BRIEF VAN DIE MAAND Môre sal sorg
Ons oudste kind moet oor ’n jaar hoërskool toe, koshuistoe! Dis een van daardie goed waaroor jy nie praat nie, in die hoop dat dit dannie bestaan nie. Tog begin my gedagtes gereeld raak-raak aan die vooruitsig van ’n leë kamer, naweekdrukkies, telefoonsoene en Sondagmiddag se inpak.

Hoe sit jy ’n deel van jou hart op die bus om dit eers vyf dae later weer te kry? ’n Oop wond kan doodbloei!

Dan sien ek my vriendin wat smag na naweekdrukkies en telefoonsoene. My vriendin met die altyd-leë kamer, omdat die swembad ’n stuk van haar hart gesteel het. Ek druk my kind nou elke dag meer, om solank krediete op te bou vir die eensame tye. En ek leef die nóú saam met hom! Môre sal vir sy eie pleisters sorg.
Petro Kleingeld, Trompsburg

Ons gewone mense
Nataniël is vir my ’n inspirasie. Ek sê dit sonder om myself aan menseverheerliking skuldig te maak. Sy humor is oorweldigend onverwags. En ek’s mal oor die nuwe TV-advertensie waarin hy verskyn!

Ek lees sy stories asof dit op mý lewe van toepassing is. Ek wens ek kon kook soos hy. Ek dink aan hom as ek my kaste regpak of na ’n “make-over”- program kyk.

Nataniël, mag jy nooit ophou om met jou humor en oorspronklikheid ons gewone mense, wat die verkeerde grimering dra, nie geld het om elke maand ons hare te kleur of nie volgens die jongste modes aantrek nie (maar tog na beter strewe!), te vermaak nie.

My man, ’n dominee, moedig my aan om te wees wie ek eintlik wil wees. Hoewel ek nie oral as ’n tipiese “Mev. Dominee” gesien word nie, sukkel ek tog om die 60’s-hippie in ’n spierwit bloes met vreeslike pofmoue en die wydste bont romp te wees!

Maar hopelik sal ek eendag daardie nuwe juwele om my nek hang waarvan Nataniël op kykNET se Kwêla gepraat het. Ek gee selfs nie om om vooroor te val nie!
Konserwatief, Pretoria


 

So dapper

Watter ongelooflike jong vrou is René Burger nie! Ek lees met insig en begrip die artikel oor haar (“René Burger: ‘Ek is nie ’n slagoffer’”, Junie 2010).

My dogter is op ’n tere ouderdom oor ’n tydperk deur haar stiefpa verkrag. Die pad wat ek en sy die laaste vyf jaar gestap het, was pynlik, vol beskuldigings, maar ook gevul met groei, nuutgevonde vertroue, geduld en baie liefde. Soms wil ons egter nog moed opgee.

Sy is vanjaar met erge depressie in die hospitaal opgeneem. Sy is so dapper, al is ’n deel van haar kindwees van haar af weggeneem. Haar wonderlike vertroue in haarself en mense om haar sal niemand egter ooit kan steel nie.

Ek is baie trots op haar. Elke dag bring iets nuuts, en sy maak elke dag vordering.

Dis die klein dingetjies in die lewe wat ’n groot verskil maak. Jy is my inspirasie, my liefkind!

Altyd jou ma, Bellville


*Lees ook “Om Anna te wees” op sarie.com > My lewe > Hier’s raad > Kenners sê.

Die ware ‘bob’
Ek lees André le Roux se rubriek “Los jou hare uit” (Julie 2010) met ’n slaak van verligting. Ek is gelukkig al skouerlengte uitgegroei aan my eens sexy bob (en hy het dan sulke goeie redes gegee hoekom ons Evas ons hare maar net moet laat groei).

Doodtevrede met myself dat ek uiteindelik hierdie somer die regte haarstyl gaan hê (’n langer weergawe), sê Louise Carver met haar modieuse bob op bl. 30: “Ons vroue is bang om ons hare te sny. Maar wat ’n bevryding! Ek voel gesofistikeerd.”

So, nou is ek deurmekaar. Glo ek André se raad dat vroue hul hare moet lank hou vir die manne of is dit net ’n verskoning dat ons met korter, sexy style nie “bevry” moet voel nie, of dat hulle bang is vir die gevolge van “bevryde” vroue. Hmm? Sal die ware “bob” asseblief opstaan?
Marike van Rooyen, Moreletapark

Word weer kind
In my jongdae sou ek en my liefste vriendinne soms verspot raak en daarvan droom om die universiteitslewe vir ’n idealistiese boswêreld-ervaring te verruil. Wie’t dan nou ’n graad agter hul naam nodig as die windrigting eerder ons koers in die lewe kon bepaal, wou ons jeugdige mentaliteit weet. Sorgelose, vrye denkers sou ons wees!

Maar toe word ek ouer, wyser(?), betree die “grootmenswêreld” en stadigaan word die voorskrifte van die samelewing aanvaar.

Totdat die dood van ’n twaalfjarige dogter van familievriende my opnuut met ontnugterde oë na die lewe laat kyk het. Ek moet léwe met die entoesiasme, passie en spontaneïteit wat hierdie jong krulkopmeisie uitgestraal het.

En eensklaps besef ek: Ek is steeds daardie pretensieuse student. Dans sal ek dans asof niemand kyk nie, sing sal ek sing asof niemand luister nie en graad vang sal ek as niemand meer omgee nie.
Amber Kriel, Bellville

Net een blom

Vandag, Madiba-dag, wil ek ’n deel van my 67 welwillende minute bestee deur te wys op die betekenisvolle waarheid wat die Nederlandse digter P.A. de Genestet (1829 – 1861) lank gelede neergepen het: Dat dit eintlik daardie alledaagse gebaartjies is wat betekenis aan ons aardse dae gee.

Belangriker as die goed bedoelde 67 minute wat van owerheidsweë versoek is vir Madiba se 92ste verjaardag op 18 Julie, is ’n mooi blommetjie hier en ’n vriendelike woordjie daar om jou medemens se lewenspad leefbaarder te maak. Sommer élke dag!

Vry vertaal, lui De Genestet se onvergeetlike woorde:

Strooi vandag ’n enk’le blom

op jou naaste se pad;

Stryk op sy gelaat ’n rimpel plat.

Laat ’n woord van liefde hoor,

En jy het nie jou dag verloor.

Stoffel Cilliers, Bloemfontein

Met ’n strik om
Met die 2009-resessie en die naloop daarvan tel ek nog die stukkies van my gesin, my lewe en my huwelik op. Ons het finansieel hope aanpassings gemaak en sommige maande kou ons harde bene.

Ek bly ver van my familie en vriende af, en is nog te kort hier om nuwe, hegte vriendinne te hê. Ek huil soms sag in die bad oor alles, omdat ek bang is vir môre en om alleen te wees.

Moedersdag breek aan en my kinders vra of ek iets spesifieks wil hê. Ek maak die dag af as oorbodig, omdat ek weet ons kan nie onnodige goed koop nie. Ek sê dit sal heerlik wees om die hele dag saam met een van my “ver” vriendinne te kuier.

Op Moedersdag kry ek die Mei-SARIE, met ’n strik om. My jongste sê: “Ons het vir Ma ’n ander vriendin gekry. SARIE is ’n vriendin vir elke vrou.”
Nandi, Jeffreysbaai

Ons is ’n span
SARIE verryk ’n mens se lewe. Ek lees die artikel oor Nadia Valvekens (“Nuwe liefde ná 10 jaar”, Junie 2010) dat ’n mens nog positief kan bly ongeag jou omstandighede en dan weer liefde vind.

Baie vroue en mans kan hiermee identifiseer en sterker wees ná hul selfontdekkingsreis. Wat ’n deurbraak om te kan glo, te kan hoop en ’n kans te kan waag.

Die lekker resepte is beslis ’n bonus vir ’n “nuwe” huisvrou soos ek. Hulle sê mos die pad na ’n man se hart is deur sy maag.

Die Wêreldbeker-sokkertoernooi is verby, maar Suid- Afrika het nog vir SARIE!

Leen jou vriendin s’n as geld skaars is. Saam is ons ’n span.
Laetitia Davidson, Atlantis

Hart sing met SARIE
Vanjaar het my ma vir my die beste verjaardaggeskenk gegee. ’n Intekening op SARIE. In Londen is ek omring deur mense wat net die koningin se Engels praat. Wanneer my SARIE dus hier aankom, druk ek haar soos ’n kleinood vas. Die plastiek word vinnig afgeskeur en die voorblad word bestudeer . . . eers net die voorblad.

My dag word beplan sodat daar ’n uur is vir my en my SARIE op die bank in die voorhuis met ’n koppie rooibostee en ’n pakkie tennisbeskuitjies van die Suid-Afrikaanse winkel.

Wanneer ek klaar gelees het, sing my hart en kan ek net dankie sê vir ’n ma wat seker maak dat haar dogter nooit haar taal en haar mense vergeet nie.
Laurika Bretherton, Londen

Jou sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.
Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.