Ek en my vriendin was onlangs in Doebai en het in Dubai Mall verby die boekwinkel Book World gestap. Omdat ons al pootuit was van al die gestappery het ons nie ingegaan nie. Toe sien my vriendin die YOU deur die venster op die rak. Net daar maak ek ’n vinnige draai binne toe. Groot was my verbasing toe niemand anders nie as my getroue boesemvriendin, SARIE, met my op ’n ander tydskrifrak glimlag!

Ek het sommer woema gekry en met SARIE én nog ’n Afrikaanse gesinstydskrif daar uitgestap.

Die foto van my is van buite af deur die venster geneem, want foto’s mag nie daar geneem word nie!

Nou wag ons net dat SARIE haar verskyning hier in Katar gaan maak! Ek slaan weer my SARIE oop, en lees en geniet die kuberkuier by Sally Harmse in Al-Khobar, Saoedi-Arabië. 

Sommer net so kortliks: Ons het geen tekort aan Christelike kerke hier in Katar nie. Die dienste is wel alles in Engels, maar sedert Kersfees 2009 ontvang ons Afrikaanse dienste warm uit Suid-Afrika, gelewer deur ds. Welly du Toit van die Helderbaai-gemeente in die Strand. Dit gebeur elke tweede Vrydag, want hier is ’n Vrydag mos eintlik ’n Sondag! 

Die dienste word ge-Skype in ’n private villa van Hein en Alta Mostert en alle Suid-Afrikaners is welkom om dit by te woon. Die gemeentetal is om en by 35. Ons ontvang dan ook die Heilige Nagmaal.

Elbe Venter, Doha, Katar