Amy Anley (41), ma van die skattige Holly (5) en Oliver (3), wat in vandeesmaand se SARIE verskyn ("Om 'n kind aan te neem is 'n geskenk"), is toe sowaar die aktrise wat 1in 1998 die rol van prinses Diana vertolk het in die TV-fliek Diana: A Tribute to the People’s Princess.

Amy het nou 'n dramaskool in die Paarl en was destyds, voor sy met Cameron, 'n ortopediese snydokter, getroud is en Suid-Afrika toe gekom het, ’n aktrise in Londen.

"Ná Diana se dood in 1997 het ek gehoor daar is oudisies vir dié TV-rolprent. Ek het navorsing oor prinses Diana gedoen en na soveel moontlik foto’s en TV-programme van haar gekyk sodat ek kon sien hoe sy praat, loop en optree. Dit het ook gehelp dat ek soos sy lyk. En toe kry ek die rol."

Die rolprent, wat sy as "'n tipiese Diana-fan-fliek" beskryf, is op die eiland Majorka naby Spanje verfilm.

"Ons het 'n maand lank twaalf uur per dag daaraan gewerk, maar ek het dit geniet. Dit het veral gegaan oor die jare ná haar egskeiding van prins Charles toe sy liefdadigheidswerk in Angola en Bosnië gedoen het. Ek het dus nie veel glansryke balrokke in die rolprent gedra nie, eerder jeans en hemde, werksklere."

Amy as Prinses Diana

Amy het groot bewondering vir die ontslape prinses. "As jy kyk hoe prins William en prins Harry uitgedraai het, was sy vir seker 'n goeie ma. Sy het baie potensiaal gehad. Kyk maar na die liefdadigheidswerk wat sy gedoen het. Dit was 'n reuse-verlies toe sy dood is. Sy kon nog gróót dinge reggekry het."

Die regisseur van die fliek was die Brit Gabrielle Beaumont en dit is aanvanklik op Channel 5 in Engeland en daarna wêreldwyd op TV-kanale (ook in Suid-Afrika) vertoon.

* Onthou om die artikel, "Om 'n kind aan te neem is 'n geskenk", in die Junie-uitgawe van SARIE te lees. Vanaf Maandag 14 Mei op straat.