BRIEF VAN DIE MAAND
Wye wêreld wag

Hy’t my nog altyd aan my pa herinner met sy liniaal-insluk-stap – fier en met afgemete treë. By die diplomaplegtigheid het ’n klasmaat vir my gefluister: “Die perfekte statuur vir ’n butler, Mevrou!” In sy swart pak en wit behandskoende hande het hy daar gestaan. Prim en proper soos sy oorle oupa! Terwyl ék geworstel het om die wurgpatat-knop in my keel afgesluk te kry.
En nou gaan my min-woorde-kind die oseane aandurf as butler vir een van die wêreld se mees eksklusiewe seiljag-vlote. Hy wou altyd die wêreld sien en ander kulture leer ken.
My ma-hart pyn in stilte, maar ek borrel ook van opgewondenheid oor sy once-in-a-lifetime-geleentheid.
Kleintydlesse sal vir hom die regte padkos wees. Hy sal altyd warm gehou word deur sy ouers se liefdeskombers, al woed die lewe se stormseë. En hy sál die pad terugvind na die hawe van ons hart – sommer so sonder die GPS!
Maar vir eers moet ons die ankertoue losmaak en sy bootjie die wye oseaan instoot, want so het ons hom geleer: Jy kan nie nuwe oseane ontdek as jy steeds die kuslyn in die oog het nie.
Wendy Anthonie, Beaufort-Wes

Ode aan my kleindogter
Ek bring hulde aan my kleindogter wat pas haar LL.B. met lof verwerf het. My ongetroude dogter het destyds swanger geraak met haar en ons was natuurlik hartseer daaroor. Maar my kleinkind was van haar geboorte af ’n besonderse mensie.
Sy was altyd ’n toppresteerder, hoofmeisie op hoërskool, het met vier onderskeidings gematrikuleer, en op universiteit haar prestasies voortgesit.
Niks kry haar onder nie, nie eens die feit dat haar pa die huis verlaat het toe sy in graad 1 was nie.
Aan alle ma’s en oumas met onverwagte babas: Jy weet nooit wie is die bondeltjie wat jy in die wiegie lê nie. Gee die baba liefde. Dan pluk jy eendag die vrug en genot van ’n lifelike kleinkind. Soos ons!
Trotse ouma, Struisbaai

Troukoors

Ons jongste dogter trou in Julie volgende jaar. Victoriaans, gekoester in kant, satyn en pêrels.
Die kaartjies is handgemaak met dik, wit papier en die kleurskema is ’n simfonie van oester en bruingrys met outydse pienk rose vir die ruikers.
Danksy SARIE BRUID weet sy ook hoe die rok moet pas, die spyskaart moet smaak en die troukoek moet lyk. Die skoene moet van Amerika af kom en Pa smeek heeltyd: “Stadig! S-t-ad-i-g!” Nou stadig ons.
Ek kry dit nie reg om deur SARIE BRUID te blaai sonder om in trane uit te bars nie. Pa loer ook na die mooi in die boek en sluip dan studeerkamer toe . . . óf om sy sente te tel óf om stilletjies saam te huil.
Dan sien ek my oudste kind ook so wasig voor my, die een met die pers ogies en ligte hare. (Sy het as student verongeluk.)
Hoe graag sou ek nie ook vir haar met haar spesiale dag wou help nie. Dié dogtertjie sal altyd my wese vol lê en ek sal altyd oor haar wonder, al in die rondte, nes ’n voël wat plek soek om te sit.
Dankie, SARIE BRUID, die samestellers het hulself oortref! Frances Jooste, Pretoria
*Gaan na
sarie.com as jy wil inskryf vir ons Bruid van die Jaar-wedstryd. Inskrywings sluit op 28 Februarie 2011.

Ma ís hier
Skielik is my laaste kuiken uit die nes! Weliswaar met baie subtiele aanmoediging en ’n bietjie cruel-to-be-kind-taktiek. Niks het my hierop voorberei nie, nie eens die jare se ma-wees vir twee baie aktiewe seuns nie!
Ek talm by winkelrakke met sy voorkeur-lekkernye, lê steeds laatnag wakker en wag vir sy “doef-doef”-klankstelsel wanneer hy huis toe kom, ek mis ons laatnag-geselsies en midnight snacks. (Hou groeiende jong mans ooit op met eet?)
Maar ek mis veral sy amperman-lyf wat my onhandig vashou met ’n “Ai, Ma” wanneer my hormone hul eie koers kry en ek vir geen aardse rede heerlike vet trane stort. Diep in my binneste lê daar ’n groot dankbaarheid. My kind is net ’n telefoonoproep ver, by sy ouboet.
Seuns, doen jul ding. Loop jul lewenspad fier en reguit. Ma is hier wanneer julle my nodig kry.
Schöni Jordaan, Wildernis

SARIE-lewenslyn
Ek sluk swaar aan die knop in my keel toe ek ná werk op die bus tussen al die Arabiese gesprekke Michélle se redakteursbrief lees (“Suid-Afrika is mý land”, Oktober 2010). ’n Kollega het die SARIE vir my van SA af gebring . . . my lewenslyn hier in Saoedi-Arabië.
Ek bewonder Michélle vir haar begrip vir albei partye – dié wat bly en dié wat groet. Ek werk al drie jaar op kontrak in die Midde-Ooste. Vir my is dit ondenkbaar om te emigreer. Ek lééf vir my jaarlikse SA vakansie, om Afrikaans te praat en elke grashalm, boom, wolk en berg in te drink.
Ek is ook erg getraumatiseer in SA, maar ek het nooit daaraan gedink om my land te verlaat nie. Misdaad is oral.
“Huis” het vir my nuwe betekenis gekry. Dis waar ek behóórt, waar ek my menseregte kan uitoefen, en waar mense oor hul geloof kan praat.
Ek probeer werk kry in SA, want ek wil teruggaan.
Dankie, SARIE, vir wat jy vir my beteken 19 800 km van die huis af.
Sally Harmse, Saoedi-Arabië

Amanda Cliengen

Dís die lewe

Dit was ’n groot verrassing toe ek deur SARIE se Oktober-uitgawe blaai en Amanda Cliengen in die artikel “Daar ís lewe ná egskeiding” herken.
Behalwe dat sy so fantasties lyk en ons Bosveld-dorp (waar sy haar restaurant toegemaak het) haar spyskaart met heerlike geregte steeds mis, onthou ek wat ek en sy altyd gesê het: “Om êrens aan die Weskus in ’n ou pootjiesbad te sit met ’n view oor die see . . . dít is die lewe!”
Die dag toe ek haar ons dorpie sien uitry, het ek haar agternagestaar en gehoop dat sy daardie bad met die view sal kry. En sy het beslis! You go girl . . .
Met naby familie en vriende wat al deur egskeidings gegaan het, weet ek die lewe kan ’n mens van jou voete af gooi. Maar jy het altyd ’n keuse om weer op te staan en te kies om te lewe, om te soek na daardie één ding wat die lewe die moeite werd maak, en dit te vind. Al is dit net ’n ou pootjiesbad met ’n uitsig oor die see!

Petro Hansen, Bela-Bela

Huis toe
Ek en my man bly al byna vier jaar in Switserland. Ons praat vir die eerste keer van teruggaan huis toe. Ons mis die ruimte, die weer en ons familie in SA. Tog voel ek hartseer om Europa en die klein landjie agter te laat. Die wit winters het ’n spesiale betowering, en die kosmopolitiese bestaan in Zürich het tog ’n sterk aantrekkingskrag.
My seuntjie is nou agt maande en ons wag vir sy paspoort sodat hy sy oupa vir die eerste keer kan ontmoet en sy tone in die sand kan wriemel.
Ek kry vanoggend my September-SARIE in die pos. Julle praat van lente in die lug en van rooi sonsondergange. Hier is die lug vaalblou en ysig. Ek blaai en lees oor bekende dinge, en ek voel die heimwee. Skielik is ek opgewonde om huis toe te gaan.
Helene Siepman, Zürich

Deur kinders se oë
Ek kry ’n e-pos van ’n vriendin. “Jy lyk asof jy te veel van jouself vir ander gee. Ek bederf jou met ’n facial en daarna koop ons vir jou grimering. Ons manne kyk na die kinders.” So gesê, so gemaak.
Vrydagmiddag is ons in die salon vir my bederfsessie. ’n Uur later stap ek en my engel-vriendin stralend in die winkelsentrum rond op soek na maskara, lipstiffie en blosser.
Eindelik wals ons die huis binne. Die geur van kos hang in die lug. Manlief het reeds ons twee dogters in die bad gesit, Boeta spring nog buite rond. Toe ek by die badkamer inloer, gluur my sewejarige my aan: “Jy’s nie mý mamma nie.”
“Natuurlik is ek, Annika.”
Wantrouig sê sy: “Nee, jy is nie . . . jy lyk gelukkig.”
Die woorde tref my soos koue water. Lyk ek soveel anders ná net drie uur op my eie? En toe plaas die tweejarige Mia die kersie op die koek: “Het jy getrou?”
Dankie, Vriendin, vir die bederf wat my, deur my kinders se oë, soos ’n stralende bruid laat lyk het!
Anli van Santen, Stellenbosch

Skryf aan ons

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.
Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.