Die inligting oor die ongeluk op Sondag 13 Desember 2009 op Africa Aviation se webtuiste is feitelik en formeel:

Datum: 13-DES-2009

Tyd: 08:40 LT

Tipe: Extra Flugzeugbau

GMBH EA-300

Fataliteite: 2

Vliegtuig-skade: Onherstelbaar.

Die lugvaartgemeenskap is klein, en kort nadat die berig verskyn het, vra iemand op die webtuiste: "MayDay . . . MayDay . . . MayDay . . .Was dit nie dr. Robbie Nutt nie?"

Dit is so met enige ongeluk. Eers net koue, formele inligting.Tot die slagoffer(s) name kry. Dan begin die tragedie rondom die ongeluk ontvou . . . Later die oggend lewer iemand kommentaar op 'n blog vir vlieggeesdriftiges:

"Ja, dit was dr. Robbie Nutt. Hy was 'n briljante oogchirurg en het laasjaar my oog gered. Ek is geskok oor sy dood. Ek sal altyd onthou dat hy tussen al sy pasiënte altyd my en my vrou se voorname onthou het..."

'n Week tevore het Robbie die eerste keer aan 'n kunsvliegwedstryd deelgeneem. Sy vliegtuig het volspoed deur die lug geklief en hy het asembenemende lugtoertjies uitgevoer. Hy was oorstelp toe hy as medewenner aangewys is. Iewers in Johannesburg het 'n vrou daardie noodlottige oggend haar foon beantwoord.

"Ek is so bekommerd oor Robbie, hy en Paul het vanoggend gaan vlieg en hy is laat. Ek hoop nie hulle was in 'n ongeluk nie . . ."het RSG se Tjailatyd-aanbieder, Amore Bekker, vir Robbie se skoonsuster, Tanya Nutt, gesê.

"Dis hoekom ek bel . . ." was die antwoord.

Amore se geluk het op daardie oomblik in stukkies gesplinter . . .

Ek het heeljaar 'n ongemaklike aanvoeling gehad; ek het gevoel iets gaan gebeur, maar nie geweet wat nie. Die laaste week voor Robbie se dood het die gevoel intens geraak. Ek kon nie slaap nie, was huilerig, buierig en in 'n diep, donker gat. Robbie het gesê ek beleef dalk my menopouse, ek moet 'n dokter gaan sien, maar toetse het gewys dis nie so nie.Die dokter, en 'n homeopaat wat ek dieselfde week gaan sien het, het gesê ek het depressie.

Ek het die dokter vertel hoe gelukkig ek is en watter wonderlike lewensmaat ek het en dat daar niks met my omstandighede skort nie. Daar was werklik niks om oor depressief te wees nie!

Ek het Robbie ontmoet toe ek 41 was.

Ek is nooit getroud nie, want ek het net nog nooit die regte man ontmoet nie.

Toe kom Robbie . . .

Hy het voluit geleef en sy eie lewe gehad - dit is wat hom so aantreklik gemaak het. Hy het van die buitelug en veral avontuursport soos kunsvlieg gehou. Hy was dol daarop om akrobatiese lugtoertjies met sy kunsvliegtuig te doen, waarvan hy saam met 'n groep vriende medeeienaar was. Die vliegtuig is vir vertonings vir die Noordwes-Arende se akrobatiese lugspan gebruik en twee van die mede-eienaars was in die span.

Hoewel Robbie 'n ervare vlieënier was, was hy nie in die span nie.

Hy het on the edge geleef en ek het dit so aanvaar.

Passies moet gerespekteer word. As ek hom sou gekeer het, sou ek met 'n ongelukkige man gesit het. Hy was 'n retinale oogchirurg, en omdat hy elke dag in 'n donker teater op 'n klein area agter 'n mikroskoop moes werk, het ek geweet sy siel het dit nodig om sy vlerke te sprei en vry te wees.

Al is ek nie self 'n buitelug- of avontuurlustige mens nie, het hy my deel gemaak van sy ekspedisies. Hy het my oorreed om dinge te doen wat ek nooit voorheen sou gedoen het nie, soos om saam met hom te vlieg. Ek het saam met hom op seilbote tussen golwe deurgeklief en teen hange af geski.

Ons laaste vakansie saam in September 2009 in Marokko het ons aangepak sonder om vooraf enige

 

Ek het tot die besef gekom dat diepe hartseer baie te doen het met selfbejammering. Dit laat my nie minder huil nie,maar nou tjank ek darem in perspektief!

 

besprekings te doen. Ons het net die gehuurde motor se neus in 'n rigting gestuur en alles voluit beleef.

Ons was albei lief vir die woestyn en hoe 'leliker' en kaler die wêreld geword het, hoe mooier was dit vir ons. Dit het ons asem weggeslaan. Asembenemend. Ek is so dankbaar ons kon dit saam beleef.

Ons was drie jaar en twee maande saam. Robbie het dit vir my gedoen!

Hy was baie romanties, en ook terselfdertyd 'n groot uitdaging. Op 13 Desember, sesuur die oggend, het hy my op 'n ongewone, besondere manier gegroet. Voor hy na die Randse lughawe gery het, het hy my gesig in sy hande gehou en gesê: 'Tot siens, my prinses.'

As ek nou terugdink, moes hy op 'n onbewuste manier geweet het dit is 'n laaste groet, want hy het my nooit wakker gemaak as hy vroeg gaan vlieg het nie. Ek glo dis ook hoekom hy die laaste jaar van sy lewe so vinnig begin leef het - hy moes geweet het dat hy nie meer baie tyd oor het nie.

Later die oggend het sy skoonsuster my gebel . . .

Hy het vroeër die week gepraat van 'n nuwe toertjie wat hy en Paul wil uitvoer. Ek weet nie of hulle dit toe ooit gedoen het en of hy of Paul aan die stuur was nie. Hulle het nie tyd gehad om 'n noodsein uit te stuur nie. Hulle het 40 minute nadat hulle opgestyg het suid van Johannesburg neergestort.

Albei is op slag dood.

Daar het 'n ongelooflike kalmte oor my gekom ná die nuus. Ek is gedra deur daardie volgende 48 uur. Ironies genoeg is my depressie weg sedert sy dood. Ek is hartseer, maar kan weer rustig slaap.

Ek is nou 45 en die sielsgenoot op wie ek my lewe lank gewag het en wat ek uiteindelik gevind het, is weg..

Dis asof ek my lewe lank voorberei het vir so 'n traumatiese ondervinding. 'n Mens weet dit net.

My manier van glo maak dit vir my makliker om Robbie se dood te verwerk.

Vir my eindig 'n mens se verhouding met iemand nie as hy doodgaan nie. Dit neem net 'n ander vorm aan. Ek glo ook almal gaan dood, maar niemand sterf nie. Robbie is nou meer by my as ooit tevore. Hy is in die geesteswêreld by God, waar daar geen tyd en ruimte is nie, so hy is heeltyd by my. En wie ook al met homwil praat, hy is by hulle ook.

Mense vra hoekom ek so vrolik kan klink op die radio.

Is dit 'n masker?

Nee, kyk, ek is hartseer, maar ek het nie my vreugde verloor nie. As ek by die ateljee instap, gaan ek in 'n veilige kokon van vreugde, vrede en liefde in. Robbie jubel saam met my agter daai mikrofoon!

Maar ek huil baie, ek huil myself skoon dors.

Dit help om baie oor hom te praat, en ek het onmiddellik 'n shrine by my huis vir hom opgerig, met sy foto, vars blomme en kerse. As ek soggens opstaan, praat ek met hom. Ek skryf ook elke dag vir hom iets, iets wat ek in elk geval vir hom wou sê.

Beroof of kwaad voel ek nie, want hy is nie weg nie, hy het net 'n ander vorm aangeneem, en as daar iets is wat ek nog vir hom wou sê, dan sê ek dit. Hy sal my hoor. Hy is steeds by my en om my.

Ja, natuurlik mis ek sy fisieke teenwoordigheid, dan gaan stap ek met die tekkies wat hy vir my gekoop het en ek maak die voorskoot wat hy vir my uit Disney World saamgebring het, styf om my middel vas sodat dit kan voel of hy my 'n drukkie gee as ek kook.

Dit mag vreemd klink, maar ek het sy asblik by sy huis gaan haal - omdat dit vir my 'n mooi asblik is, maar hoofsaaklik sodat ek elke dag al my sorge daarin kan gooi.

Robbie het 'n groot hart gehad, hy het teruggeploeg in die gemeenskap en weekliks gratis operasies by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg gedoen.

Hy het geweldige empatie met sy pasiënte gehad en sy selfoonnommer aan elkeen gegee. Hulle kon hom enige tyd van die dag of nag bel. Soms wou ek hê hy moet net die foon Sondagmiddae vir 'n uur afsit sodat 'n mens darem 'n rustige Sondagslapie kon hê, maar hy wou nie.

Om aan te beweeg is 'n moeisame proses.

Jy tel jouself elke oggend met moeite op.Gelukkig kom die toekoms een dag op 'n slag. Ek is besig om weer my eie ritme te vind. Ek leef my uit in my werk en kos. Kos was nog altyd my groot voorliefde. Ek sorg dat ek elke aand vir myself 'n wonderlike bord kos berei. Vanaand gaan ek 'n heerlike

Thai-hoendergereg maak!

Die eerste twee weke ná sy dood moes ek verlof neem om tot verhaal te kom.

Almal by RSG en die luisteraars het my ondersteun, maar toe ek teruggaan, het ek vir hulle gesê Tjailatyd gaan nou aan soos altyd, en weer eens, ek het nie my vreugde verloor nie, en dis daardie vreugde waaroor Tjailatyd gaan.

Ons was lewensmaats, maar elkeen het in sy eie huis gebly en sy eie ruimte gehad. Ek glo dit is hoekom dit vir ons gewerk het. Sy seun, Robbie (13), het by hom gewoon en Robbie sr. was 'n toegewyde ouer. Dis 'n baie moeilike herstelproses.

Stephanie Ericsson, skrywer van Companion through the Darkness (Harper Collins), sê die rouproses sal 'n nuwe mens van jou maak, as dit jou nie in die proses doodmaak nie . . .

Ek glo dis jou keuse.

Net soos ek aangevoel het die seer sal op my pad kom, weet ek ek sal weer oukei wees. Genesing vind reeds plaas. Daar is dinge van Robbie wat ek altyd saam met my sal dra. Spesiale oomblikke soos 'n romantiese sonsondergang op kamele in die woestyn in Marokko. En sy soene.

Ons was net 'n kort tydjie saam, maar het 'n leeftyd se liefde en avontuur beleef.

Dis asof ek geweet het 'n mens kan iemand soos Robbie nie vir ewig vasbind nie. Hy was 'n vry gees. Ek het geweet hy sal gaan. Dis vreemd, maar dis asof hy daarvoor voorsiening gemaak het. Asof hy geweet het.

Hy het altyd gesê sy droom is om eendag in 'n vliegtuig te sterf. Volspoed. Soos hy geleef het."