bruce 021 790 2300, 021 638 3127

WAT SÊ DIE REG?

  • Kruiskulturele aanneming werk soos enige nasionale aanneming.
  • Die maatskaplike werker beveel aan hoekom die kind in ’n interras-situasie geplaas kan word.
  • Die hof maak ’n bevinding oor die beste belang van die kind en die maatskaplike werker moet volledige inligting voor die hof plaas. Dit kan ’n uitgerekte proses wees.
  • Die kind word deur die aanneem-agentskap by ouers geplaas met ’n hofbevel ná die biologiese ma voor die hof geteken het. Die biologiese ma het 60 dae waarin sy dit kan heroorweeg of sy met die aanneming wil voortgaan.
  • Ná 60 dae doen die ouers aansoek, die verslag word ingedien en die bevel uitgereik.
  • Hierna word dit geregistreer en die finale bevel word aan die ouers gepos.
  • Die ouers kan die baba by Binnelandse Sake herregistreer.
  • Inligting: Katinka Pieterse.

HOE SUKSESVOL?

Loftie Eaton, senior maatskaplike werker by die Roodepoortse kinder-engesinsorgvereniging,
sê gewoonlik is aannemings oor kultuurgrense heen ’n groot sukses.
“Die meeste mense wat bereid is om swart kinders aan te neem het vooraf hul huiswerk goed gedoen. Die meeste kinders kry ’n ongelooflike kans. Ondervinding het my geleer dat mense dit gewoonlik doen uit die liefde van hul hart. Beslis nie om ’n politieke stelling te maak of in die kollig te wees nie.”
Ook Anmar van der Walt, maatskaplike werker van Krugersdorp aan die Wesrand, meen: “Baie kinders woon in haglike omstandighede en het geen toekomsverwagtinge nie. Daar gaan vir hulle geleenthede oop wat nooit voorheen sou bestaan nie. Goeie skole, emosionele ondersteuning, blootstelling aan buitemuurse aktiwiteite en terapie."