“My beste ‘fout’ was om te trou. Tien jaar gelede was ek 43, ongetroud en onverbonde. En baie gelukkig. Ek was selfstandig, met my eie huis en my motor afbetaal. My twee talentvolle seuns [Floris en Adriaan] was groot en besig om hul eie lewens te ontdek.

"Ek was alleen, maar beslis nie eensaam en verdrietig nie. Die lewe was opwindend, ek kon doen wat ek wou en reis waar en wanneer ek wou. Ná ’n huwelik wat nie uitgewerk het nie en ’n verhouding wat ’n ramp was, het ek gedink trou sou die domste ding wees wat enige vrou kon doen.

“En toe kom daar ’n man in my lewe. ’n Lelike man wat glad nie my soort is nie. Ons het gekuier, gereis, gesels, wyn gedrink en gelag. Maar niks meer as dit nie. Hy moes net nie dink hy kon op my verlief raak nie . . .

“Hy het gesê ek kon ontspan, maar as ék wou, kon ek hom vra om eendag te trou – en dis presies wat ek gedoen het. Tien jaar later is ek steeds op wittebrood, met dieselfde lieflike, lelike man.
“Ek het geleer dat jy nie moet trou om gelukkig te wees nie. Wees gelukkig vóór jy trou.”