Pippie Kruger (3) het ’n opspraakwekkende veloorplanting, gekloon van haar eie vel, in die Garden City-kliniek in Johannesburg ondergaan. Sy het derdegraadse brandwonde opgedoen nadat ’n bottel vuuraansteekmiddel op Oujaarsaand verlede jaar in haar pa, Erwin, se hande ontplof het.

Op 11 Junie 2012 is Pippie se veloorplanting gedoen. “Ná die operasie het dr. Will Robertson, een van die narkotiseurs, my ’n drukkie gegee en gesê: ‘She will be perfect,’” vertel haar ma, Anice. “Ek het so vreeslik gehuil, dit was soos ’n damwal wat breek. Daar was die spanning van die afgelope maande, die gewag vir die vel van oorsee ...”

Op 18 Julie 2012 is Pippie se verbande die eerste keer oopgemaak. “Ek was die vorige nag te opgewonde om te slaap. En toe dr. Ridwan Mia, die plastiese chirurg, sê haar vel is 90% suksesvol oorgeplant, het ek God se teenwoordigheid sterk gevoel. Ons het gehoop op? 50% – 60%,” sê Anica.

Sy was daarvan oortuig mense kan nie meer saamstaan nie. “Maar ek het gesien hoe ’n nasie, ’n land, die hele wêreld, alle kleure, alle gelowe, kán saamstaan. Hoe die wêreld Pippie aangeneem het as hul eie, hul sakke geskud?het om te help. Hoe almal álles sal doen om die kleine prinses te sien lag.

“My grootste wow is dat ek nooit vir iets gevra het nie, behalwe in gebed, en ek word so gebless.”