Candice Derman se boek Indescribable - It's Easy to Keep a Bad Secret het in November 2010 verskyn. Sedertdien het sy ongelooflike reaksie van lesers gekry, onder meer e-posse en briewe van mense wat sê hoeveel die boek vir hulle beteken het. Sy tree ook soms as spreker op en wil die boodskap oordra dat dit moontlik is om heel te word ná so ’n ervaring.

Sy vertel:

"Indescribable is nie die soort boek wat geïgnoreer kan word nie weens die onderwerp. Toe ek jonk was, het ek ?na ’n boek soos dié gesoek. Toe besluit ek om dit self te skryf.

Ek wou die storie vertel soos dit gebeur het. Ek dink ek het soveel terugvoer van lesers gekry omdat die boek so eerlik geskryf is. Dit het die deur vir mense se emosies oopgemaak en ’n gesprek begin.

Gedurende die skryfproses het ek nie gedink aan hoe mense die boek gaan ontvang en wat hul reaksie gaan wees nie. Ek het net gaan sit en skryf, sonder enige vooropgestelde idees.

Die praatjies wat ek lewer, het spontaan gebeur. Klein nie-regeringsorganisasies het my gekontak om dit te doen. Ek praat met vroue van verskillende ouderdomme – van 20 tot 60 jaar – oor my ervaring. Ek praat nie net oor die molestering nie, maar ook oor hoe ek dit oorleef het en gesond geword het. Ek wil vir vroue wys dis moontlik om ’n goeie lewe te lei en dat liefde helend is. Ons word soms so bang en sinies dat ons nie liefde in ons lewe toelaat nie.

Die praatjies skep ’n platform vir vroue om vrae te vra. Molestering strek wyer as ek en wyer as my boek.

Die boek is nou in sy derde drukoplaag en ek is dankbaar daarvoor. Hoe meer boeke verkoop en hoe meer mense dit vir ander gee om te lees, hoe meer praat mense oor molestering. Dít is hoe die proses van genesing begin.”

Volg SARIE op Twitter en Facebook