"Ek wou by wees by die verassingseremonie by die Père Lachaise-begraafplaas in Parys, maar toe hou hulle dit Maandag sonder my. Ek was só hartseer en sommer geïrriteerd, want ek het my daarop voorberei. Ek gaan sy as nou self haal.

"In Mei is 105 lyke die eerste keer in die Atlantiese Oseaan, naby die kuslyn van Brasilië, sowat 3 tot 4 km diep in die see met 'n robot opgespoor. Familie en vriende het gehoor dat kenners danksy DNS-toetse die identiteit van die lyke teen November sou vasstel."

Die hele Oktober het Alet angstig gewag op nuus. Teen 7 November het sy die SA kantore van Air France, aan wie die rampvlug behoort het, gebel. "Dís eers toe ek hoor Erich se lyk is opgespoor. Ek was van toe af huilerig, hoewel ek nie gedink het dit gaan my só erg beïnvloed nie. Dis immers 2½ jaar later. 'n Vriend het nou die dag vir my gesê, almal gaan maar dood. I must get over it.”

Op 12 Desember hou ons 'n gedenkdiens by my huis waar familie en nabyvriende sal wees.
"Dit sal op 'n manier closure bring, maar dis ook moeilik om ou hartseer opnuut oop te krap."
En die gedenkdiens gaan maar moeilik vir Kristen (8) en die tweeling, Anje en Melissa (7), wees. "Hulle hou ook glad nie van die idee dat hy veras is nie, maar ek het baie met hulle daaroor gepraat. Hulle is nou rustiger. Ek het ook vir hulle pragtige albums gemaak van die tyd toe ons getroud was totdat hy dood is. Gelukkige foto’s.”

Alet is nog dikwels alleen. "Jy mís die company ..." Maar sy's dankbaar dat sy en die kinders Kerstyd saam met haar suster en háár gesin op Jeffreysbaai kan kuier.

"Ek het ook middel Oktober begin branderplankry en kry private lesse by 'n instrukteur. Dís ongelooflik. Net ek en die see ..."