BRIEF VAN DIE MAAND ’n Nuwe dag
Dis 1 Januarie 2005. Ek bel my drie seuns en dogter en wens hulle voorspoed toe vir die nuwe jaar. Ek sê vir my oudste seun ek glo sy lewe sal weer sinvol wees ná sy egskeiding.
Op 2 Februarie 2005 groet hy my baie opgewonde en vol moed vir ’n nuwe werk. Hy SMS my die aand hy het veilig by sy kleinboet aangekom.
Op 3 Februarie 2005 sterf my oudste en jongste seun in ’n botsing. Ek voel hoe my hart stukkend breek.
“Here, waarom?” vra ek oor en oor. Dis nou vyf jaar later en die seer en gemis is nog daar. Ek vra steeds waarom, maar ek weet vandag dit was die tyd in my lewe toe daar net een ry voetspore was – God het my gedra. Ek weet ek kan omval in God se hand, maar nooit uitval nie. En al was gister hoe swaar, weet ek Hy gee my ’n nuwe dag waarin ek sy liefde en genade ervaar.
Adri Viviers, Ladanna (Limpopo)

Skatryk

Die eerste ooievaarstee in die gesin was ’n spesiale geleentheid op Moedersdag. Ek open die oggend met Nataniël se wysheid uit SARIE se April 2010-uitgawe. Die kleinding waarvoor almal jare lank al bid, is op pad. Daar’s trane van blydskap. My ma huil saam met haar jare lange vriendinne. Dis vroue wat saam deur blydskap en swaarkry geploeg het. Wyle ds. Izak de Villiers sou dit ’n “soort mens-chemie” noem. Dit sorg vir kosbare oomblikke waar woorde onnodig is. Dis ’n band wat die grens van tyd, afstand en ouderdom oorskry. Hulle is my en my gesin se aartsengele. Ek ervaar my Skepper se liefde deur hul aanraking en ek sien hoop in hul natgehuilde oë. En ek weet geen traan sal dít wat hulle vandag op my hart “skryf”, kan smudge nie. Ek is ryker as skatryk . . .
Ingrid van der Walt, Brandhof
*Lees Nataniël se Kaalkoprubrieke op sarie.com > Ons gesels > Rubrieke. (Red.)
Warm uit Frankryk
Aan die briefskrywer wat glad nie die Afri-Frans-CD sal koop nie (Mei 2010), wil ek net sê: Ek was by die vertoning op 1 Mei in Pretoria en dit was onverbeterlik. Dit maak jou hart warm dat ’n internasionale ster ons Afrikaanse liedjies mooi genoeg gevind het om dit ook te wil sing.
Die atmosfeer, geskep deur Anna-Mart van der Merwe, die orkes en die meer as duisend mense, was gelaai. Ons het Myra Maud se sang geniet, en waardering gehad vir die Afrikaanse woorde wat sy tussenin gesing het.
Ons sál die CD’s koop en dit geniet. SARIE, baie dankie dat ons Suid-Afrikaners ook ’n stukkie Frankryk kon beleef.
Welma den Haan, Bellville
Sewe sakke sout
Ons is vanjaar 21 jaar getroud. Ons grap en sê ons huwelik is mondig. Ek dink aan Juanita du Plessis se liedjie “Ons belofte aan mekaar”, wat sê jy wil jou lewe met hierdie man deel, jy wil saam met hom oud word.
’n Huwelik het verskillende fases, byna soos kind grootmaak. Met die kruip- en loopstadium suksesvol agter die rug, bereik dit die tienerstadium vol op- en afdraandes. En jy weet nie aldag of jy ooit daardeur gaan kom nie. Maar met uithouvermoë, praat en luister, berading en hulp van Bo kom jy anderkant uit.
Nou weet jy wanneer om eerder stil te bly, te praat en jou maat se gevoelens in ag te neem. Die volwasse stadium kruip nader. Julle het meer as sewe sakke sout saam opgeëet en benader situasies op ’n volwasse manier.
Trou is nie perdekoop nie, en jy moet werk aan ’n huwelik. Ek wens meer mense wil terugdink aan hul beloftes voor die kansel voordat hulle bloot tou opgooi.
Dis die moeite werd!

Ann, Kempton Park *Lees “Hoe die liefde werk” op sarie.com>My lewe>Ons Stories>My Storie. (Red.) Ode aan die manne
Hulle is om ons, in iemand se lewe, vriendekring of familie. Ek is seker jou pad het ook al met een van dié mens-engele gekruis.
Ek praat van die manne wat na hul geliefdes, eggenote en lewensmaats omsien wanneer siekte, beserings of ’n ongeluk hulle tydelik of permanent van hul onafhanklikheid om hulself te versorg ontneem. Die manne wat die versorgingstaak op hulle geneem het, en dit met soveel liefde en toewyding verrig (“Vir my vrou . . .”, Mei 2010).
Dankie dat julle ook my lewe aangeraak het.

Susanette Wepener, Orkney

April 2010-voorblad

Wow! vir SARIE

SARIE is die beste! My groot droom is om eendag op die voorblad te wees. Ek geniet die tydskrif baie en ek is maar net 17 jaar oud.

My gunsteling is die uitgawe met die aktrise Hanna Grobler (April 2010) voorop. Ek is mal oor haar en jul artikel oor haar was baie inspirerend. Ek wens ek kan haar ontmoet.

Baie dankie aan die SARIE-span en jul redakteur, Michélle van Breda.

Wow! vir die beste tydskrif.
Jandrè Blom, brief per e-pos

Die diagnose
Baie dankie vir die artikel oor Fibromialgie-sindroom (Junie 2010). Ek is ’n klompie jare gelede daarmee gediagnoseer en dit was vir my ’n verligting. Ek was willoos, sonder energie en het gedurig pyn gehad. Dokters het my met depressie bly diagnoseer. Maar ek was eintlik ’n happy chappy met ’n liefdevolle man en gesin.
My pyn het my interpersoonlike verhoudings aangetas. Ek was baie bekommerd oor my toestand, maar wou nie my gesin ontstel nie. Ek wou selfs navorsing doen oor Alzheimer se siekte.
Dit voel asof ek moet stoei om die regte woorde raak te vat. Ek het ’n probleem met my geheue en konsentrasie. Ek begin ’n storie vertel en weet dan nie wat ek wou sê nie. Dit knou ’n mens se selfbeeld.
Nou besef ek weer my simptome is nie denkbeeldig nie. Dankie vir die erkenning van ons probleem.
Annette Voigt, Klein-Brakrivier
Met nuwe oë
Ek moet ook leer om voort te gaan sonder my sielsmaat, soos Amore Bekker en Christine Wessels van RSG (“Sonder jou”, Mei 2010).
My Rico is op 29 Desember 2007 in ’n fratsongeluk dood toe ons vakansiehuis in Mosambiek afgebrand het. Aardse dinge word van ons weggeneem en ons lewens kan in minute drasties verander.
Dankie, SARIE, vir dié artikel. Dit het my weer laat besef die lewe moet aangaan vir my en vir ander met dieselfde pyn.
’n Halwe hart kan seker nooit weer teruggroei nie en hartseer sal ’n mens nooit heeltemal los nie. Maar ons moet dit vertroetel en leer om met nuwe oë van dankbaarheid, vrede, geloof, wysheid, hoop en liefde te kyk na dít wat oorgebly het. Dán was die pyn en verandering in ons lewe die moeite werd.

Judith Fick, Pongola, KwaZulu-Natal *Lees “Sonder jou . . . ’n halwe hart” op sarie.com >My Lewe > Ons Stories > My Storie. (Red.)

Jou sê tel ...

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.  REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan andertydskrifte voorgelê word nie.

Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.