Dis warm in Mpumalanga. Die raket sweet in my hand, maar ek voel soos Tinkerbell. In my zippy nuwe sport-rolstoel met sy skewe wiele . . .  Vir die eerste keer in jare bevind ek my weer op ’n tennisbaan. Tol die bal in die lug, doef! Stuur hom langs die lyn af. Dis soos déjà vu. Die selftevrede gevoel is steeds daar, maar alles anders het verander. Waar is die dae toe ek kishou ná kishou oor die net gestuur en soos ’n warrelwind oor die baan getrek het?  Weg. Dis alles weg, weg. Met die wete dat ek nooit weer op my eie bene sal staan nie. ’n Motorongeluk het my spinale koord en wat daarmee saamgaan twaalf jaar gelede afgesny, amper soos die elektrisiteitstoevoer omdat my rekening agterstallig was. En nou, vir die eerste keer in al daardie jare, voel ek weer reg om die lewe in die gesig te kyk. Ek het oorleef, maar nooit die moed gehad om weer daardie kishou te plant nie. Ek het opgestaan, werk toe gegaan en vir die lewe gesmile. Maar agter daardie smile was ’n sardoniese grynslag.

Weke, maande en selfs jare lank was my kamer my vesting teen die wêreld daar buite. Alles was vrek vreemd en onbekend. Ek moes alles weeg en heroorweeg. Elke dag en uur het my gedwing om ou gewoontes af te leer en nuwe besluite te maak. God het my voorgekeer, en soos ’n spietkop vir my ’n kaartjie gegee. Nie een van my kontakte kon die boete afkoop nie, vriende nog minder. Ek betaal nog steeds elke dag, maar deesdae met ’n opregte smile! Want ek het ook iets uit die deal gekry . . .

Soos Victor Frankl sy medegevangenes in die konsentrasiekamp aangespoor het in sy boek Man’s Search For Meaning (die boek was my Bybel ná die ongeluk), het ek besluit om nie die speelding van omstandighede te word nie. Frankl haal Nietzsche aan wat sê: “He who has a WHY to live for can bear with almost any HOW.”

 

Jou gesin en vriende is goud werd, die pilare van jou geluk. Maar moet dit nie te ver voer nie.

 

Ek is nie meer op moedverloor se vlakte nie, al swets ek soms kliphard. Verlam is ek verlam. Tensy ’n wonderwerk vanaand agtuur gebeur en ek weer kan loop - soos die ou bedelaar my hart en mond belowe elke keer as ek hom iets gee! Ek is deur dieptes en dale en weer anderkant uit. Nie net ek nie, my hele gesin saam met my. (Maar hulle het my die dood voor oë gesweer as ek hier oor hulle skryf!) Dus bly ek maar by my storie. Buiten om te sê my huwelik hou nou al 22 jaar (ek het gelukkig ’n baie nice man) en my kinders is nou groot genoeg om te besef ’n ma in ’n rolstoel is nie noodwendig ’n lost case nie! Jou gesin en vriende is goud werd, die pilare van jou geluk. Maar moet dit nie te ver voer nie. As jy net van ander afhanklik is vir jou geluk, stel jy jouself bloot aan seerkry. Lief hulle, maar maak ook plek in jou lewe vir jou eie behoeftes en jou plesiere. Ek het veral geleer om weer in myself te glo. Soos met die tennis. Ek probeer al 12 jaar net een ding op ’n slag. Elke dag bring ’n nuwe oorwinning.

Ek het ook geleer dis belangrik om jouself te aanvaar, om die beste van jou potensiaal te maak en op jou beste te lyk. Tan daai bene, verf daai toonnaels, en wie sê verlamdes kan nie sexy klere dra nie?! As mens van jouself hou en in jouself glo, sal ander dit ook doen. Ek het geleer om myself te vergewe omdat ek gemeet aan wêreldstandaarde nie volmaak is nie. Ek het vrede met myself gemaak. Ek deel liefde uit aan diegene om my, want om lief te hê, bevry jou van beperkinge. Geld speel natuurlik ook ’n rol in jou selfbeeld. Om te kan skoolhou en te skryf, bring jou bietjie nader aan normale mense met salarisse en begrotings. Geld kan ’n mate van sekuriteit koop, maar nie noodwendig geluk nie. Gesondheid, ’n hegte gesinslewe, goeie en opregte vriende en ’n opregte begeerte om gelukkig te wees sit jou wêreld weer op sy regte plek. Dit is wat vrede in my hart bring, al voel ek party dae soos ’n gestrande meermin. Ek aanvaar nie wat met my gebeur het nie. Dan kan ek net sowel agteroorsit en sê: So what, ek is verlam en that’s that!

Ek het die volle verantwoordelikheid van my situasie aanvaar en woeker met alles wat ek het om weer so na as moontlik aan my ou self te kom. Wonderwerke gebeur. Nuwe navorsing word gedoen, maar dis nie te sê ek moet daarvoor sit en wag nie. Ek weet ten minste wat my bottom line is - en dan kan dit net beter gaan. Ek was dertig plus toe die ongeluk gebeur het. Naïef genoeg om te hoop, maar ook realisties genoeg om te besef dat die res van my lewe gewy moes word aan die hardste “jop” van my lewe. Ek soek nie Oscars of simpatie nie - net opregte vriende wat my help vasbyt met ’n transformasieproses wat waarskynlik nooit voltrek sal word nie.

 

Ek kan op my rug bly lê vir die res van my lewe, of ek kan opstaan en die lewe se blomme gaan pluk om my hart op te vrolik.

 

Ek dink die keerpunt was so 6 jaar gelede toe ons amper dood was. Ons is deur aanvallers op ons plaas buite Witrivier oorval en aangehou. My man, Ernie, is skrams in die kop geskiet en vir dood agtergelaat. Ek en Ouma is rondgepluk, geslaan en vasgebind. My seun is ook vasgebind en in ’n ander vertrek met die dood gedreig. Ons dogter was gelukkig nie tuis nie. Later het ek besef hoe nietig verlamde bene is in vergelyking met die besef dat jy jou geliefdes kan verloor. Alles anders vervaag tot ‘n kristalhelder wete: Ek wil lééf. Die jubelende dankbaarheid om my man bebloed, maar lewend uit die badkamer te sien strompel en my seun met sy vasgebinde hande op my skoot te kon tel, was meer werd as my eie patetiese verlies van my bene in die sinlose motorongeluk. Wat maak dit saak as ek nie meer alles kan doen wat ek 12 jaar gelede kon doen nie? Weet jy hoeveel mense wat destyds langs my hospitaalbed gesit het, is vandag al dood?

Ek is Bessie Pienaar. Ek kan op my rug bly lê vir die res van my lewe, of ek kan opstaan en die lewe se blomme gaan pluk om my hart op te vrolik. Flardes onthou uit ’n wêreld waarin ek kon loop, vriendskappe en betrokkenheid by die lewe daarbuite, my wonderlike man en kinders vir wie ek oneindig lief is. Dis die dinge wat tel. Ek sal weer vir julle dans, al is dit nie dié keer op die tafel nie. Ek sal sing van die lewe, van die liefde en van alles wat my sondige, wonderlike, weemoedige lewe myne maak. Ek wil nie jul dooie oë sien wat my bejammer en ontleed nie. Ek sal die show van my lewe gee en julle hoef nie eens toegangsgeld te betaal nie. Die idéé laat my selfs glimlag. Mens kan lighoofdig raak van al die moontlikhede.

My lewensirkel is nog lank nie voltooi nie. Ek dink dis een of ander heilige (Sint Jan, soos André P. Brink hom noem), wat gesê het: “Op die aktiewe fase van suiwering volg die passiewe fase van vervulling. Om die ware donker nag van die siel te belewe, moet albei prosesse voltrek word. Om skoon te maak, te ledig, om jou te pars. Eers as jy die liggaam en sy eise afgesterf het, sy behoefte aan vreugde en aan pyn, sy liefde en sy lus, sy vrese, sy sintuie, sy gewig, dan kan jy opnuut begin liefhê.” Dis waar ek nou is. In die begin van ’n hele nuwe ontdekkingsreis.