My liewe Soldaat Antwoord my, sê jy. Ná jy soveel jare in die oorlog was. Antwoord my, sê jy deur die woorde op die enkelvel. En dit reeds ná ek jare terug die lelies op ons graf moes sit. Was jou oorlog toe genoeg om my beeld in jou te suiwer, of was dit toe te veel, dat jy jou soeke deur jou brief na my moes kaats soos die heliograaf sy boodskap sein oor baie koppe? En hoe antwoord ek jou nou, ná soveel verloopte jare? Ek, met my ouvroulyf ... deurleefde, deurwinterde ouvroulyf? Hoe moet ek jou vertel van my vrou-word, my ma-word sonder jou? Dat ek jou hande verruil het vir ’n ander dieper troos? En hoe kan jy my vra of ek na jou wil kom, soos ’n duif ná die eerste vloed? Jy het in jou oorlog jou eie vrees besweer. Helder en stil soos die aandster staan jy nou voor my. En ek? Ek dan? Jy verdien geen afvlerkvinkie nie. Nee, ’n vastevlerk grys sinkvalk wat onbevange, onverskrokke na jou toe kom. Jy verdien geen vlerkgeknipte koukanarie nie, maar ’n windswael in vrye vlug. Jy verdien ’n ongebonde gees wat saam met jou op vlerke leef. En ek bly maar net gebroke vlees. En sou ek kom en jy my vat, die skerwe wat ’n brokstuk bly, sou ek nie dalk dan wegkwyn en verlangend wens om nog net eenmaal soos ’n visarend te draai, te sirkel en met vaste vlerk weer neswaarts te keer nie? En jy dan? Dan laat ek jou weer alleen. Groete, altyd net maar liefdesgroete. Ek