"Ek het haar die eerste keer in 1978 in New York gewaar. Sy het voor die beroemde Rockefeller Center vir fotograwe geposeer. Nuuskierig wou ek weet wie sy is, hierdie pragtige jong donkerkop met haar groot, vriendelike oë, wye, sensuele mond, koninklike nek, breë skouers, lieflike bene en van voor en van agter die ene vroulikheid. Sy was die pas gekose Mej. Heelal – in ’n tyd toe Suid-Afrika die Mej. Wêreld- kompetisie verbied is. Sogenaamde sanksies . . .

’n Omstander het verduidelik dat sy van Suid-Afrika kom. Ek wou haar gaan groet, maar die shoot was in volle swang en van die kameramense het my gevra om haar asseblief nie te hinder nie. Min het ek geweet dat ek die einste meisie voorkant toe self nog vir talle shoots sou gebruik.

*** Nog voor ek amptelik ingeval het (as redakteur van SARIE), is ek gevra om SARIE se modebylae by die Dieretuinmeer in Johannesburg bekend te stel. Margaret Gardiner was een van die glansmodelle.
Twee weke later moes ek die tjeks teken vir die funksie en ook die modelle. Ek het myself op die skouer geklop dat ek die eer het om ook ’n tjek aan Margaret Gardiner uit te maak. Maar ek was nou sakeman.

Jane Raphaely, een van die briljantste tydskrifmense in Suid-Afrika, was van die begin af positief oor my. Sy was toe redakteur van FairLady en het my dadelik vir ete genooi. Sy het gesê ’n tydskrif verkoop nie as jy nie ’n mooi vrou op die voorblad het nie, ’n bekende, ’n skoonheidskoningin soos Margaret Gardiner of Anneline Kriel. Ek wou eers nie hieraan byt nie. Kan ’n anonieme model nie kopers lok nie?

Jane het haar kop geskud: “Izak, use your head. Think for whom you are writing and about what. Give them a good read and a personality – if she is a real beauty like Margaret, it is a bonus.”

*** Ons het Margaret ’n paar maal as model gebruik en daardie uitgawes het van die hoogste syfers (240 000 – 270 000 plus) ooit behaal, met die uitsondering van prinses Diana. Ek het van Margaret as “ons eie prinses Di” begin praat. Sy het soms vinnig kom inloer, maar het gependel tussen hier en die VSA waar sy studeer het en waar haar verloofde, dr. André Nel, briljant gevaar het as medikus. Op ’n dag het ek haar gebel en gese ek wil graag ’n artikel oor ons doen, en wanneer sy in Suid-Afrika is, moet sy my tog laat weet. Op ’n oggend het Margaret gebel. “Izak, ek is hier en sal jou graag wil sien. Ek is by my ouers in Woodstock en ek het vandag vry . . .”
“Nou maar kan ons kuier?” het ek gevra.
“Jip,” het sy gesê, “dis waaroor ek bel.”

*** Daardie oggend was ’n besondere kuier. Sy het haar verwonder aan my kantoor: ek het pas mooi magenta stoele laat insit en nuwe teetafels. Ons het ’n hele paar koppies tee gedrink. Ek wou by haar weet hoe sy haar stralerjakker-glanslewe met haar redelik beskeie tuisdorp, Woodstock in die Kaap, versoen. Sy het kalm gesê sy is bly sy kom nie uit ’n ryk buurt nie. “Ek weet dis ’n cliché om te sê ’n mens is ryk in ander dinge. Maar ek is! Ek het in ’n wonderlike gesin grootgeword, met baie liefde en respek. My familie is my rykdom. My ma is ’n ongelooflike sterk vrou. Vol begrip en moed. En ek en my pa is só dieselfde. Ons het dieselfde liggaamsbou. Ons sit langs mekaar en steek ons bene uit en vergelyk hoe eenders ons bene is! Hy is my pá.”

En hoe het hulle daaroor gevoel dat jy jou so jonk in die skoonheidswêreld begeef het? “My pa was aanvanklik daarteen, maar my ma het nagedink en gesê dis ’n groot kans. Sy het reguit met my gepraat en gesê: Margaret, hierdie en daardie slaggat moet jy vermy. En dáárvoor moet jy versigtig wees. Ek laat jou gaan omdat ek jou vertrou.

My pa het ingestem. ”’n Mens vra jou af: as dit my pragtige dogter was, sou ek toegestem het? Jou kind alleen in ’n wêreld van make-believe en sluwe slange?

*** Maar Margaret se ouers moes geweet het hulle het die fondamente reg gelê. Sy was daagliks met hulle in verbinding. Die gesinsliefde het haar staande help hou, al erken sy daar was soms problematiese situasies. Daarby: jy kon haar inderdaad vertrou. Sy het ’n soort stewigheid in haar, skoonheid-in-stewigheid, realisme, harde werk, en ’n kop wat nooit te groot geword het nie. Van al die vroue wat ek ontmoet het, staan sy onder die eerste vyf.

*** Sy het haar voorkeur vir Afrikaanse mans baie duidelik gestel: “My man is Afrikaans en ons het baie Afrikaanse vriende. Dis asof Afrikaanse mans ’n warmte en sterkte uitstraal waarvan ek hou. Nie dat ek Engelssprekendes afmaak nie, ek is self een. En my wonderlike pa ook!”

Ek het Margaret in die jare daarna nie weer gesien nie. Maar daardie besondere dag vra ek haar: “Wil jy saam met my gaan eet?”

“Ja, graag,” sê sy. “Mits ons nie te lank gesels nie. My vliegtuig . . .”

“Goed, maar nou gaan ek jou uitdaag. Dis nou regtig nie ’n ghrênd eetplek nie, maar kom ek vat jou na ’n Afrikaanse klub. Sal jy saam met my by die Here XVII gaan eet? Jy sal waarskynlik die enigste vrou daar wees, maar ek wil graag hul gesigte sien. Dis ’n klomp stugge ou mans, soos ek.”
“Natuurlik,” sê sy. “Ek was al daar vir ’n funksie. Dit sal ’n avontuur wees.”

My motorbestuurder het ons gaan aflaai by die Here XVII op Groentemarkplein. Dadelik was daar ’n klompie omstanders wat Margaret se handtekening wou hê. Sy het geduldig gesels en geteken. Ek het aan Madeleine van Biljon se tydige waarskuwing aan my gedink: “Wees geduldig met jou publiek. Hulle koop jou boeke.” Dit was nadat ek taamlik stroef was met ’n vrou wat my genader het om ’n boek te teken.

Ek en Margaret is met die hysbak op na die groot eetkamer. Dit was nogal vol. Mnr. Murris, die bestuurder van die klub, het ons na ’n tafel begelei. Al die mans het ophou eet. En ons aangegaap. Hoe sou ’n mens Margaret se entrance beskryf? Soos ’n lieflike galei wat onder volle, statige seile ’n hawe binnevaar. Of soos ’n Venus wat uit die see gebore word. Soos ’n lieflike foto wat skielik begin lewe.

* MARGARET SPEEL MODEL VIR SARIE IN JUNIE 1998

Margaret as model vir 'n SARIE-modesessie, Junie 1998Margaret as model vir 'n SARIE-modesessie, Junie 1998

Margaret as model vir 'n SARIE-modesessie, Junie 1998Margaret as model vir 'n SARIE-modesessie, Junie 1998