Ons Julie 2009-voorbladPieter Koen, opgedress

Mooi manne

Geluk, baie geluk! Rolanda (Julie) is pragtig, nes SARIE! Maar dis Fanie Cronjé en Pieter Koen wat my dié brief laat skryf. Ek is 45 en daar’s vir my niks mooiers as ’n goedversorgde, stylvolle man nie.

Ek het sewe manne in my lewe, die volmaakte getal, nè? My statige pa met sy slangvel-skoene, my drie besige tienerseuns, my nuwe blouoog-man en sy tweelingseuns.

Die drie oudste seuns eksperimenteer met haarstyle, gewoonlik so kort as moontlik. Die baarde wissel vir geleenthede en meisies. My man sukkel maar. Kla ek draai hom in lappe toe, maar glimlag doodtevrede. Die skoolgaande twee wil “cool” wees.

Dankie, Fanie. Doen dit asseblief weer! Mans wíl mooi lyk, glo ek.
Marna du Toit, Caledon



Kosbare kampuslewe 
Studentwees is seker die enigste tyd in jou lewe wanneer almal verstaan dat verward wees deel is van mens-wees. Dis op kampus waar ons onsself probeer vind. Watter seëning om op ’n plek te wees waar ek nie na geleenthede hoef te soek nie. My kamermaat van Oos-Londen is Engelssprekend en nou verbeter ek my Engels.
Klein dingetjies maak vir ons saak. Wanneer ek by die gebaretaal-klas instap en my dowe dosent kyk na my, besef ek opnuut die wonder om te kan hoor, praat, lag en skree.
Ons koshuisgangers is tussen 18 en 25 jaar, jong vroue met diverse drome, aspirasies en gewoontes. Ons gesels byna elke dag tot in die vroeë oggendure. Iemand lag kliphard, ek maak my kamerdeur oop en lag saam.
Dis ’n kosbare ervaring. Ek’s bang ons waardeer dit nie genoeg nie.
Ingrid van der Walt, Welkom

707 dae
30 Junie was veronderstel om my tweede huweliksherdenking te wees, maar ek is ’n weduwee. Kanker het sy kake in my man ingeslaan en net nooit weer laat los nie. Feit is, ek is net 32.
Ons was slegs 707 dae getroud, waarvan hy 202 in die hospitaal deurgebring het. Ten spyte daarvan was dit 707 dae vol herinneringe en spesiale oomblikke. Dit was 707 dae waarin min mense mekaar kon liefhê soos wat ons liefgehad het.
Ondanks my massiewe verlies is ek opreg dankbaar. Ek is dankbaar omdat ek kanker oorleef het. Ek is dankbaar vir die voorreg dat ek die pad saam met my geliefde man kon stap. Ek is dankbaar vir God se groot genade.
En ek is oneindig dankbaar vir 707 wonderlike dae!
Cheryldene Potgieter, Pretoria-Noord
In liefde
Ek bid dat die Here met my moet praat, al is dit deur vreemdelinge. Toe kom die e-posboodskap: “Do everything in love” (1 Kor. 16:14). ’n Kort sin, met baie verantwoordelikheid.
Ek raak rustig, asof ek letterlik gevul word met liefde vir alles en almal. Maar hoe maklik is dit om álles in liefde te doen? As ek moeg tuiskom en die kinders luister nie, kan ek in liefde met hulle praat of gil ek en voel soos ’n heks? En kan ek in liefde terugstaan as iemand my knoppies druk dat ek bloedrooi kolle uitslaan?
Daarom het God vir my midde-in die storm wysheid gegee om my te weerhou van sulke situasies. Om eerder vir daardie persoon te bid. Dit neem die venyn weg.
Jy voel ’n nuwe mens, al kry jy dit nie altyd reg nie. Ons is nie perfek nie. Maar dis ’n uitdaging. En ek’s reg daarvoor.
Anél Müller, George
Altyd daar
SARIE, ons kom ’n lang pad. Jy het my hartseer gedeel toe ons hier in die vreemde moes kom bly, ver van alles en almal wat vir my dierbaar is.
Jy was daar toe my oudste dogter ’n baba was. Onthou jy toe ek en jy ’n "gesteelde kuiertjie" gehad en sy haarself van kop tot tone met Vaseline "gegrimeer" het? Sy’t gesien hoe mooi jy is en wou jou dit maar net nadoen.
Jou raad en deernis het my ná my sussie se dood gehelp om die wêreld weer in die oë te kyk. Jy gee die toon aan oor hoe om jonk en modern te bly, en is nooit bitsig nie.
Ons gesels en skinder oor alles wat in Suid-Afrika aangaan en jy hou my op die hoogte van sake. Dankie hiervoor.
Liz Botha, Georgia, VSA

Wenbrief:

Afrika-kind

Ek en my man het drie jaar gelede ons wortels uit Afrika-grond getrek en Engeland toe verhuis. Die proses het my herinner aan die wonder, kommer en vreugde van swangerskap en kinders hê.
Afrika-kind was 35 jaar aan ons bekend, met haar oop bloulug-ruimtes en groen wildernisse. Sy ruik na warm son, soutbranders en braaivleisvure. Haar arms is familie en kosbare vriendskappe. Haar voete geloof, waardes en ’n kaleidoskoop van kreatiwiteit. Sy’s bang vir niks. ’n Borrelende ekstrovert, verweef in ons harte.
Die laatlam, Engeland, is die teenoorgestelde. Hy’s ’n wyse ou gees, ’n skugter introvert met grysgrou oë. Engeland-kind se hart loop oor van eeue se musiek, kultuur en geskiedenis. Sy lyf ruik na koue winteroggende, gebraaide neute en bloeisels. Hy’s oortrek met wondergroen heuwels en standvastigheid. Ons ontdek hom daagliks.
Suid-Afrika en Engeland, ons twee kontinent-kinders. So verskillend, maar watter voorreg om julle albei te kan ken.
Renza Vermeulen, Londen

Kenzo-parfuum vir &aposn wenner

Renza wen vandeesmaand ons prysgeld van R250, asook ’n 85 ml-bottel Kenzo amour Florale ter waarde van R900. Kenzo amour Florale het ’n vars, romantiese blommegeur met topnote van lemoenbloeisel en kardemom, en ondertone van frangipani, roos en katjiepiering.


Sielsdinge, Koos

Elke maand, uit gewoonte, blaai ek deur my vrou se SARIE en verkyk my aan die pragfoto’s van die vroue. Daar is min dinge so mooi soos ’n vrou. Ek glo dis God se “cherry” op Sy skepping.
Ek mis Koos van der Merwe se Sielsdinge vir niks ter wêreld nie. Dis die enigste rubriek wat ek áltyd lees. Myns insiens skryf hy die mees inspirerende woorde wat ek nog in enige tydskrif gelees het.
Baie dankie, SARIE en Koos. Wat van ’n bundel met Sielsdinge?
Lukie Carelsen, Waterkloofrif

Ons wat agterbly . . .
My seun, sy vrou en twee seuntjies het Nieu-Seeland toe geëmigreer. Ek kyk met deernis na ouers in dieselfde bootjie. Glo my, ek probeer hard om te verstaan en bid vir aanvaarding. Hierdie talentvolle jong mense het die beste geleerdheid in ons land gekry, goeie poste beklee en pragtige tuistes geskep. En nou?
My kop en hart vertel my families moet mekaar liefhê en hul wortels diep grawe vir standvastigheid en trots. Kleinkinders moet die voorreg van grootouers, niggies en neefs hê. Die verskoning van geweld in SA is al holrug gery. Dit bly die beste land ter wêreld.
Ons wat agterbly, sukkel om te verstaan hoekom húlle nie wou bly nie.
Louise Suttie, Pietermaritzburg

Haarkapper-taal
Dis ’n geval van soek, vra, probeer, ontsteltenis, beloftes van nooit weer daarheen nie, en dan vind jy haar . . . jou droom-haarkapper.
Die snit is dalk nie elke keer presies soos die prentjie in jou kop nie, maar vir ses tot agt weke is jy gelukkig met jou kapsel. Jy’s op jou gemak en sien uit na die volgende afspraak. Jy voel jy kan met reg sê julle praat haarkapper-taal nou vlot.
Ná jare se getroue besoeke stap jy op ’n dag in en vind uit jou haarkapper het die dialek verander. Jy kan glad nie meer haarkapper-taal praat nie. Wat ’n ramp! En die hele soektog begin van voor af.
Linda Burrell, Helderkruin

Saam met SARIE
Ek lig my hoed vir ’n vriendin wat ek in die 1960’s ontmoet het. Ons was albei in ons tienerskoene en storm-en-drangjare. Ek was ’n introvert, maar het dadelik met haar gekliek.
Ons is albei in Julie 1949 gebore. Sy’s baie meer wêreldwys as ek, maar ek voel nooit daardeur bedreig nie. Ek put eerder inspirasie uit haar lewenskennis. En as ons vriendskap afneem, hernu ons dit met ywer.
Sy’t nog lyf bygekry, wat haar meer glans en selfvertroue gee. Soms droom ek ook van ’n makeover! Sy trap nie my drumpel deur nie, maar ek sien met afwagting uit na haar kuiertjies.
Wanneer sy elke maand my huis met ’n vars bries binnewaai, kuier ons ’n hond uit ’n bos. Ons groet eers nadat ek die agterblad gelees het.
Dankie vir ’n vriendin soos SARIE.
Petra van Eeden, Despatch