Die passing van ski-stewels is nodal 'n gedoente. Lou-Ann Stone, SARIE se multimedia-vervaardiger wat sorg vir video-materiaal vir sarie.com, reken mens moet net sorg dat dit nie soos 'n slagyster voel nie.

Al wat ek kan noem, is 'as die nommers eers aan jou voete is, voel jy so half en half asof jy baie stywe paddavoete aan het en probeer loop op eiers op die maan! Kurt en Dunay was terloops langs my toe ek die stewels vasgespe. Dis hul tweede dag in die ski-skool en hulle is al meer tuis en vorder flink. Maar Kurt reken ook mens het stamina nodig vir die stewels . . .

Gelukkig is die rooiwang, blou-oog, 25-jarige Peter Treichl, ons ski-instrukteur, 'n man wat baie geduld het. Hy is super-sjarmant en ski al sedert hy drie jaar oud is. Lou-Ann vertel sy het al ''snowboarding'' probeer. En ek laat val ek het in my prille jeug in Saalbach, Neustifft en Söllden in Oostenryk geski. Maar dis 'many many moons ago.''

Seg Peter: 'Nee wat, dis nes fietsry. Mens se lyf vergeet nie.''

Hmm, daar is egter verskillende soorte fietse soos ons weet. Bergfietse, motorfietse, driewiele (hierdie is byvoorbeeld nie 'n driewiel nie!), fietse in die sirkus waarop jy op twee wiele moet balanseer . . .

Laat ek dadelik erken, my idee van ''avontuursport'' is ''gym'', sauna en as ek nou werklik super-''begeisterd'' is, bikram joga.

Maar daar lê die hange wit en glad, vol poeiersneeu en wag en dit reën hoeka ook nog net om sake so bietjie meer (soos Lou-Ann graag sal sê ''uitdagend'' te maak), en ons stap met dof sware plof deur die sneeu.

Lou-Ann is rats en praat al van ski-toere in die toekoms. Al wat ek kan sê, is ek voel glad nie skuldig dat ek langer as twee jaar gelede in die gim was nie. Ná 'n paar ure in die sneeu (met Peter wat galant nader hol as ek neerslaan!), weet ek nou dat ek binne een oggend die afgelope twee jaar se gim-sessies ingehaal het. Dit voel of ek in 'n sauna was.

Maar kort voor lank het ons die uiters belangrike ''schneepflug'' oftewel 'snow plow'' (die briek-aksie wat mens benodig om te stop in die sneeu) bemeester. Lou-Ann begin lyk soos 'n swaan teen die hange (Ek dink byvoorbeeld nie daar gaan 'n '''dokkie'' van die uwe by die volgende Winter Olimpiese Spele gemaak word nie, maar die oukei. ''Aanhou beweeg en geraas maak'', soos Jan Rabie geskryf het.

Belangrike oorlewingsmeganismes op die ski-hange (en ek probeer nou nie grootpraat nie, ek was nou nie regtig nie op hogere hange nie, ek het nog hieronder tussen die kinders rondbeweeg, maar nietemin), sluit onder meer in: 'n lekker sin vir humor, die bereidheid om te val en weer op te staan (en ook ander se hulp te aanvaar om soms op te staan!), die kuns om jouself glad nie te ernstig op te neem nie, genoeg geduld en bietjie oefening. Eintlik maar nes die hele lewe . . .(En ek dink steeds, soos soveel jaar gelede, dis meer soos een van daai fietse in die sirkus waarop jy op tweewiele moet balanseer, maar dis maar net my opinie!).

Lou-Ann het egter die ''wreder'' hange aangedurf en vanuit 'n hangende sitplek-hyser hoog in die lug die hange en sneeubedekte bome betrag. Sy het wel 'n paar keer geval, maar sê: ''Toe ek die ski-stewels aangetrek het vanoggend, was ek totaal oorywerig, Dis ontsettend moeilik, so jy moet baie konsentreer om bo te bly, maar dis wonderlik vry en ek is mal oor spoed en sweet.''

Daar het jy dit, Lou-Ann dink dis 'n bergfiets.. . .

ELVIS BLUE HET 'N KAMERA OP SY KOP - KOM SKI SAAM!