Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier’s haar vierde inskrywing:

Dit klink dalk simpel, maar onthou altyd ’n pen!

Tegnologie het ons lewe oorgeneem en ons is salig gelukkig met ons oë vasgenael op ons slimfoon, skootrekenaar, en, en, en. Ons volg ons digitale dagboeke slaafs en maak verwoed notas en lysies op ons fone. Tog hoor ek amper daagliks iemand benoud uitroep: “Het iemand ’n pen?!”

Ek dra my pen getrou saam met my. Ek het wel ’n digitale dagboek, maar ek geniet steeds ’n gewone dagboek en maak heeltyd notas en lysies of skryf sommer net idees neer soos dit by my opkom. As ek eers aan die droom raak, moet ek dit dadelik neerskryf – so vind ek baiekeer vinnig die beste pad vorentoe! Maar die heel beste ding van ’n pen by jou dra is om iemand in hul oomblik van benoudheid te kan help en te antwoord: “Ek het een!” ’n Mens kan die dankbaarheid op die persoon se gesig sien. Dit is klein oomblikke soos hierdie wat die vonk binne my laat vlamvat.

Ons kry ons game plans reg en tog is daar altyd iets wat mens vergeet of nooit aan gedink het nie. Baiekeer is dit iets basies. Elke ma ken die oomblik (natuurlik wanneer dit te laat is vir omdraai) wanneer iemand in die kar wil weet of iets spesifieks ingepak is ... die "het-iemand-’n-pen-oomblik"!

Ja, ek is self ’n bobaas-lysie-opsteller en tog mis ek elke nou en dan iets. Maar dit is wat jy daarvan maak. ’n Boer maak ’n plan, of het minstens altyd ’n pen!

Tot volgende week, wees bevonk!

Ilzé Saunders

#InspiredLiving