Ek skryf die brief aan jou, al weet ek ons paadjies het pas geskei. Daar is nou ’n vraag in my hart: Was dit ware liefde of ’n speletjie van jou met my? Liefde is ’n baie groot woord met vele betekenisse. Volgens die HAT is liefde ’n hartlike geneentheid of ’n hegtheid aan ’n persoon of saak. Volgens G.A. Watermeyer is die liefde die “naverdriet wat in die hart se holte pas”. My ma beskryf liefde as omgee, mededeelsaamheid, warmte en opregtheid. My pa sê hy weet nie hoe om dit te beskryf nie, maar vir sy kinders sal hy kaalvoet oor vuur loop, want ons is sy alles. Die Bybel sê vir my liefde is wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Jy sê liefde is om vertroue in mekaar te hê. In my oë dink ek liefde kan bewys word deur opofferings. Ons verhouding was ’n feëverhaal. Dit het begin toe ons mekaar vir die eerste keer in die skoolgange raakgeloop het. Ek het vlinders in my maag gekry en ’n knop in my keel. Ek was stomgeslaan – kon geen geskikte woord vind nie, wat nog te sê van ’n glimlag. Al wat ek kon uitkry, was “H-hh-allo,” en ’n baie gespanne glimlag. Wat dit aan jou hart gedoen het, weet ek glad nie. Al wat tel, is dat ek ’n “hallo” teruggekry het. Van daardie eerste keer toe ek in jou blou oë kon kyk, was ek dolverlief. Alles was perfek, maar die lewe is nie regverdig nie. Elke positiewe het ’n negatiewe en my feëverhaal het baie vinnig tot ’n einde gekom. Nou is daar ’n paar dinge wat ek vir jou wil sê. Eerstens: ek is lief vir jou. Ek sê dit nie om boosaardig te wees nie en ook nie om jou te laat sleg voel nie, maar net omdat dit in my hart staan. As ek die lewe vooruit kon beplan, sou dit wees dat ons paadjies nou dadelik weer kruis. Dan kom die vrae by my op: Is ek bereid om vir jou te wag? Is een kans nie genoeg nie of verdien jy ’n tweede? Ek kyk na my foon – ’n foto waar jy lê en slaap. Nou wens ek dat ek letterlik aan die slaap kan raak en as ek ná 'n paar maande opstaan, alles tussen ons sal reg wees of dat ek heeltemal van jou vergeet het.
Jy gee my hoop deur te vra dat ons in kontak bly en beste maats moet raak. Jy verkies dat ons vriendskap van so aard moet wees dat jy vir my raad kan vra oor jou volgende verhouding, maar ek wil nie hoor dat daar iemand anders is wat jou hart laat handeklap nie. Ek wil steeds ’n band met jou hou, maar ek is net ongelooflik versigtig om nog seer te kry. My lewe het ek as perfek beskou! ’n Verhouding met God, wonderlike vriende en familie en ’n spesiale ou soos jy in my hart. Alles bly nog dieselfde, behalwe daar is net ’n gaatjie in my hart. Verwarring en verwoesting pyn binne-in my. My kop is deurmekaar. Het ons genoeg dinge in ons verhouding gedeel of het daar ’n paar kwadrate gekort? Ek sit hier met ’n gebroke hart, maar voel steeds verlief. Jy het my belowe ons gaan goed uitmekaar gaan, maar al die pyn, woede, gebrokenheid, teleurstelling en verlange maak dit moeilik om te glo. Ek wonder hoekom jy so graag vriende wil bly. Om my gemoedsrus te gee? Nee, wat ek nou vir gemoedsrus wil hê, is alles wat ons gehad het. Ek wil ons gelukkige tye saam herleef. Ek wil saam met jou lag, stoei, sjokolade eet, swem en net lui wees. Baie mense sê dit. Ek het dit nog net vir jou gesê en gaan nou weer: Ek het lief geraak vir jou. Ongelukkig kom ’n verhouding van twee kante af en niks wat ek doen of sê kan dit van jou kant af verander nie. My kop is deurmekaar, soos jy kan agterkom, maar my hart wil net een ding hê: dat jy my kan lief hê soos ek jou lief het. Ek het pyn, skat, maar nou moet ek my nuwe lewe baasraak. Sonder jou. Ja, op my eie. Dankie vir ’n ongelooflike tyd, al my opofferings was die moeite werd. Jy het my die kans gegee om ware liefde te ervaar. Dankie daarvoor. Jy het voetspore in my hart agtergelaat en ek hoop ek in joune. Sprei nou jou vlerke van vryheid en vlieg na waar jy geluk vind. Solank jy gelukkig is, sal ek ook wees. Maar eintlik wil ek soos Sam Cupido sê: “ek wens net ek kan jou vou soos mens normaalweg liefdesbriewe vou en vir altyd in my tiekiepôket hou”