Liefste donkerkop-man Om hierdie brief te skryf is vir my ’n journey – een wat begin het op ’n Vrydagaand toe ons eintlik nog maar net jonk-nat-agter-die-ore-verlief-verlore was, skaars 18 en ons mooi lywe ’n taal gepraat het wat ons dalk nie altyd daardie tyd verstaan het nie. Waar ons mekaar sintuiglik aangevoel het en die chemie so oorweldigend was dat ek nou-nog terugdeins as ek daaraan dink.Jou gevoelvolle supersexy sjokoladebruin oë het myne vasgehou. Nou – 23 jaar later loer jy steeds deur dieselfde oë vir my – soms oor jou donkerbril, soms oor die koerant, soms ietwat humeurig en beneuk. Die meeste kere met ’n sagtheid wat sê “ek weet wat jy weet en dis genoeg”.Ek wil jou sê jy maak my mal, ek is gek oor jou. Ek hou van jou, jou lyf, jou taal, jou maniere. Tog moet ek erken daar was ’n tyd dat ek gedink het “Griet, hierdie pad gaan jy nie kan volhou nie – dis te wild, te seer, te baie”. En nou? Miskien is dit die saamloop, die kinders kry, die huis maak, die tuin maak, die lag, die liefde maak wat my laat besef alles sal oukei wees. Jy’s die donkerkopman, die stewige ene, die sensor vir seerkry – jy hou die suurstof om my vol, staan agter my wanneer ek kordaat wil wees en voor my wanneer ek wil wegkruip. Jy, wat trots voorpraat oor wat ek doen en my skaam laat wegkruip as die aandag na my draai. Ai, dan wil ek my hande deur jou kort hare druk, my neus in jou nek en jou bekendheid ruik ... daardie eie mansmensreuk wat my veilig laat voel. Jy, wat saggies en geduldig hierdie persoonlike journey van jy gadeslaan, wat my die ruimte gee om dinge uit te sorteer, my identiteit as vrou te vind te midde van ’n omgewing waar ek soms wonder of alles die moeite werd sal wees. Jy, wat my aanmoedig om steeds aan te hou en my drome te jaag. As ek ure voor die rekenaar sit en ek hoor hoe die skottelgoed gewas raak – dan besef ek hoe lief ek jou het, donkerkopman. Die pad wat jy loop, sluit my in, en dis bevrydend. Miskien was die keerpunt toe ek besef het jou emosie lê veel dieper as wat ek dink. Die keer toe jy saggies my hand gevat het en my oor die plaaswerf na ’n hen se nes geneem het, en die teerheid in jou oë toe jy my die kleinste piepklein kuikens gewys het, het my stom gelaat. Die grootsheid van dié emosie het my vir ewig aan jou hart vasgemaak. Soms, net soms, slaan ’n benoudheid in my vas van “wat as?” Wat as ek moet koebaai sê op die seer, donker manier. Daai manier wat vir ewig is en wat ek nie wil uiter nie? Moontlik sal ek oraait wees, want ons herinneringe ... is dit nie byna ’n leeftyd nie? Dis nou reeds so deel van elke dag, en bring vrede in my gemoed. En as stilte ’n gemaklikheid tussen ons raak, wonder ek soms, my liefling, oor jou wat jou energie daar binne gaan haal, wat oor my kop die verte instaar en kalmte en rus in stilte vind.Hoe hou jy dit uit met my? Ek, wat onophoudelik kan vertel, wat aanhou oor ’n ding, wat kan kerm en kan kla. Hoe gemaak met jou rus en vrede wat so deel is van jou wese en ek wat dit so maklik kan versteur? Ek troos my aan die balans wat dit bring, want te midde van hierdie dinge wat tussen ons lê, die ebb and flow, die polariteit van stilte en babbel, die donkerkop en die ligtekop, die bruin oë en die bloues,die doener en die denker – te midde van dit alles, is daar ’n geheel, ’n eenheid, ’n gemeensaamheid. Miskien kan ek waag om te sê dat hierdie realiteit van ons, die wakkerword elke oggend langs mekaar, die omdraai en vashou, styf vashou ... so sonder woorde ... dít alleen is ware liefde.
Jou Griet