As dit nie vir hom was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.  – Patrys

 

“Noudat dit net ek en Jan-Hendrik is, is ons nader aan mekaar. Ons leer weer kommunikeer. Dis soos voor die kinders. Kinders neem mos ’n mens se lewe oor, op ’n goeie manier. Ons is op mekaar aangewese. As dit nie vir hom was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.

“Ons het goeie tye en minder goeie tye. Goeie tye en hartseer tye. Ons is alleen en saam hartseer. Ons huil alleen of ons huil saam.

“Goeie dae is meestal by vriende en familie. Hulle help ons, probeer ons besig hou. Alleen is ons gewoonlik hartseer. Dis ook goed, want ons emosies is nog so rou.

“Ons hou baie vakansie, speel saam gholf. Jan-Hendrik het gaan jag saam met my swaer Corné Krige (hy is getroud met my suster Justine) en ons was saam na ’n wildsplaas.

“Ek weet nie of wat ons doen reg of verkeerd is nie. Elkeen hanteer rou maar op sy eie manier. Ons praat baie oor hoe ons kinders was. Hulle is orals. Jy dink die hele tyd: Boeta of Kirsten sou nou dit gedoen het. Ek weet nie hoe verwerk ’n mens jou kinders se dood nie. Ek sukkel. Jy kán dit nie verwerk nie, net hanteer.

“Ons het hul kamers net so gelos. Maar nie omdat dit vir ons gedenktekens is nie. Dis deel van ons huis – ek slaap daar as ons gaste kry, vriende se kinders speel daar. Ons het van hul goedjies weggegee vir hul niggie, die res weggepak. Eendag, as daar dalk weer kinders is, sal ek dit uitpak.

“Ons wil weer kinders hê. Ná die ongeluk is kankerselle in my serviks gevind en ek moes ’n operasie kry. As dit die Here se wil is, sal ek weer swanger raak. Hy sal weet as die tyd reg is.

“Ons het besluit ons vra nie hoekom dit gebeur het nie, anders sou daar ’n miljoen vrae wees. Soos waarom het die kinders juis tóé saam met Jan-Hendrik gery, waarom was ek moeg en het ek nie saamgery nie, hoekom het iemand nie gebel sodat hulle nie kon gaan ry nie? As jy begin vra, sal jy van jou kop af raak.

“Ons vra ook nie vrae oor die ongeluk nie. Die deur aan die passasierskant het vir ses maande vasgesit, ons het by die bestuurderskant in- en uitgeklim. Daardie dag het die deur net oopgegaan. Jan-Hendrik het 20 km/h gery. Het hy vinniger gery, sou die spoed hulle uitgeskiet het, sou hulle nie onder die wiele beland het nie. Daar is nie antwoorde nie . . .

“Drie weke ná die ongeluk is ons Kaapstad toe vir berading. Dit het gevoel asof ons hulle op die plaas los. Dit was so vreeslik erg. Toe ons terugkom, het ek verlate gevoel en vir die Here gevra: ‘Gee my ’n teken dat U daar is.’ Ek was bang om terug te gaan, daar waar die kinders nie meer is nie. Toe ons by die Drie Susters kom, het ek die teken gesien: ’n Wolk in die vorm van ’n kruis. Ek het verlig gevoel, asof ’n wit kombers my omvou. Ons het dit afgeneem, want ons het gedink niemand sal ons glo nie.

“Dit help baie dat ons albei gelowig is. Die gebede van ander doen ons goed. Ek sukkel om Bybel te lees, want ek soek betekenis in alles wat ek lees. Maar ek bid heeldag: ‘Here, help my net, ek voel nie lekker nie.’ En dan weet ek ek gaan weer fine wees.”

 

Dis sagter op die hart as ons mekaar ondersteun – Jan-Hendrik

 

“Dit het ons as ’n paartjie nader aan mekaar gebring, want dis nou weer net ons twee. Ons het net mekaar. Die kinders was altyd by ons, naby ons, en waar hulle was, is daar nou ’n gat wat gevul moet word.

“Ek sê nie dis maklik nie, maar dit help dat ons dinge saam probeer verwerk. Dis sagter op die hart as ons mekaar ondersteun.

“Ons het oomblikke waar ons mekaar troos. Soms kom ek van die veld af en sien Patrys is hartseer. Ons praat dan, gee mekaar ’n drukkie. Ek huil saam met haar as ons oor hulle praat. Ek huil baie maklik oor my kinders, oor hulle is ek nie skaam om my emosies te wys nie. Ek kan nie alles inhou nie, dit bars net uit.

“Ons het hulle laat veras. Ek het nie kans gesien om twee kissies in die kerk te dra nie. Ons gaan in die berg ’n klipstandbeeld bou vir die as. Nou is daar twee klippe naby die huis waar ons kruise geplant het en waar ’n windpompie draai. Ons gaan gereeld soontoe. Ons praat met ons kinders, ons bid, steek kersies aan.

“’n Mens mors baie tyd met goed wat nie saakmaak nie. Tyd saam met jou kinders is belangriker as tyd vir jouself.”

Respekteer mekaar se manier van rou

Daar’s ’n algemene siening dat 95% van huwelike ná die dood van ’n kind verbrokkel, sê Retha Naude van die Pretoria-tak van die ondersteuningsgroep The Compassionate Friends.

“Dis nie noodwendig so nie, maar dit kan gebeur, veral as daar reeds vooraf huwelikspanning was. Mans en vroue treur verskillend. In die algemeen onderdruk mans hul gevoelens en praat nie oor hul seer nie. Vroue is meer emosioneel en wil praat en huil. Sy neem hom dalk kwalik en dink hy gee nie om nie; hy kan nie haar emosies hanteer nie en ‘vlug’. Sonder kommunikasie en begrip vir mekaar kan verwydering intree.

“Kry inligting en berading. Deur kommunikasie kan hierdie ontsettende verlies julle beslis nader aan mekaar bring. Respekteer mekaar se manier van rou en gee mekaar ruimte.”                                           

Besoek www.tcfp.co.za.