29 jaar SARIE Ek soek ’n dun ringrug-lêer vir ’n CV en sertifikate. Ek kies een, maar moet dit eers leegmaak. En daar beland SARIE (Marais)-herinneringe oor meer as twee dekades op my skoot! Daar’s hekelpatroon-bylaes van 1979, met een wat sê “hekelwerk wat blom”. Ek was destyds 22 toe ek ywerig leer hekel het by die hospitaal in Bloemfontein, waar ek sekretaresse was. In September 1982 skryf Marietjie van Rooyen oor die einde van die werkdag, onder meer van die “massa wat dy en druk, ry en ruk, elkeen ingestel op selfbehoud”, van “krag, naasteliefde, dankies en assebliefs vir die dag” wat haas opgebruik is. Enkelblaaie kondig artikels in komende 1982-uitgawes aan, naamlik ’n gesin van ses se kosrekening is R150 per maand, en “Seks: Kan vroue die inisiatief neem?” SARIE, my vriendin, ons kom al 29 jaar saam, sedert die dae toe jy nog ’n van gehad het! Met vreugde koester ek dié herinneringe saam met jou. Louise van Jaarsveld, Tshwane
  Ons kleinkind Ons - oupa en ouma - is die afgelope 2 jaar “pa” en “ma” vir ons 3-jarige kleinkind. Hy’s ons groot vreugde en een bondel liefde. Besef mense wat skei ooit wat hulle aan hul ouers en hul kinders doen?
Hy vra daagliks: “Ouma, het Pappa en Mamma my baie lief? Wanneer kom hulle my haal? Werk hulle nog?” Hy huil feitlik daagliks onbedaarlik, want hy verlang na hulle. Pappa werk en Mamma hou partytjie.
Hy’s nie meer op sy pa se siekefonds nie. In een stadium was hy so ondervoed dat sy tandjies los was. Kom ons vat hande en bid vir die duisende kinders wêreldwyd wat uit gebroke huwelike kom en vir “ouers” wat nie ouers wil wees nie. My hart gaan ook uit na die ouerpare wat bid vir ’n kindjie.

Ouma, Zambië

WENBRIEF

 

Kyk na die wolke

Ek en my gesin ry terug Johannesburg toe ná ’n heerlike naweek in Ballito. Ons motor breek op die N3 in die Vrystaat. Ek begin myself die ergste voorstel terwyl my man kalm bly en dinge uitsorteer. Die insleepvoertuig is op pad. Ons moet kalm bly, sê my man. Ná 2 uur daag die insleepvoertuig op. Ons sit almal soos sardientjies ingeryg - ons een dogter op my skoot en die ander 2 plus ’n babastoel op my man se skoot. Dis warm. Ons is vaak en moeg en my trane wil-wil oor die walle breek.
My man kry dit reg om ons te laat lag. Die kinders dink dis ’n avontuur. Ons word by ’n gastehuis op die dorp Vrede afgelaai. Ek is mal oor klein dorpies, maar nie vandag nie! My man speel met die kinders in die modder, skop ’n bal saam met hulle rond en bestel vir hulle melkskommels.

Laatmiddag neem ’n huurmotor ons huis toe. Die padkos is warm. Ek is emosioneel, en dit oor ’n kar wat moet agterbly. Toe ons by Vrede wegry, kyk my man in die lug en sê: “Kyk daardie wolke - hulle lyk soos engelvlerke.” Ek kry ’n knop in my keel, want ná al die chaos sien my man engelvlerke in wolke.
Jy wat engelvlerke in wolke sien ... jý is die een met die grootste vlerke. 
Marguerite Dippenaar, Norwood

Marguerite Dippenaar het die wenbrief vir SARIE se Februarie 2009-uitgawe geskryf. Sy wen ons prysgeld van R250, asook ’n geskenkpak met onder meer ’n bottel Carolina Herrera 212 Sexy, ter waarde van R4 300. 212 Sexy is vir die vrou wat sensualiteit op ’n natuurlike manier met styl en elegansie kombineer. Sy’s vol energie en tevrede met haarself.
 
Dankie, Dana  Ek is Engelssprekend en lees SARIE al sowat 20 jaar. Ek is mal oor die tydskrif, want die voorblaaie trek my elke keer. Jul Desember 2008-voorblad het opnuut my oog (en my hele hart!) getref. Ek en my dogtertjie is groot Dana Winner-aanhangers, en hierdie een gaan beslis in my plakboek oor dié sanger. Ons het haar optrede in Maart 2008 in die Operahuis in Port Elizabeth bygewoon. Sy was die eerste persoon in maande wat weer ’n glimlag op my siek pa se gesig kon sit. Dit was die wonderlikste aand van ons lewe. Sy is so plat op die aarde, nes ons. Baie dankie vir ’n wonderlike tydskrif!

Charmaine Dersley, Somerset-Oos

Ons kom al jare saam

Ek soek ’n dun ringrug-lêer vir ’n CV en sertifikate. Ek kies een, maar moet dit eers leegmaak. En daar beland SARIE (Marais)- herinneringe oor meer as twee dekades op my skoot! Daar’s hekelpatroon-bylaes van 1979, met een wat sê “hekelwerk wat blom”. Ek was destyds 22 toe ek ywerig leer hekel het by die hospitaal in Bloemfontein, waar ek sekretaresse was.

In September 1982 skryf Marietjie van Rooyen oor die einde van die werkdag, onder meer van die “massa wat dy en druk, ry en ruk, elkeen ingestel op selfbehoud”, van “krag, naasteliefde, dankies en assebliefs vir die dag” wat haas opgebruik is. Enkelblaaie kondig artikels in komende 1982-uitgawes aan, naamlik ’n gesin van 6 se kosrekening is R150 per maand, en “Seks: Kan vroue die inisiatief neem?”

SARIE, my vriendin, ons kom al 29 jaar saam, sedert die dae toe jy nog ’n van gehad het! Met vreugde koester ek dié herinneringe saam met jou.
Louise van Jaarsveld, Tshwane
Ek sal jubel
Ek stap met afgemete treë na die gebou met sy groot letters “Onkologie” en stoot die deur traag oop. Die plek is weer stampvol. Ek sit in my hoekie en bejammer myself. Mettertyd raak ek bewus van die geselsery om my. Almal klets, lag selfs by tye. Stadigaan begin ek saamgesels. Drie ure later, nadat my behandeling voltooi is, stap ek ’n wyser mens daar uit. Ek besef daar’s mense wat baie swaarder kry as ek, dat hoop nooit beskaam nie, dat kanker kleurblind is, dat geen onderskeid getref word nie en dat ons mekaar het. Ek sing dankbaar uit volle bors: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie ... nogtans sal ek jubel.”
Barbara Bosch, Pretoria

  Soms is jy bekend Ek sien jou buite in die tuin loop en ek herken jou, die man wat belowe het om my vir altyd lief te hê, te beskerm en te respekteer. Ek kyk deur jou, verby jou as jy só met my praat - ’n vreemdeling, iemand wat ek nie ken nie. Ek verlang na ons koestertye saam, toe ek in die holte van jou arm kon lê - geborge. Ek verlang na daardie sagte “ek-het-jou-lief”-kyk in jou oë ... Wat het daarvan geword?
In jou plek is ’n man wat my seermaak, bangmaak, ’n man wat my afstoot, iemand wat ek nie meer kan respekteer nie. Soms is jy bekend ... wat het met ons gebeur?
Vrou van ’n vreemdeling, Klerksdorp Hemelse bederf Ek het byna 2 jaar gelede opgehou werk om meer tyd met my kind deur te bring. Dit was ’n groot besluit en ongelooflike aanpassing. Ek het vrede gemaak dat ek sonder baie bederwe sal moet klaarkom. Maar my een groot bederf is SARIE, wat ek elke maand met my ma deel. Ek krul myself dan ’n hele oggend lank op die rusbank op en lees die tydskrif van voor tot agter. Ek neem deel aan wedstryde, en daar wen ek toe ’n spa-bederf vir ’n jaar! Net toe ek begin voel ek mis uit op al die bederwe van die lewe omdat ek my finansies moet dophou, kom bederf julle my. Ek het reeds my eerste hemelse spa-sessie agter die rug.
SARIE, jy’s ’n ware vriendin!
Tania van Zyl, Kaapstad