Daar was lanklaas so vinnig in hierdie huis aangetrek anders het ons ook dalk `n “onvertelde storie” gehad. Op pad na Rosebank vra ek vir Heinz of hy seker is dit is daar en nie by Monte Cassino nie, want elke ander premiére wat ek al bygewoon het was by Monte. Skielik twyfel die knaap in sy eie administrasie vermoë (ek twyfel al lankal daaraan) maar tog jaag hy soontoe voort. Ek sien al hoe kom ons daar aan met aandklere en die ander fliekgangers dink ons is die klits kwyt! Maar met baie selfvertroue en bravade vat ons daai hysbak aan en met groot verligting sien ons dat daar ander mense is wat ook soos ons lyk. Alhoewel ons (bietjie) laat is (weens omstandighede wat nie my baba behels nie) kan mens steeds die opwinding aanvoel. Almal sien uit om te sien wat die vervaardigers met die fliek gemaak het. Ons kuier vlugtig met `n paar bekendes: Zetske en Altus, Anel Alexander en Hanna Grobler (wat baie cute lyk maar swartraam bril) Bok van Blerk en `n paar ander aantreklike mense. Ons neem `n paar foto’s, doen `n paar onderhoude en later word ons die teater binne gelei. Ek moet eerlikwaar se ek dink die Suid- Afrikaanse volk gaan verbaas wees om te sien wat Cobus Rossouw (Jnr) en Bianca Isaacs opgelewer het. Die dramatiese vertolking van die akteurs was verbasend goed en ek haal veral my hoed af vir Altus Theart. Die musiek, beligting, skote en storielyn is van die land se bestes nog. Toe ons die teater verlaat was ek en Bok dit eens dat ons `n koffietjie moet gaan drink ;-) (julle sal verstaan as julle dit klaar gekyk het- of bloot die reeks op KYKnet gevolg het) Na die tyd kuier ons vinnig met Elma Postma (saam met haar nuwe knaap: John van der Merwe) wat binnekort in `n ander Suid-Afrikaanse sepie gesien kan word. (En sonder om enige name te noem, mens kan dit nie in die BUITEland sien nie). En sy het my belowe sy is nie `n verpleegster nie. Corinne du Toit het vir eers bietjie die vermaaklikheidsbedryf verlaat en werk deesdae vir `n mediese verskaffers maatskappy, en geniet die nuwe uitdaging ontsaglik. Almal gons oor hoe beïndruk hulle is met die storie en sien veral uit na die VOLGENDE reeks van Getroud met rugby wat DV 2012 op KYKnet te siene gaan wees. Laat aand is ons huis toe om aan ons “onvertelde storie” te skryf.