Met ons naderende status (60+) het ek en my wederhelf begin tob met die idee om in Australië te gaan werk. Met die sterker “Aussie-dollar” was die plan om geld te spaar vir ons naderende oudag. Ons wou ook deur Australië reis, en Tasmanië en Nieu-Seeland besoek. Ons seun is reeds gevestig daar in Adelaide, met ’n Mediterreense klimaat soos in die Kaap. Ons het ook besluit op dié groot en uitgestrekte stad in die suide van Australië. Ná baie gebede het alles op die regte tyd in plek geval. Ons huis in Pretoria is net betyds aan ’n ambassade verhuur. My man, ’n siviele ingenieur, het ’n betrekking by ’n raadgewende ingenieursfirma in Adelaide gekry om die “Highway Connector” om Adelaide te ontwerp. Met baie gemengde gevoelens het ons daar aangekom, hartseer oor ons kinders, kleinkinders, familie en vriende wat ons vir ’n lang tyd agtergelaat het. Maande voor ons vertrek moes ek uitsorteer wat bly en wat saamgaan. Ek het lysie op lysie gemaak en in my gedagtes ’n tweeslaapkamer-dorpshuis probeer meubileer. Ons jongste dogter en haar man, pasgetroud, sou ons vier maande later volg, maar net met twee tasse klere. Dus het ek maar vir hulle probeer ekstra goed inpak. Hoe sou hulle dan in ’n vreemde land sonder ’n goeie kookpot of warm kombers oorleef? Ons meubels en ander huishoudelike artikels is verskeep en vooruit gestuur. Ons eerste blyplek was ’n vakansie-oord by die see, naamlik Adelaide Shores. Toe die aanvanklike opgewondenheid en andersheid verby was, het die werklikheid ingetree saam met die tien plae van Egipte en die verlange na die “vleispotte” van Suid-Afrika. Lukas, my man, moes dadelik begin werk. Hy is ’n baie nederige, positiewe en aanpasbare mens. Ek kon nie help om sy teleurstelling te sien oor die moeilike omstandighede in sy werkopset nie. In SA het hy, as senior ingenieur, sy eie kantoor gehad met parkering. Hier in Australië deel hy, as senior en projekleier, ’n oop kantoor saam met ander jong raserige werkers. Parkering in die stad, waar sy firma geleë is, was byna onverkrygbaar en baie duur – R88 per dag. Die nuus dat ons skeepshouers met meubels en huishoudelike goedere verkeerdelik in Mauritius afgelaai is en ’n verdere ses weke sou neem om te kom, was ’n probleem. Ons het net twee tasse klere gehad en ’n opblaasbed wat gedurende die nag afgeblaas het! Soggens het ons styf en seer plat op die klipvoer van die dorpshuis wakker geskrik. Ons kinders en nuwe kennisse het vir ons die nodigste kombuisware geleen – 2 koppies, 2 borde, 2 messe en vurke, 2 glase, ens. Dis snaaks met hoe min ’n mens kan klaarkom as jy moet. My man het darem gereeld vir my blomme gekoop wat ons in ’n bekertjie gerangskik het! Die verlange na ons mense, ons gerieflike huis, veral na ons kerk, het begin sny. My soektog na werk het geen vrugte afgewerp nie. Met twee universiteitsgrade, ’n onderwysdiploma, ’n internasionale diploma in tennisafrigting, ’n diploma in eiendomsbemarking en 25 jaar suksesvolle werkondervinding het ek gedink dit sou maklik wees om ’n goeie betrekking te kry. Maar, o wee, glad nie! Nie as jy uit Afrika kom nie. Eerstens het die Suid-Australiese Onderwysraad nie my onderwysdiploma aanvaar nie, omdat dit volgens hulle te sportgerig is en nie genoeg “teaching practice hours” insluit nie. Die feit dat ek 15 jaar voltydse onderwysondervinding by top-hoërskole in Suid-Afrika het, mét dienssertifikate en getuigskrifte het nie vir hulle getel nie. Hulle aanvaar my grade eers nadat ek bewys moes lewer van die inhoud van die kursusse. Ná drie maande het ek al die bewyse uit SA gekry en ten duurste laat vertaal, maar tog is my onderwys-registrasie afgekeur vanweë van die eenjaar-onderwysdiploma wat nie hier aanvaar word nie. Ek besluit toe om maar eiendomsagent te wees. Ek is opgelei en geregistreer as eiendomsagent in Suid-Afrika en het die Eiendomsraad se eksamens geslaag. Boonop het ek 24 jaar ondervinding in dié veld, én my eie besigheid vir twaalf jaar bedryf. Maar ek moes die $400 intree-fooi betaal en as ’n “trainee land sales agent” registreer, vir ’n jaar onder ’n geregistreerde Australiese agent werk en die hele kursus teen R4 000 herhaal. Teen daardie tyd was ek gereed om in te pak en huis toe te gaan, maar manlief was gebind aan ’n projek wat nog nie afgehandel is nie en ek moes maar aanhou en uithou. Intussen, terwyl ek my eiendomsopleiding herhaal, doen ek aansoek vir ’n tennisafrigterspos by ’n kerkskool. Ek ry byna ’n uur na die skool vir twee ure se lesse. Die tennisafrigterspos verander toe in ’n “skilled coach”-pos en ek word aangesê om “footie” en “baseball” af te rig. Ek moet eers self kyk wat aangaan en dit dan leer vir die kleintjies, wat so uitgeput is van die verskriklike somerhitte (45°) dat hulle sommer op die veld gaan lê. Met my eie tennisvernuf word ek gekies vir die Suid-Australiese veterane-tennisspan in ’n internasionale toernooi wat in Adelaide plaasvind. In ’n enkelspelwedstryd teen Japan val ek op my linkerknie en versplinter die knieskyf. Dit het die einde van my “skilled coach”-pos beteken. Die winter breek aan met ysige koue en aanhoudende reën. My seer knie is vol inflammasie en genees nie. Met ’n besoek aan my kinders en familie in sonnige Suid-Afrika word die knie vanweë die sonskyn soveel beter. Ná ’n MRI-skandering hoor ek ’n algehele knievervangingsoperasie is al wat gaan help. Terug in Adelaide is die verlange na SA intens. Om die verlange te stil koop manlief vir my die allerskatlikste klein Shih-Tzu hondjie, ’n spierwit bol wol met sjampanjekleurige ore wat “Aussie-Aussie-Aussie” heet, omdat hy op Australië-dag gebore is. Australië het sy eie Engels en as iemand my toe gevra het “How’re you’re going?” (waarmee hulle bedoel “Hoe gaan dit?”), het ek maar die verwagte antwoord gegee “No worries, Mate”, maar stilweg gedink “going home”. Om motor te bestuur is aanvanklik ’n nagmerrie. Ek het reg aan die begin byna gebots teen ’n trem, wat skielik op my afgekom het. Ons is gewoond om vir motors uit te kyk, en ’n “trein” langs jou is vreesaanjaend. Die gemiddelde spoedgrens in die stad is 50 km/h, senutergend vir ons Suid-Afrikaners. Ek, my man en seun het baie gou spoedboetes gekry. Sedert ons ’n jaar gelede hier aangekom het, was ek drie keer vir besigheid in SA. Ek het elke keer die geleentheid aangegryp om vir my kinders te gaan kuier. Om elke keer deur die “border security” te gaan, is soos om ’n moeilike wedstryd te wen. Van Suid-Australië moet ons na Wes-Australië vlieg, dan na Perth om die vliegtuig na Suid-Afrika te haal. Jy kan ook van Adelaide na Sydney vlieg, in die staat Nieu-Suid Wallis, en vandaar na Suid-Afrika. As jy by ’n ander staat van Australië invlieg, word al jou goed geskandeer en ondersoek deur die onverbiddelike streng “border security”-amptenare. Opgeleide honde maak seker jy versteek nie verbode “middles” soos kos, vrugte, plante, hout of dwelms in jou bagasie nie.
My senuwees is elke keer klaar omdat ek ’n honde-mens is en die honde elke keer voor my kom sit en aan my lek, omdat hulle my hond ruik! Dan begin die uitgooi en ondersoek van al my bagasie voor almal. Die eerste keer het hulle my handtassie onderstebo gekeer en gevra “what is this metal mass?” Dit was my juwele! Ons onskuldige skoonseun Ruan en my dogter Nicole het hul vlug verpas van Sydney na Adelaide, want die reukhond het Ruan se skoen gelek – Ruan se hond in Suid-Afrika het seker teen sy skoen gelê. Die arme man is toe na ’n ondersoekkamertjie geneem waar hy vir ure ondersoek was. As jy nog alles in rand uitwerk soos ek, dan is Australië baie, baie duur. Ons het pleks van om geld te spaar, ons spaargeldjies hier kom uitgee. My man se salaris vergelyk maar baie dieselfde as in SA. Hier is dieselfde goedere en kos presies 1½ keer duurder. Ek dink ook niks kan vergelyk met Suid-Afrikaanse gasvryheid nie. Ons het by ’n baie lekker tennisklub aangesluit waar mense joviaal en vriendelik is, maar die afgelope jaar was ons skaars drie keer uitgenooi na kennisse se huise. Wat ons waarneem, is dat die mense hier baie oud word en steeds sport beoefen en nuwe uitdagings aanpak. Terwyl ek besig was met my eiendomskursusse, het ek besluit om ook allerlei verrykende kursusse by die tersiêre kollege te doen. By die rekenaarklas het ek drie klasmaats van 85, 92 en 93 jaar oud! Australië is vol reëls en regulasies. Ek is 80 dollar beboet oor my hondjie uitgehardloop het op die sypaadjie. ’n Vrou is geregtelik vervolg oor sy haar dogtertjie ’n klap gegee het toe sy stout was. Nog ’n vrou se hond is summier weggevat omdat die dier vuil was en sy hare oor sy oë gegroei het. Gemeenskapwerk is hier ’n groot en belangrike deel van almal se lewe. Bejaardes word goed versorg, en baie word ook vir minderbevoorregtes en gestremdes gedoen. By die groot “acquatic centres” word een dag per week opsygesit wanneer dié mense met spesiaal toegeruste busse van die inrigtings af vervoer word om te kom swem, bygestaan deur opgeleide “volunteers”. Ons sien uit na ons terugkeer na SA wanneer my man sy projek voltooi het. Ek stof gereeld die tasse af en kan nie wag dat die tyd aanbreek nie. As iemand hier my dan weer vra “How’re you’re going”, sal ek antwoord “Going home, Mate!" Jennifer Raath, Australië