Skat, ek is ge-retrench.”

Dis woorde wat menige vrou (en man) in dié dae vrees. Vir Carol Langenhoven het dit ’n nare werklikheid geword.

“As ek nou oor die laaste maande terugkyk, weet ek nie hoe ek deur dié beproewing gekom het nie,” sê sy op haar reguit manier.

Maar dwarsdeur alles – om skielik na ’n huurhuis te trek, haar motor te moet verkoop, afstand te doen van die mooi dinge wat haar lewe kleur gegee het, te sien hoe haar man te veel begin drink omdat sy selfbeeld aan skerwe is – was daar ’n reddingsboei: Haar blog op SARIE se webtuiste, sarie.com, wat sy onder die skuilnaam Tallie geskryf het.

Tallie

Daarin het sy aangrypend vertel van haar finansiële en emosionele stryd nadat haar man, Simon*, sy werk as ’n areabestuurder in die vervaardigingsbedryf verloor het.

Aanvanklik het Carol (48) haar verhaal in ’n brief aan SARIE vertel en ons het haar gevra om gereeld daaroor te blog. Só het haar reis na heling begin. Sommige lesers kon identifiseer, ander het meegeleef. Byna 12 000 mense het die blog gelees, baie van hulle getroue aanhangers.

Soos een leser, Ester, dit stel: “Liewe Tallie, dankie dat jy jou diepste seer so openlik deel. Jy sal nooit kan besef wat jou skrywe vir my as vrou beteken nie. Jy het my gedra deur die donkerste nag en put van ellende. Toe sien ek skielik hoe geseënd ek is . . .”

En Annaline skryf: “Die lewenslesse is nie net van toepassing op mense wat hul werk verloor het nie, maar ook op ons almal wat al ‘iets’ verloor het.”

Nou is Carol gereed om haar ware identiteit bekend te maak.

“Ek besef ek kan vir ander mense iets beteken,” sê sy. Sy gebruik haar nooiensvan, Langenhoven, “want ek wil my kinders en my man beskerm”. Simon (48) bring tans sy eie onderneming, ook in die vervaardigingsbedryf, op die been.

“Toe hy in Junie verlede jaar vir my die ondenkbare nuus bring, was ek totaal verward,” vertel Carol. “Dit was asof ek gehoor het iemand na aan my is dood. Ek het glad nie geweet wat om eerste te doen nie.”

Kort hierna het survival mode ingetree.

“Daar was nie kans om in sak en as te gaan sit nie. Die woord resessie het nou betekenis gekry en ons moes dadelik begin geld- en ander planne maak.”

Voorheen het Carol, Simon en hul seun, Wouter* (22), in ’n goeie middelklashuis gewoon. Hul dogter, Mia* (26), woon in Amerika.

Hulle het heerlik geleef, vertel Carol. Hulle het die beste linne en drie goeie eetstelle gehad en daar was ’n televisiestel, musieksentrum en lugversorging in elke kamer. Oral het oorspronklike skilderye soos Claerhouts gehang. In haar kas het verskeie bottels ontwerpersparfuum gestaan.

“Simon het vir al die huishoudelike uitgawes betaal. My salaris (as ’n kliënteverhoudingsbestuurder in die landbousektor) was net myne.”

Carol beskryf haarself as ’n aardse mens, “’n tree hugger”.

“Maar ten spyte daarvan het die materiële wêreld my ingesluk. ’n Mens se waardes vervlak. Jy kies welgestelde vriende en jy kan nie glo R120 is vir iemand anders baie nie!
“Ons huis was toevallig in die mark toe Simon sy werk verloor, want ons wou opgradeer. ’n Mens het mos nooit genoeg nie. Min wetende dat ons in ’n tweeslaapkamer-huurhuis met net een badkamer en sonder ’n tuin of motorhuis sou eindig.”

Vandag woon die gesin steeds in dié kleiner huis op ’n kusdorp. Maar hulle is gelukkig, want hulle kyk met ander oë na die lewe . . .

’n Dubbele slag

 

Ná die skoknuus het hulle dadelik begin afskaal. Onnodige ligte en die geiser is gereeld afgeskakel. Al was dit koud, was die kaggelhout op wanneer dit op was, vertel Carol. Dan het “die kaggel pikswart en yskoud vir my gekyk”.

Simon het hard probeer om in dié moeilike ekonomiese tyd sy eie onderneming te begin. Sy geld het ongereeld ingekom. Hy het selfs een keer gaan visvang en dit toe vir R300 verkoop.

“Toe was dit baie geld,” sê Carol. “Ons het dit vir die telefoon en elektrisiteit gebruik.”

Hul huis is gelukkig verkoop, maar hulle moes lank wag vir die geld. Boonop was daar ’n Hooggeregshofsaak om Simon te probeer keer om met sy eie onderneming voort te gaan. ’n Eis van ’n paar honderdduisend rand asook ’n ongegronde diefstalsaak was deel van dié pakket. Sy vorige werkgewer het beweer hy het geld gesteel op die dag dat hy afgelê is, sê Carol.

Simon het nie kans gesien vir die uitmergelende regsproses nie en Carol het die verantwoordelikheid op haar geneem. Wouter sê: “Baie nagte het ek een van my ouers in die woonkamer sien sit. Ek kon sien wat die stres aan hulle doen.”  

Om af te skaal . . .

 

Carol het vir Simon gesê hulle kan op net haar salaris oorleef as hulle drasties besnoei. “Om af te skaal was my grootste aanpassing, dis asof jou hele wese afskaal.”
Gelukkig het hulle glad nie skuld gehad nie. “Dit was ons redding.”

Maar daar was baie veranderings. “Ek het ’n splinternuwe 4x4 gehad,
wat ek moes inruil vir ’n klein karretjie en ’n bakkie vir Simon se onderneming,” vertel Carol.

Wouter sê hy was bang daar gaan nie genoeg kos wees nie, “maar my ma se geregte was uit die boeke”. Sy het geleer om innoverend te wees, sê Carol, om mooi kos van eenvoudige bestanddele te maak.
Hulle moes ook ’n hele paar aftrek-orders, soos dié vir polisse, kanselleer. “Maar ons het steeds ons korttermyn- en lewensversekering behou.”

Die effek op ’n verhouding

 

Die krisis het Simon se selfbeeld erg geraak, sê Carol. “Een oomblik was hy ’n voorsiener en die volgende oomblik niks. Dit waarvoor hy as man gestaan het, is van hom weggeneem en hy was rigtingloos.”

Hy was altyd supernetjies, maar skielik moes sy hom aanmoedig om van die sitkamerbank af op te staan en te gaan stort. Dit was ook vir hom swaar om vir haar brandstofgeld te vra.

Ek sou óf met lamheid reageer óf sy kop afbyt,” vertel sy. “Nie omdat ek nie geld wou gee nie, maar omdat ek die begroting fyn moes uitwerk.”

Simon het ook alkohol misbruik. Op haar blog skryf Tallie dat ’n geluid by die agterdeur haar aandag getrek het: “En daar staan my man in wind en reën. Hy is so gedrink dat hy beswaarlik op sy voete kan staan . . .” Dis ook toe dat hy vir haar gesê het: “Jou man is werkloos, wat sê jy daarvan? Jy is met ’n werklose man getroud.”

Sy wou hom verlaat.

“Ek kan alles hanteer, maar hiermee kan ek nie ook sit nie,” het sy vir hom gesê. Later het sy ’n dokter om raad gevra en dié het tydelik vir Simon (en vir haar) kalmeerpille voorgeskryf.

Die effek op hul verhouding was dramaties. “As vrou kyk jy op na jou man as voorsiener, beskermer, die een wat die hele huis bymekaar hou. Jy respekteer hom. Wanneer hy sy rol verloor en jy alles moet dryf, is dit net menslik dat jou respek vir hom taan.    

Jy het ook nie die energie om hom te boost nie, want jy gebruik dit vir oorlewing,” vertel Carol. “Ek het verwag dat hy dadelik ’n ander werk moes kry. Maar eintlik was dit onregverdig, hy was in ’n skoktoestand. Ek het een aand vir die eerste keer besef waardeur hy werklik gaan toe dié introvert omdraai en sê: ‘Skat, dis nie lekker nie.’”

Hul verhouding, “vandag beter as ooit”, het deur diep waters gegaan. “Aanvanklik staan ’n mens saam. Dan tree die werklikheid in. Almal het my heeltyd vertel hoe swaar hý kry . . . Ek was daarom op myself aangewese.”

Sy sê sy en Simon het soos broer en suster saamgeleef. “Ek het stilgebly om konflik te vermy, want dit sou net die situasie vererger.”

Soms het sy gesê: “Ontspan, ons sal hierdeur kom.” Sy het nie toe vir hom gesê haar spaarrekening is so te sê uitgeput en haar kredietkaart met ’n paar duisend rand oortrokke nie. “Net dat ons genoeg kos, elektrisiteit en brandstof het.”

Eers toe hulle saam na woonplekke gaan kyk het en sien waarheen hulle moes trek, het hulle weer nader aan mekaar gekom.

Die heling

 

Toe sy so moedeloos en gedaan was, het Carol by ’n laventelheining wat haar oorlede pa nog geplant het, stilgehou. “Ek wou my hand deur die draad steek om aan die plante te vat. Pappa het daaraan geraak. Dalk het daar nog ’n deeltjie van hom agtergebly. Ek wou dit koester.”

Sy erken vandag dinge het in ’n stadium so sleg gegaan dat sy selfmoord oorweeg het, want sy het geredeneer dan sou haar gesin haar pensioengeld kry en versorg wees.
“Tallie” het deurentyd Carol se redding geword. Snags het sy haar opgekropte emosies “absoluut eerlik” neergeskryf. As kind kon sy nie haar eie naam sê nie en sy het haarself “Tallie” genoem. “Tallie het onbewustelik my ontvlugting geword. Eers agterna het ek besef hoe terapeuties dit was.”

Sy het nou ook haar blog aan ’n uitgewer voorgelê en wag op ’n antwoord of dit dalk in boekvorm gaan verskyn.

Simon ondersteun haar skryfwerk, maar het dit nog nie gelees nie. “Ek dink dis omdat hy ’n ‘bloeiende wond’ gehad het en nie kans sien om die rofie af te krap nie.”
Die kinders, wat deur alles nooit vrae gevra of hul ouers verwyt het nie, het ook nie elke dag haar blog gelees nie, dit was haar “stille salf wat sy moes en wou aansmeer”.

“Wanneer hulle dit wel gelees het, het hulle gesê hulle is trots op my.”

Die lewenslesse

 

Die krisis het Carol laat besef sy’s ’n survivor.

“Ek weet nou ek het innerlike sterkte en is aanpasbaar.” Sy en Simon is ook veel nader aan die Here. Selfs toe dit so swaar gegaan het, het sy haar tiende vir die kerk gegee. “En soos Hy beloof, het ons altyd kos gehad.” Al was daar soms nie margarien of melk nie. Selfs in dié donker tyd het sy vir vriende tuisgemaakte produkte ingepak, want sy glo “’n toe hand kan nie ontvang nie”.

Carol sê haar grootste uitdaging was om daagliks te vertrou dat daar genoeg geld sal wees en haar nie oor môre te bekommer nie. “Dis ongelooflik hoe die Here dan werk. Die geld van ons huis wat ons verkoop het, het byvoorbeeld net op die regte tyd gekom.”

Die vals diefstalklag is uitgegooi en die hof het ook bepaal dat Simon met sy onderneming kan voortgaan.

“As Carol nie by my gestaan het nie, sou ek nie hierdeur kon kom nie,” sê hy. Hy glo ook as sy onderneming, waarmee dit al heel goed gaan, die resessie kan oorleef, gaan hulle nog baie voorspoedig wees.

Al was dit swaar, is Carol vandag dankbaar vir haar beproewing. “Ek is rustig en tevrede. Waar ek ’n beheervraat was, leef ek nou in die oomblik.” Materialisme is nie meer belangrik nie, sy voel eerder ryk in haarself.

“Die helderheid en insig wat ek gekry het, dra ek graag met liefde aan ander oor,” sê sy.    

* Skuilname