Voluit terug!
Ek en my man is terug in Suid-Afrika ná drie jaar in Kanada. Party Suid-Afrikaners daar kon nie verstaan hoekom ons wil terugkom nie. Ander het ons weer beny.Ons het self vrese gehad: Los ons die bekende vir die onsekere, die sekuriteit vir geweld?
Sedert ek terug is, het ’n vrede oor my gekom wat ek moeilik kan beskryf. Die maande van verlang, die gemis aan die bekende en die eindelose lesery op Nuus24 vir brokkies inligting oor ons geboorteland, is verby.
Ons behóórt weer. Ons lewe hier word gebind met ’n onsigbare draad van herkoms en gedeelde kulture.
Ja, Kanada was goed vir ons. En ja, daar is Suid-Afrikaners wat hul nuwe lewe daar aangryp en volledig Kanadees word. Vir hulle gun ek dit. Maar ons, so ook baie ander daar, was 70% gelukkig. Die ander 30% het ons bly ontwyk.
Hoe wonderlik om met die werklikheid van SA gekonfronteer te word, om self deel te wees van die soet en die suur. Ons leef maar sewentig jaar, dalk tagtig.
Dertig jaar van myne is al verby. Die ander helfte van my lewe gaan ek voluit leef.
Hillet Wiesner, Stellenbosch

BRIEF VAN DIE MAAND:
Hillet Wiesner het ons wenbrief geskryf. Sy wen kontant van SARIE, asook twee bottels Calvin Klein Beauty, ter waarde van R1 830.
Calvin Klein Beauty vat die gees saam van ’n selfversekerde vrou, wat ’n innerlike skoonheid uitstraal. Die geur is ’n nuwe vertolking van die lelie, ’n gesofistikeerde blom met die toonbeeld van vroulikheid, glans en krag.

Seisoene
Die tyd het ons ingehaal en oortuig dat afskaal en ’n kleiner woonplek ons voorland is. Ons neem afskeid van ’n huis waar ons sewentien vreugdevolle jare beleef het, ons kleinkinders hul eerste treë gegee het, en Oupa sy slaapplek moes prysgee vir klein lyfies in Ouma se bed.
Ons groet ons groot tuin waarin ons met soveel liefde ’n paradys kon skep, waar voëls tuis was en vriende kon ontspan. Ons het wonderlike tye van lag, liefhê, bid en onthaal gehad. Ja, dit was ’n voorreg.
Nou lê die oppak, uitdeel en minder maak vir ons voor. Baie trane het al gevloei van dankbaarheid vir al die vreugdes, liefde en seëninge.
Die volgende seisoen is haas met ons, en ek dank die Vader vir onbeskryflike genade en voorsiening.
Alida Watson, Strand

Errol Arendz

Dankie, Errol


SARIE, wanneer jy by my aanland, word jy verorber en weggebêre . . . totdat ek jou ’n paar weke later uithaal en wéér lees sodat die lekkerte nie net vingerlank nie, maar sommer hande vol word!

Ek het die artikel oor Errol Arendz in jou Junie-uitgawe ook nog ’n keer gelees. Toe onthou ek daardie eerste keer toe Suid-Afrika van hom bewus geword het (met ’n bang!) – met die foto van Barbara Barnard op die trap in daardie ongelooflike wit rok met die kant om die soom. En steeds is elke kledingstuk wat ons van hom sien, net so uniek soos in daardie artikel.

Dankie, dankie, Errol, dat jy nie oorsee gegaan het nie, maar in SA wou bly om ons klomp vroumense hier mooi te maak.

En dankie, SARIE, vir al die lekkerlees-plesiertjies wat jy gee. Tot my man sê ek moet net SARIE koop, want jy het soveel styl!

Alma Bezuidenhout, Theresapark (Pretoria)


Dankbaar
Sy kom maak een keer per week ons werkplek skoon. Opgeruimd, vriendelik en met daardie glimlag wat so natuurlik op haar mooi, ronde gesig verskyn. Die ander dae van die week maak sy nog twee huise skoon, maar nou het die een gesin verhuis.
Sy het drie dogters om te versorg. In die winter het ek vir haar ’n paraffienstofie gekoop, want dis yskoud in haar shack. Sy was so dankbaar.
Verlede week het ek en sy ’n diep gesprek gehad oor stakings en die politiek, en sy lewer ’n ingeligte mening.
Tussenin hoor ek hulle het net pap om te eet, maar steeds deel sy uit aan ander. Ek koop vir haar hoender. Sy skreeu en druk my! Sy’s die een wat mý lewe verryk.
Darling, Alberton

Ons groet Alba Bouwer

Sy was ’n bekroonde en geliefde kinderboekskrywer, maar ook baanbreker-joernalis by SARIE. Trouens, saam met gedugte name soos Audrey Blignault, M.E.R. en Freda Linde het Alba Bouwer die destydse Sarie Marais op die been gebring.

Sy is op 5 Oktober vanjaar op 90 oorlede, die skepper van onvergeetlike boeke soos Stories van Rivierplaas en Stories van Bergplaas.

Net ’n maand ná die eerste uitgawe van Sarie Marais het sy redaksielid geword – van Augustus 1949 tot Julie 1964. Sy is gou bevorder tot “onder-redakteur”. In persoonlike korrespondensie met Lizette Rabe, eertydse redakteur van SARIE, wat haar M.A.-verhandeling oor die tydskrif gedoen het, het Alba gesê sy was baie bewus daarvan “om aan lesers iets te gee vir hul vrye tyd, en dat ons iets moes gee wat vir hulle die moeite werd was”. En: “. . . soos ’n mens voel teenoor ’n kind wat jy grootmaak.” Vir SARIE geld dit vandag nog . . .

Blink strome van seën
Baie dankie, SARIE, dat jy my aan jou blogger Tanya O’Connor bekend gestel het. Ons het Facebook-vriende geword, en haar borrelende geaardheid en positiewe ingesteldheid is regtig ’n inspirasie vir ’n ieder en ’n elk.

Om met dankbaarheid te leef visualiseer ek soms hoe ’n hand vloeibare blinkertjies oor my kop strooi en dit dan in sulke strome teen my afloop om my hele lyf te bedek. Dan dink ek altyd dis “strome van seëninge”.
Vandag skrop ek ons gastehuis se stort en dink aan my vriendskap met Tanya en wat ek van haar kan leer. Toe gaan die stortkraan spontaan oop en strome van seëninge stort my letterlik papnat!
Mag elkeen wat SARIE lees, vandag sy eie strome van seëninge beleef.

Trisa Hugo, Kleinmond
*Lees Tanya O’Connor se blog op sarie.com > My Lewe > Ons Stories > My Storie.
Ek sal pers dra!
Ek het onlangs 70 geword en 70 pienk rose van my kinders gekry. Ek het ’n pers partytjie gehou, my nuwe pers rok gedra én ’n prettige pers hoed wat my suster gemaak het.
En ek en die kosbare vroue in my lewe – dogters en vriendinne – het pers skemerkelkies gedrink.
Byna al my presente was kontant of ’n geskenkbewys. Gelukkige ek!
Nou is my dilemma: Wat koop ek? ’n Oosterse mat, pêrels, glase, ’n Louis Vuitton-handsak, of besoek ek ’n spa? Ek kan nie besluit nie.
Gelukkig verval geskenkbewyse nie gou nie. Dus droom ek vir eers oor my weelde, want dit gaan ’n kosbare besitting wees wat ek lank gaan koester, en met deernis en dankbaarheid gaan geniet.
Marlene Scholtz, Bloemfontein
Moenie vra nie
My hart klop vrees, skok en angs deur my hele wese. “Ek het slegte nuus” is nie woorde wat ’n swanger vrou wil hoor nie. Dis hoe my miskraam met my eerste swangerskap op elf weke aangekondig is. My buurvrou probeer al vyf jaar om swanger te raak, en ons huil op mekaar se skouers.
Op dieselfde dag gaan my ousus vir haar eerste sonar. Ek hoor van die hartkloppie, beentjies, armpies en ek besef ek moet die rou seer binne-in my staal teen die volgende ses maande van haar swangerskap. En teen die vrae soos “wanneer begin julle met ’n gesin?”.
Daarom pleit ek vandag namens al die “wil-graag-mammas-wees”. Moet ons asseblief nie uitvra na ons gesinsbeplanning nie. Sommige van ons het weke lank die babakamer beplan voordat ’n miskraam ons drome aan skerwe laat spat het. Ander smag dalk al jare vergeefs na ’n baba. Die spreekwoordelike “wag voor die mond” kan ook vir óns baie pyn spaar!

Wil-graag-mamma-wees, Vrystaat
*Lees ook “My reis deur onvrugbaarheid” op
sarie.com > My Lewe > Ons Stories > My Storie

Skryf aan ons

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.
Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.ype or paste here.