WENBRIEF - Liefde en geloof
My roeping as predikant het my lewenspad van Johannesburg na die Wes-Kaap laat kronkel. ’n Heerlike vooruitsig – see, son en ’n pragtige klein gemeente!Alles was perfek, behalwe een legkaartstuk: Weens die resessie moes my man met sy onderneming in Johannesburg voortgaan.
Maar ná twee jaar en 1 200 km tussen ons moes ons ’n besluit neem. Gehoorsaamheid aan my roeping het plek gemaak vir seer en trane. Elke aanraking het gepaard gegaan met die besef van tydelikheid. Die lughawe het ’n deel van ons lewens geword en ons het nie die einde van totsiens-wuiwe geken nie.
Die afstand-ding het nie vir ons huwelik gewerk nie, want ek en Pierre is beste maats, gholf-buddies, sielsgenote. Ons het geleer ’n geliefde styf teenaan jou is ’n voorreg. Die son en see moet weer plek maak vir die gejaagdheid van die Goudstad. Maar my huwelik en my man is te kosbaar. Die liefde en ons geloof is die dun draadjie wat ons aan die lewe gehou het.
Dis dieselfde liefde wat my alles laat opgee het om by hom te wees, die man wat ek met my hele hart bewonder.
Monja-Lize van Belkum, voorheen van Oudtshoorn
Met lof
Ek sit in my kantoor en dink hoe uitputtend my werk is. Ek kla gereeld oor die stres en ander dinge wat my lewe kwansuis moeilik maak. Ek kyk na ’n kollega – sy woon 70 km van die werk af, en vertrek soggens douvoordag per bus hierheen. Sy’s lank voor enigiemand anders by die werk, gedienstig op haar pos en stoot haar trollie van kantoor tot kantoor.
Sy bedien almal met tee en koffie volgens hul persoonlike voorkeur, wat sy so by the way memoriseer, terwyl sy kliphard lofliedere sing.
En in haar “af-tye” sit sy rustig in haar kombuis-kantoor en lees haar Bybel. Sal ek vir ’n dag haar skoene kan aantrek en lofliedere kan sing soos sy?
Charissa de Jager, Saxonwold My mooi naam
My hande is natgesweet. Ek sit op die punt van my stoel . . . net 6 jaar oud en by my eerste prysuitdeling. Ruda ontvang haar boekprys met ’n wye haasbekkie-glimlag. Nou is dit my beurt. Mag-da-le-na, word my naam uitgeroep.
Ek het my eerste boekprys met trane en ’n bloedrooi gesig ontvang. Jaar ná jaar by elke prysuitdeling het twee maats in spanning saam met my gewag vir die “naam”. Hul reaksie was: “Gotcha!” Myne was trane. Ons taal is so mooi, maar Meneer het my naam soos modder laat klink!
Vandag het die wiel gedraai. Tydens die verwelkoming in ’n vyfsterhotel aan die Arabiese Golf hoor ek die wondersoete uitspraak van my naam: Mack-di-lie-na.
En ek sê dankie, Ma, vir my mooi naam.

Magdalena Hermina Dreyer, Saoedi-Arabië

SARIE se koekies bo


My SARIE-intekening het ’n paar maande gelede verval. Ek en my ma was onlangs alleen saam op ons eerste “lang” seevakansie, en ek koop toe vir ons twee die Janie-SARIE (November 2010) om te deel-lees.
Wat ’n geluk was die heerlike koekieresepte nie! Dis nóg iets wat ek en Ma baie graag deel en saam doen. Ek besef hoe bevoorreg ek is om nog sulke bederfies en spesiale tye met haar te kan deel.
Ons het die uitgawe se resepte gebruik as deel van spesiale Kersgeskenke. En daar was beslis meer as een SARIE-koekie by die gebak.
Dankie vir ’n uitmuntende Afrikaanse tydskrif. My intekening sal beslis hernu word – dalk vir Ma as ’n geskenk.

Sonja Fourie, Sunninghill

*Lees Janie se blog op sarie.com> My Lewe > Ons Stories > My Storie > Janie blog

 
Sonder haat
Dankie vir jul artikel oor Anel Esterhuizen en haar gesin (“’n Tyd van Hoop”, Desember 2010). Ek onthou die dag toe ek die nuusberig gelees het oor die rooftog waarin hul dogtertjie op Anel se skoot doodgeskiet is.
Dit het my vreeslik ontstel. Seker omdat my seuntjies toe ook onderskeidelik 1 en 4 jaaroud was. Ek kon die gesin daardie Oujaarsaand glad nie uit my gedagtes kry nie. Ek het gehuil vir hul dogtertjie wat nooit sou grootword nie en vir my eie seuns wat ons nog moet grootmaak in ons land so vol misdaad en haat . . .
Maar wow! vir hul gesin wat vir almal in ons pragtige land ’n voorbeeld is deur hul moed en krag.
Nêrens in die artikel praat sy van haat nie. Nou waarom sal ek, wat nog albei my seuns het, dan wil haat?
Mari, Noord-Kaap

Net so lief
Ná ’n mislukte huwelik ontmoet ek my man, met ’n klein aspatat van 18 maande. Ek was skielik ’n naweekmamma!
Ons was skaars ’n jaar getroud, toe word ons geseën met ’n seuntjie. Daar word voorspel dat ons twee seuns en ’n dogter sou hê. Ná ’n miskraam en die dood van drie familielede raak ek vyf jaar later onbeplan swanger. Dit was weer ’n seun.
Agt maande gelede kondig manlief se (nou) tienerdogter aan sy wil by haar pa kom bly.
Ek karwei deesdae drie kinders laer-, hoër- en kleuterskool toe. Ons swartbord is ’n muisnes van afsprake en skoolaktiwiteite. Ek lees slaaptydstories vir die seuns en gaan lê ’n rukkie by ons dogter voordat ek gaan inkruip.
Naweekmammas, julle kan net so lief word vir jul leenkind as vir jul eie kind. Ek weet, want ek het. En ek sal dit weer doen.
As ek my drie kinders hoor lag, weet ek ek sal hulle vir niks op aarde verruil nie.
Regte mamma, Krugersdorp

Aanneem-ma

Dankie, SARIE, vir die wonderlike artikel “Môre kan te laat wees” (November 2010). Ek is een van die bevoorregtes wat my biologiese ma kon opspoor, nou nie deur Leonie Erasmus nie, maar deur die destydse Departement van Welsyn.

Ek kan net getuig van die positiewe uitwerking wat die ontmoeting op my lewe gehad het. Nou weet ek wie en wat ek is en waar ek vandaan kom. My lewe voel nie meer soos ’n leuen nie. Helaas is my ma oorlede en ek dank die liewe Vader vir die voorreg wat ek gehad het om haar te kon ken, al was dit vir ’n kort tydjie.

Vir alle ma’s wat babas laat aanneem het, wil ek sê: Wanneer daardie kind met jou kontak wil maak, ontmoet hom of haar, asseblief. Julle sal nooit weet wat dit vir ’n aanneemkind beteken nie!
Leonie, jy sal geseën wees vir die wonderlike werk wat jy doen! Annemerie Pieterse, Fochville
*Lees ook “Ek het my baba laat aanneem” op sarie.com > My wêreld > Briewe > E-briewe

Ma se display
In Ouma se sitkamer was daar ’n prominente meubelstuk – ’n vertoonkas, oftewel ’n display. Ek het as kind gereeld neus teen die glas na alles binne-in gestaan enkyk. Porseleinblommetjies, metaal met pragtige patrone, vreemde ornamente, onpaar koppies en pierings, en lepeltjies van dorpe wat kinderore nog nooit van gehoor het nie. Alles aangedra deur familie en vriende – hartsgoed.
In Julie 2010 kry my ma ’n beroerte, wat haar stom en verlam laat. In Oktober bel my suster: “Ma is weg.”
Tydens my vier uur lange rit na my ouerhuis maak ek my hart dubbeldeur-groot oop en maak ’n display in die middel staan . . . my eerste paar skoene wat Ma altyd gebêre het, ’n gordel wat ek as sub-A’tjie gekoop het met ’n 50c wat ek van haar afgepleit het, ontelbare 20c-fliekkaartjies van Vredendal se Suikerbossie, kussing-notas wat sy vir my geskryf het, mondwater-reuke uit haar kombuis, en al haar hoe gaan dit?-oproepe.
In my tot boordens toe vol display maak ek plek vir ’n foto van haar glimlaggende gesig. Toe ek voor die deur stilhou, sit ek ’n wyle en voel bevoorreg. En ek hoop almal maak so ’n display hul Nuwejaarsvoorneme.
Roelof Coertzen, Kuilsrivier
*Lees ook “Gister se dinge” op sarie.com> My lewe > Ons Stories > Mense soos jy

’n Ander mens
Ek ry tussen die KwaZulu-Natalse seeduine en suikerrietlande na die Koning Shaka-lughawe. Twee uur later ontmoet my drie seuns my op die Kaapstadse lughawe.
Die week saam met hulle begin teen ’n verbysterende spoed. Ons gaan die eerste aand na die seiljagklub waar hulle ’n jag bou om om die wêreld te vaar.
Vroeg die volgende oggend word ek wakker, en van die divan in hul chaotiese sitkamer sien ek Tafelberg. Dit lyk skoon en byna heilig. Ons klim vandag dié berg. Vroeg, want voor halftien kry ’n mens ’n spesiale kabelkar-prys bergaf.
My hart fladder soos ’n vasgekeerde kanarie, maar ek het hulle kleintyd nie gekeer om die hoogste bome op hul grootword-erf te klim nie.
Die kliptrappe is te hoog vir my kort beentjies, en ek kruip letterlik die berg hande-viervoet uit, my vroulikheid vergete! Twee uur later is ek bo. Vonkelwynproppe vlieg hoog.
Maar die hellevaart is nie verby nie. Ma moet ’n skootrekenaar kry. ’n Angstigheid oorval my. Ek en die vreemde muis loop aanvanklik ook steil, nuwe paadjies. ’n Ander mens land in Durban. Liggaamlik en geestelik versterk. En ek kan per e-pos met SARIE gesels!
Pixie de Wet, KwaZulu-Natal

Lipstiffie Dankie vir die Desember-SARIE met die vreeslike nice lipstiffie in. Ek was so mal oor die kleur dat ek nog drie SARIE’s gaan koop het om al vier kleure te kry. En dit proe so lekker op my lippe!
Sonja Basson, Witbank
Soenrooi Baie dankie vir die heerlikste lipstiffie. Ek is nie ’n rooilip-mens nie, maar hierdie “soenrooi” is pragtig. Dit droog ook nie my lippe uit nie en bly aan. As dit eendag op is, waar gaan ek weer so ’n lekker soenrooi SARIE-lipstiffie in die hande kry?
Elize Bouwer, Durban
Dubbele bederf Jul lipstiffie is fantasties! Ek het die melkskommelbruin gekry, en is so in my noppies dat ek nóg ’n SARIE gaan soek met hierdie kleur. Wat ’n wonderlike tydskrif en presentjie . . . dis sommer dubbele bederf.
Annelie van der Merwe, Centurion
*Die formule vir die lipstiffies is spesiaal vir SARIE se lesers saamgestel. Ons hoop julle geniet al vier kleure. – Redakteur

 

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.